DIE BIGGAR-GESIN

Die Biggar-gesin was handelspioniers te Port Natal, in wat die Natal-kolonie sou word.

Alexander Harvey Biggar is op 29 Oktober 1781 in die Ierse stad Kinsale gebore en was die seun van maj. Harold Robert Biggar en sy vrou Ann. Op 3 Maart 1799 is hy in Skotland getroud met Mary Straton. Alexander het aanvanklik as betaalmeester in die 85ste Regiment gedien voordat hy van 1803 tot 1815 in die Napoleontiese Oorloë geveg het. Hy het ook aan die 1812-oorlog in Noord-Amerika deelgeneem. Hy het tot by die rang van kaptein gevorder, maar is daaraan skuldig bevind dat hy £ 1300 van die Oorlogkantoorfonds verduister het. Nadat hy die geld terugbetaal het, is hy ontslaan.

Hy het saam met ander 1820-setlaars na Suid-Afrika geïmmigreer. Hy het die deposito’s vir dertien ander Setlaar-gesinne betaal en hulle is drie jaar lank aan hom gekontrakteer. Hulle het grond van 81 000 m² gekry wat hulle oor naweke kon bewerk en drie jaar later het hulle hul titelaktes ontvang. Ondanks ’n ooreenkoms het almal, behalwe George Pollard, hom in die steek gelaat of gevra om van hul kontrakte vrygestel te word. Sy gesin, wat toe al nege dogters en ’n seun met die naam van Robert ingesluit het, het op 20 Januarie 1820 aan boord van die HMS Weymouth uit Portsmouth vertrek en sy jongste seun George is tydens die reis gebore. Die skip het op 15 Mei 1820 in Algoabaai aangekom. Op 6 September 1826 is die plaas Woodlands naby Bathurst aan hom toegeken. Tien jaar later, in Mei 1836, het Alexander na die grenshandelspos van Port Natal verhuis, aanvanklik saam met sy seun George. Toe hulle daar aangekom het, het hy die Port Natal Volunteers in 1837 gestig. Dit was die eerste blanke militêre groep van die omgewing maar dit het byna dadelik ontbind. Op die ou einde het Alexander altesaam dertien kinders gehad. Dit het ’n seun by ’n Zoeloe-vrou ingesluit, soos wat die gewoonte onder Engelse mans in hierdie jong Setlaarsgemeenskap was.

In Februarie 1838 was Alexander se agtienjarige seun George omtrent 200 km verder binneland toe by die Voortrekkers se Blaauwekrans-kamp. Toe die nuus dat Piet Retief se geselskap deur die Zoeloes vermoor is, by Port Natal uitgekom het, het Alexander vir Dick King uitgestuur om George, en ander mense by die Voortrekkerkamp te waarsku. King het saam met ’n paar lede van die plaaslike bevolking te voet vertrek. Hoewel hulle dag en nag gestap het en die afstand binne vier dae afgelê het, het hulle daar aangekom nadat die Rensburg-kamp reeds aangeval is. Hulle het die omgewing van die volgende kamp, naby die hedendaagse Estcourt, bereik terwyl die aanval op 17 Februarie 1838 plaasgevind het. Hoewel King van Gerrit Maritz se laer afgesny is, het King aan die verdediging daarvan deelgeneem, maar hy kon nie die dood van George, wat verder binneland toe was, keer nie.

Die handelaars in Port Natal was vasbeslote om ’n afleiding in die slagoffers se guns te maak. Twee Britte van Port Natal, George Biggar en Thomas Halstedt, was onder dié wat onderskeidelik by Blaauwkrans en Dingaan se kraal dood is. Omtrent twintig tot dertig blanke mans, onder wie Dick King, is op 13 April 1838 onder Roberts se bevel geplaas. Hulle het die Tugela-rivier naby sy mond op pad na uMgungundlovu oorgesteek saam met 1 500 Zoeloes wat Dingaan verlaat het. Vier dae later was hulle daartoe in staat om 7 000 beeste van ’n groep Zoeloes wat gevlug het, weg te neem. Hulle het met hierdie beeste na die baai teruggekeer en ontdek dat ’n spioen van Dingaan in hul afwesigheid daar gevind en vermoor is.

Weer eens het hulle na Dingaan se kraal gegaan en die dorpie Ndondakusuka noord van die Tugelarivier op 17 April 1838 bereik. Hierdie kraal was hoog geleë en het behoort aan Zulu, ’n kaptein van Dingaan. Hulle is hier toegesluit deur ’n sterk Zoeloe-mag onder bevel van Dingaan se broer Mpande en sy generaal Nongazala terwyl hulle ’n gevangene, wat waarskynlik as lokmiddel gebruik is, ondervra het. Die Zoeloes se poging om die magte in twee te verdeel, het geslaag. Die Britse magte is in die wanhopige nadraai oorweldig en Robert is saam met sy kamerade dood. Slegs Dick King, Richard (of George) Duffy, Joseph Brown, Robert Joyce en omtrent vyfhonderd Zoeloes kon na die baai ontsnap. Al die blanke inwoners van Port Natal het nege dae lank op die Comet, ’n Britse vaartuig wat toevallig in die baai geanker was, geskuil terwyl die Zoeloes hulle agtervolg het. Toe die Zoeloes teruggeval het, het net Alexander Biggar, Dick King en ses of sewe ander mense teruggekeer om by die hawe te woon. Alexander se dogter Ann Dunn en haar kinders het saam met die Comet vertrek en saam met die sendelinge, jagters en ander handelaars na die Kaap teruggekeer.

Die Voortrekkerkommando wat byeengekom het om wraak teen Dingaan te neem, het as die Wenkommando bekendgestaan. Alexander, wat albei sy seuns verloor het, het hom by hierdie kommando, onder leiding van Andries Pretorius, wat deur ’n honderd (of sewentig, soos sommige mense sê) swart diensknegte bygestaan is, aangesluit. Op 16 Desember 1838 het Alexander aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem sonder dat daar lewensverlies aan die Voortrekkers se kant was. Die Wenkommando het na uMgungundlovu beweeg en toe daar appèl geneem is, het dit geblyk dat Alexander teenwoordig was. Die kommando het daarna by Mthonjaneni in die suide laer getrek van waar Alexander hom by Hans de Lange aangesluit het op soek na Dingaan se versteekte beeste. Die party is deur die Zoeloes teen die Ophate-kloof afgelei en kon nie omsingeling vryspring toe hulle in ’n hinderlaag gelok is nie. Alexander was op sy perd en daar word gesê dat hy sou kon ontsnap, maar hy het by sy amaCele gebly. Hy is op 26 Desember 1838 in die ouderdom van 57 jaar dood, saam met vyf Voortrekkers en ’n paar van sy diensknegte.

deur Daantjie Badenhorst