ANDREW SMITH (1797-1872)
’N VROEË ONTDEKKINGSREISIGER EN NAVORSER
So bekend as die naam van Louis Trichardt is, net so onbekend is in ons land die naam van Andrew Smith. Tog het die twee figure, wat prestasies betref, baie gemeen. Ook Andrew Smith het die onbekende pad noord van die Oranjerivier gevolg, en sy wa-spore het van die stat van Dingaan tot by Kuruman, en van Philippolis tot die suidgrens van die huidige Rhodesië gelê toe Piet Retief nog ’n grensboer was in die Winterberge se wêreld en Louis Trichardt se trek pas begin het.
As oudste seun uit ’n Skotse familie het Smith na Edinburgh gegaan en hom daar as medikus bekwaam. In die jaar 1815 kry hy dan ’n aanstelling by die Britse leër, en in 1820 word hy na die Kaap gestuur as militêre dokter by een van die garnisoensregimente. Op die oosgrens vind hy veel naas sy nering om sy aandag in beslag te neem, want die insektelewe en diersoorte van ons skone land het sy besondere belangstelling gewek.
So stig hy dan in 1825 die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad om soölogiese specimina te bewaar, en word eerste direkteur daarvan. Reeds die jaar tevore het lord Charles Somerset hom na die opperhoof Gaika gestuur as onderhandelaar weens die feit dat hy ’n man was wat respek en vertroue ingeboesem het.
Hy word ook na die noordgrens van die Kolonie gestuur om die Boesmanprobleem te ondersoek, en na sy terugkeer skryf hy ’n belangrike verhandeling “The origin and history of the Bushmen”. Dan vra sir Lowry Cole hom in 1830 om na Natal oor land te reis, en na veel wedervarings bereik hy werklik Dingaan. By sy terugkeer beveel hy Britse kolonisasie in Natal aan in ’n uitvoerige rapport.
Spoedig word Smith se dienste in ’n ander rigting aangevra. In 1833 word in Kaapstad die “Association for the Exploration of central South Africa” gestig, en aan Smith word die leiding aangebied van ’n goed toegeruste ekspedisie om Matabeleland te gaan ondersoek. Smith kry opdrag van die regering om onderweg ook met die inboorlinghoofde “verdrae” te sluit.
Met sewe waens en verskeie blankes in die geselskap, waaronder die kunstenaar Charles Bell, vertrek hy vanaf Graaff-Reinet in Augustus 1834. Die groot dagboek en uitvoerige aantekeninge wat hy op hierdie reis geskryf het, lees vandag nog soos ’n roman. Na meer as ’n eeu is dit in 1939 deur die Van Riebeeck-vereniging in twee dele uitgegee onder redaksie van prof. PR Kirby.
Aan die hand van sy eie geskrifte volg ons Smith op sy pad oor die Oranje. Hy besoek die jong opperhoof Mosjesj wat pas die Basoeto’s verenig het; hy reis dwarsoor die Vrystaat tot by Kuruman en gaan, in geselskap van Robert Moffat, besoek aflê by die gedugte Moselikatse te Mosega. Nog verder noordwaarts gaan hy tot in die gebied van die Bamangwato op die breedtegraad van die huidige Pietersburg. Toe hy in September 1835 daar omdraai, was Trichardt nog in die Vrystaat en die Groot Trek nog nie aan die gang nie.
Begin 1836 was Smith weer in Kaapstad. Sy ekspedisie het ’n massa inligting van botaniese, soölogiese en aardrykskundige aard meegebring, en sy aanraking met Mosjesj, Waterboer en Moselikatse was nie sonder politieke betekenis nie. In 1837 is Smith na Engeland, en daar skryf hy sy groot werk lllustrations of the zoology of South Africa.
Sy ekspedisie het meer as 500 tekeninge (meestal deur Bell) en 1 000 specimina van diere en voëls, asook 1 800 voorwerpe, wapens en werktuie van inboorlinge saamgebring. Baie van die dinge het in die museums te Kaapstad en in Engeland te lande gekom.
Later is Smith snel bevorder in Engeland en was jare lank hoof van die mediese diens van die Britse leër tot sy aftrede in 1857. Een wat in 1872 aan sy sterfbed was, het van hom getuig: “Hy was ’n man van sterk persoonlikheid, onuitputlike werklus en aanhouvermoë, en ’n man van onkreukbare eerlikheid”.
“Started about sunrise from False Fonteyn and reached Kameelboomen in about two hours where we halted for breakfast…Visited by some Buchuanas who reside here and who brought two boks, a bare and a muishond for sale.”– Uit Dagboek van Dr. Andrew Smith, (Prof. P.R. Kirby, uitgegee deur die Van Riebeeck-vereniging) 5 Jan. 1835
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Andrew Smith Diary (Percival R. Kirby) Van Riebeeck-genootskap