SAREL ARNOLDUS CILLIERS (1801-1871)

Sarel Cilliers was ’n Voortrekkerleier wat ’n week voor die Slag van Bloedrivier ’n gelofte afgelê het wat tot vandag toe onderhou word.

Sarel Arnoldus Cilliers is op 7 September 1801 in die Klein-Drakenstein-distrik gebore en is in Paarl gedoop. Hy was die vierde van sewe kinders van Charl Cilliers en Elizabeth Catharina Louw.

Met die oorgawe van die Kaap aan die Engelse het sy pa sy geboorteplaas Schoongezicht verkoop en die aangrensende plase Blaauwkrans en Riviertjie in die Agter-Sneeuberg-wyk naby Graaff-Reinet gekoop. Sy pa het met vee geboer, en daarom het Sarel reeds op vyfjarige ouderdom kennis gemaak met die trekkerslewe op ’n ossewa. Op die nuwe plase het hy met die boerdery begin help en elementêre onderrig in die skryfkuns ontvang. Sy pa het hulle soggens en saans uit die Bybel onderrig en Sarel het reeds op tienjarige ouderdom tot bekering gekom.

Op 6 Oktober 1823 is hy met Anna Francina Viljoen, die dogter van Christoffel Viljoen en Aletta Booysen van die plaas Welgevonden in die distrik Winterhoek getroud, en altesaam elf kinders is uit dié huwelik gebore. Nadat hulle aanvanklik op Blaauwkrans geboer het, het hulle die plaas Klippedrif in die Kamdeboo-distrik gekoop, maar nie lank daar gewoon nie. In 1829 het hulle na Nieuw-Hantam (vandag Colesberg) verhuis, waar hulle by Sarel se broer Petrus Gerhardus op Driefontein gewoon het. In 1835 het hy, weens ’n lang droogte, die gebied tussen Modderrivier en die Renosterrivier verken, maar die Kaapse goewerneur het hom toestemming om daarheen te verhuis, geweier.

In 1936 het hy die Kaapkolonie saam met die Voortrekkers onder leiding van Andries Hendrik Potgieter verlaat. Hy was oortuig daarvan dat dit God se wil was dat die Boere die Christen-beskawing noordwaarts moes uitbrei en hy het sy joernaal wat hy in sy laaste lewensjare oor die Groot Trek en die gebeure daarna geskryf het, op hierdie oortuiging gebou. Sy lewensideaal om ’n predikant te word, is nooit verwesenlik nie. Sy gees, soos dit in die joernaal geopenbaar is, was egter deur en deur dié van ’n ortodokse leraar. Hy het ’n leidende rol in die geestelike lewens van die Voortrekkers gespeel deurdat hy as nie-amptelike leraar van die Potgieter-trek die daaglikse godsdiensoefeninge gelei het, en elke Sondag eredienste gehou het. In Mei 1836 het hy die Potgieter-kommissie vergesel op soek na Louis Trichardt. In Oktober 1836 was hy die hooffiguur in die Slag van Vegkop, waartydens ongeveer veertig Voortrekkermans en -seuns die aanval van omtrent 5 000 Matabele-krygers onder leiding van Mzilikazi afgeweer het. In 1837 was hy deel van albei strafekspedisies teen Mzilikazi.

