IAN WESSELS (1960-2021)
Die bekende RSG-omroeper Ian Van Zyl Wessels is op 14 April 1960 in Caledon gebore.
Hy het aan die Hoërskool Gimnasium in Paarl gematrikuleer waarna hy BA LLB aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het. Daarna het hy as staatsaanklaer in die landdros- en streekhof gewerk.
Hy was daarna deel van die bestuurspanne van Radio Helderberg en OFM, en het van 2009 af die inbelprogram Loslip ses jaar lank op Radio Sonder Grense (RSG) aangebied. Na aanleiding hiervan het hy die boek, Loslippig, met onderwerpe waarin daar in hierdie program gesels is, saamgestel. Hy was ook die aanbieder van Regsake op RSG en die laaste program wat hy aangebied het, is die aand voor sy dood uitgesaai.
Ian was ook bekend daarvoor dat hy ’n baie skerp humorsin gehad het. Hy het in 2011 sy debuut as komediant gemaak met die eenmanvertoning, “Ek’s anoniem”. Hierin het hy mense se reaksies op alledaagse situasies bekyk, onder meer geleenthede waar drank gratis is, stoute kinders in winkels en lastige passasiers op vliegtuie. Hy het ook kommentaar op die Hoekie vir eensames van vroeër jare, wat in elk geval niks anders as ’n anonieme soeke na liefde was nie. Sy vertonings tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) was uitverkoop. Hy het ook twee ander boeke saamgestel, naamlik Genade! EdeLAGbare: humor in die hof, asook Lag sonder grense, ’n grapboek vir volwassenes. Hy het as Certified Professional Commercial Copywriter aan die Radio Advertising Bureau in die Amerikaanse stad Los Angeles gekwalifiseer en advertensies vir verskeie radiostasies geskryf.
Wessels sterf op 60-jarige ouderdom op 19 April 2021 aan kanker en laat sy vrou, Liesl, agter.
Daantjie Badenhorst