JOHAN GELDENHUYS (1947-2025)

Johan Geldenhuys was ’n digter en taalpraktisyn wat verskeie sakewoordeboeke saamgestel het.

Johan Diederik Ungerer Geldenhuys is op 6 Augustus 1947 in Johannesburg gebore. Hy het aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg gematrikuleer en sewe onderskeidings behaal. Hy het in 1971 ’n MA-graad in Engels met die verhandeling getiteld “The development of W.B. Yeats towards intellectual synthesis: a study of his symbols and sources” aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit behaal. As onderwyser het hy klasgegee in Afrikaans, Engels en Latyn en sedert 1979 was hy Hoof van Taaldienste van die Nedcor-groep. Hy was ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy is in 1973 met Sonnette Cecilia Briel getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore.

Hy het by geleentheid Afrikaanse gedigte geskryf wat onder meer in Standpunte gepubliseer is, en sonnette van Shakespeare in Afrikaans vertaal en verwerk. Hy het hierdie uiters moeilike taak met bedrewenheid verrig aangesien hy die gedigte eerder vertolk het as om dit letterlik te vertaal. Daardeur het hy ’n eie stempel en ’n plaaslike idioom daarop afgedruk. Vertalings van Shakespeare laat onvermydelik die inhoud en seggingskrag van die oorspronklike teks verlore gaan, maar die verwerkings was nogtans ’n aanwins vir Afrikaanse poësie en taal. Sy digbundel Taal en twak het kwatryne bevat waarin hy die draak gesteek het met taalteoretici.

In 1991 het hy die eerste weergawe van Sakewoordeboek wat hy saam met Bittie Viljoen-Smook saamgestel het, uitgegee en dit is vier keer hersien en uitgebrei. In 2003 het Pharos die vierde hersiene en uitgebreide weergawe as Nuwe Sakewoordeboek uitgegee. Dit is ’n omvattende Afrikaanse en Engelse sakewoordeboek met Afrikaanse vertalings van Engelse saketerme. Volgens NB-uitgewers het hy altesaam vyf sakewoordeboeke, ’n vertaalhandboek en ’n Engelse stylgids gepubliseer.

Nog een van sy publikasies, Business Writing for South Africans, is ’n gids vir mense in die sakebedryf wat tegniese skryfwerk, die skryf van briewe, aanbiedings en verslae, e-posboodskappe en notules onder die knie wil kry.

Daarby het hy Die apokriewe Evangelies, wat handel oor die Joodse geskrifte wat nie in die Bybel ingesluit is nie, in 1998 die lig laat sien. Sy laaste publikasie was The write stuff: the indispensable guide to English usage.

Hy is op 11 Januarie 2025 in die ouderdom van 77 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst