ULRICH GERHARD LAUTS (1787-1865)

VADER VAN DIE PRO-BOER-BEWEGING IN NEDERLAND

Professor Ulrich Lauts was ’n opregte vriend van die Voortrekkers. Hy het die Nederlandse volk wakker geskud, en na sy dood het daar ’n steeds toenemende belangstelling vir die Boere ontstaan. Hy was die eerste skakel tussen Nederland en die Voortrekkers, die vader van die later so kragtige Pro-Boer-beweging in Nederland.

Ulrich Gerhard Lauts was die seun van ’n aansienlike Nederlandse koopman in Amsterdam (Nederland). Aanvanklik opgelei vir die handel, moes die jong seun in die dae van die Franse oorheersing van Nederland ’n ander werkkring soek. Hy het hom op die studie van die Nederlandse taal en letterkunde begin toelê, in 1822 as dosent aan die Atheneum in Brussel begin werk, om vyf jaar later professor aan die Museum vir wetenskappe en lettere in dieselfde stad te word. Van 1830 tot 1840 was hy hoogleraar aan die Nederlandse Instituut vir die Marine in Medemblik. Daarna het hy afwisselend gaan woon in Kampen, Leiden, en in Utrecht, waar hy oorlede is.

Terwyl die Groot Trek in Nederland feitlik nie opgemerk is nie, het Lauts reeds in Junie 1838 sy landgenote op die “Kaapsche Landverhuizers” opmerksaam gemaak. Lauts het in sy jeug in aanraking gekom met majoor Van Buchenröder en Van Hogendorp – twee persone wat baie geïnteresseerd was in Suid-Afrika, en het ’n blywende belangstelling vir ons land behou. In 1846 het hy in aanraking gekom met die bekende Johan Arnold Smellekamp, die Nederlandse opperkoopman wat die Voortrekkers in Natal ontmoet het. As aanmoediging vir sy landgenote om ’n handelsekpedisie na die Voortrekkers met geld te ondersteun, skrywe prof. Lauts in 1847 sy “Kaapsche Landverhuizers”, die oudste geskrif wat oor die Voortrekkers verskyn het.

Waar die handelaars finansiële belange beoog het, daar wou professor Lauts aan die Voortrekkers geestelike steun verskaf. In 1837 het die Kaapse Sinode ’n herderlike brief uitgegee waarin die Trek afgekeur is. Tot diep in die veertigerjare het die Kaapse Kerk geen geestelike steun aan die Voortrekkers in die onherbergsame binneland verleen nie, en dit was ’n ware verligting vir die Voortrekkers in die Oorvaalse toe professor Lauts in 1852 daarin slaag om ds. Dirk van der Hoff, ’n leraar van die Ned. Hervormde Kerk, te beweeg om Nederland te verlaat en hom na Transvaal te begewe. In Mei 1853 is hy op Potchefstroom verwelkom.

Professor Lauts was ’n sterk vereerder van die Voortrekker-generaal A.W.J. Pretorius, en nadat hierdie groot figuur in ons geskiedenis oorlede is, het professor Lauts die eerste lewensbeskrywing oor hom saamgestel onder die titel: “Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius; de held van Zuid-Afrika.” Ook hier het prof. Lauts baanbrekerswerk verrig. In 1857 is hy as die eerste diplomatieke verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Republiek in Nederland benoem.

Sy belangstelling was nie alleen tot Transvaal beperk nie. Ook aan die jong Oranje-Vrystaat het prof. Lauts heelwat aandag gewy en bekwame Nederlanders het op sy aandrang hul geboorteland verlaat om die Boere te help om hul jong republieke op stewige grondslae te plaas. ’n Paar van die meer bekende Nederlanders wat, deur sy geskrifte en koerantartikels aangemoedig, besluit het om na Suid-Afrika te gaan, was Jacobus Stuart, die skrywer van “De Hollandsche Afrikanen en hunne Republiek in Zuid-Afrika”, die latere Superintendent van Onderwys in die Suid-Afrikaanse Republiek, Hendrik Stiemens, en ds. A.J. Begeman.

Persoonlik was prof. Lauts nooit in die land van sy vriende nie. President Burgers, en na kom president Kruger, het egter die vrugte van sy baanbrekerswerk gepluk. Ulrich Gerhard Lauts, die warm vriend van Suid-Afrika, het uit die verre noorde boustene gestuur vir die opbou van ons land en volk in die vorige eeu.

Hy het die roepstem van Trichardt en sy mense gehoor en verstaan. Hy wou hierdie soekers na vryheid nie laat ondergaan nie, maar hulle help waar dit ook al moontlik was. Daarom eer Suid-Afrika en Nederland sy nagedagtenis.

Eerste verteenwoordiger van Transvaal in Nederland

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck

Foto: Portret in 1939 in Nederland verskyn