JACOBUS STUART (1803-1878)

KRAGTIGE PLEITBESORGER VIR DIE BOERE

Jacobus Stuart was die seun van ds. Martinus Stuart, ’n Remonstrantse predikant wat een van die leermeesters van koning Lodewyk Napoleon van Holland was. Jacobus was die tiende kind uit ’n gesin van dertien kinders. Na ’n deeglike opvoeding het hy staatsamptenaar in die provinsie Noord-Holland geword. Sy rustelose natuur het hom egter laat besluit om in 1836 hierdie betrekking neer te lê.

Toe het hy gaan boer. Hy het ’n landboukolonie gestig, maar daarmee het dit nie goed gegaan nie, en Stuart het al sy besittings verloor. Met sy gesin het hy toe na Suid-Afrika verhuis. In 1851 het hulle in Port Natal (Durban) aangekom. Vandaar het die gesin na Pietermaritzburg gegaan, en kort daarna is hy en sy jongste seun na die Transvaalse Voortrekkers met twee waens vol koopware.

In Potchefstroom het hy o.a. genl. Andries Pretorius ontmoet. Die beroemde Voortrekkerleier het met hom oor die verdeeldheid onder die Boere gepraat, en danksy die bemiddeling van Stuart het A.W.J. Pretorius en genl. A.H. Potgieter tot ’n ooreenkoms gekom. Dit was kort na die sluiting van die Sandrivier-konvensie. Nadat Stuart op Rustenburg as sekretaris van die Volksraad opgetree het, is hy deur ’n ernstige siekte oorval. Na sy herstel moes hy na Pietermaritzburg vertrek. Sy vrou was siek, en sy jongste kind is daar oorlede.

Tydens sy verblyf in Transvaal het Stuart besef dat die jong Transvaalse gemeenskap behoefte aan kennis en geld het. Dit het hom op die gedagte laat kom om ’n maatskappy te stig. Hierdie maatskappy sou grond in die Lydenburgse aankoop en ’n aantal Nederlandse boere en werkers uitstuur om hulle daar te gaan vestig. Die planne het Stuart reeds in 1852 ontwerp en in 1853 is hy weer na Transvaal. Die Volksraad het alles goedgekeur en aan Stuart opgedra om na Nederland af te reis en daar pogings aan te wend om die maatskappy op te rig. Om Transvaal en sy planne te adverteer, het Stuart na sy aankoms in Nederland verskillende vergaderings belê en sy bekende werk “De Hollandsche Afrikanen en hun Republiek in Zuid-Afrika” (Amsterdam, 1854) geskrywe.

Dit is ’n waardevolle, lywige boek, en vandag nog die beste bron van informasie oor Transvaal in die vroeë dae. Tewens is dit belangrik dat Stuart in sy werk die Boere in hul ware gedaante geskilder het. Barrow, Damberger, sendeling Philip e.a. het die Boere as halwe barbare beskrywe, en allerlei leuenagtige berigte oor hulle versprei. Volgens hierdie skrywers sou die Boere onmenslik teenoor die naturelle opgetree het. Stuart het al hierdie valse gerugte weerlê. Maar sy planne het in duie geval. Die maatskappy het nie tot stand gekom nie.

Teen die einde van 1854 het Stuart weer na Transvaal vertrek. Daar is hy in 1855 deur die Volksraad as voorsitter van ’n kommissie benoem om ’n ontwerp-grondwet op te stel. Hierdie ontwerp is in 1857 in ’n gewysigde vorm aangeneem.

Sy oudste dogter (Cornelia) is in Natal, waar hy omstreeks 1860 gewoon het, getroud met kaptein Albert B. Allison. Dit was hulle seun James Stuart Allison wat in 1879 die lyk van kroonprins Napoleon van Frankryk by Nqutu (Natal) gevind het. Die latere senator Henri G. Stuart was ’n kleinseun van Jacobus Stuart, terwyl ’n skoonseun, Karel Johannes de Kok, die skrywer was van Toen en Thans en Empires of the Veld en dit is in sy huis dat Jacobus Stuart in 1878 ontslape is.

Skrywer van De Hollandsche Afrikanen en hun Republieken

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Jacobus Stuart (Eeufeesgedenkalbum, Hervormde Kerk, dr. SP Engelbrecht)