Op 8 Februarie 1837 is Cilliers as een van twee diakens van die eerste kerkraad verkies en daarna het hy die Retief-trek na Natal gevolg. Nadat hy by die Retief-laer op Doornkop gestaan het, het ’n ernstige geskil tussen hom en die erkende predikant, Erasmus Smit, wat reeds op 21 Mei 1837 as leraar bevestig is, ontstaan. Op 14 Januarie 1838 was Cilliers van plan om ’n godsdiensoefening in die laer te lei, maar hy het nie vooraf die kerkraad se toestemming gekry nie. Dit is afgestel; maar die gebeure het Retief se volgelinge in twee geskeur en ’n kwaaivriendskap tussen Cilliers en Smit het ontstaan. Nadat Retief en sy volgelinge vermoor is, het die Zoeloemagte die Voortrekkers op 17 Februarie 1838 aangeval. Cilliers het ’n groot rol gespeel om die laers te ontset en van laer tot laer gegaan om mense te waarsku. In April 1838 was hy deel van die strafkommando onder leiding van Potgieter en Piet Uys; by die Slag van Italeni is hulle egter verslaan en Uys het gesneuwel. In Augustus 1838 was hy deel van die geselskap wat onsuksesvol na die Transoranje en die Kaapkolonie gegaan het om hulp te soek. Gerrit Maritz is intussen oorlede en Potgieter het Transvaal toe getrek. Daarom is die aankoms van Andries Pretorius op 22 November 1838 by die hooflaer aan die Klein-Tugela wyd verwelkom. Daar is dadelik planne vir ’n aanval teen Dingaan gesmee en Cilliers het ’n belangrike rol met die geestelike voorbereiding gespeel. Op 9 Desember 1838 het hy ’n gelofte by Wasbank afgelê dat, indien die Here die oorwinning vir die Voortrekkers sou gee, die dag en datum as ’n Sabbatdag herdenk sou word. Die Slag van Bloedrivier het op 16 Desember 1838 plaasgevind en sowat 470 Voortrekkers, onder Pretorius se leiding, het ’n oorwinning oor tussen 10 000 en 20 000 Zoeloe-impies behaal. Die gelofte wat Cilliers voor dié slag afgelê het, word tot vandag toe onderhou.

Na Bloedrivier het hy hom op die plaas Welgevonden buite Howick gaan vestig, en die bome op die plaas het vir hom ’n goeie inkomste uit hout verseker. Hy is tot Natalse volksraadslid verkies en in 1839 het hy as ouderling ’n leidende rol in die oprigting van die Geloftekerk in Pietermaritzburg gespeel. Op sy aandrang is Daniel Lindley op 16 Januarie 1841 deur die Volksraad en kerkraad as Voortrekkerleraar aangestel en Erasmus Smit is van sy pos onthef. Nadat Natal in 1843 deur Engeland in besit geneem is, het Cilliers hom aan die politieke lewe onttrek. Die gevolge van dié anneksasie was dat een groep terug oor die berg getrek het, ’n tweede die onvermydelike aanvaar het en ’n derde groep, onder wie Cilliers, ’n wag-’n-bietjie-houding ingeneem het. In 1847 het hy egter sy plaas verkoop en hom op die plaas Doornkloof naby die huidige dorp Lindley in die Vrystaat gaan vestig.

Nadat sy vrou in 1852 oorlede is en naby die opstal begrawe is, is hy op 15 Mei 1854 met die weduwee Aletta Elizabeth Loots getroud. Op 3 Oktober 1857 is ’n seun, Pieter Jacobus Willem, uit die huwelik gebore. Na die Bloemfontein-konvensie wat in 1854 selfregering aan die Vrystaat toegestaan het, het Cilliers ’n nuwe grondwet vir die staat opgestel waarin hy meer blyke van vroomheid as staatsmanskap gegee het. Hy het veral op kerklike gebied besig gebly en ywerig deelgeneem aan die korrespondensie oor die vele kerklike twispunte van destyds. Die belangrikste brandpunte was onder meer liberalisme of ortodoksie, Hollandse of Skotse predikante en die aansluiting by die Kaapse sinode al dan nie. In 1862 het hy as ouderling na die Kaap gereis waar hy die gedenkwaardige afskeidsinode waarop Kaapse, Vrystaatse, Transvaalse en Natalse gemeentes vir die laaste keer saam verteenwoordig is, by te woon. By hierdie sitting is die afgevaardigdes van Transoranje deur die omstrede Loedolf-hofbeslissing van hul sittingsreg ontneem en ’n onafhanklike NG-kerk is as gevolg hiervan in 1864 in die Vrystaat gestig. Op hierdie sinode het die Skotse predikante met ds. Andrew Murray as voorsitter, getriomfeer aangesien die mense teensinnig verkies het om eerder ortodoks en Engels-georiënteerd as Hollands en liberaal te wees. Hierdie gebeure was ’n gevoelige terugslag vir Cilliers. In Mei 1865 het hy die eerste Vrystaatse sinodesitting bygewoon en is hy onder meer as lid van die regskommissie aangestel. Tydens die Basoetoe-oorloë van die 1860’s was hy weer aktief betrokke en hy moes sy plaas teen ’n hewige aanval beskerm.

Hy is op 4 Oktober 1871 op sy plaas Doornkloof oorlede.

deur Daantjie Badenhorst