MARTHINUS OOSTHUIZEN (1819-1897)

STORM MET AMMUNISIE DEUR ZOELOE-HORDES

Solank as wat daar Suid-Afrikaanse geskiedenis verkondig word, sal die naam van Marthinus Oosthuizen genoem word, nie as groot staatsman, politikus of militêre leier nie, maar as die Wolraad Woltemade van die Groot Trek, wat op een moment in sy lewe getoon het dat hy sy naaste liewer het as homself en bereid was om ’n taak te onderneem waarvoor ander ten einde hulleself te beskerm sou teruggedeins het.

Eweas die daad van ’n Woltemade lewe die reddingsdaad van Marthinus Oosthuizen, die held van Rensburgkoppie, dan ook onsterflik voort as ’n besieling nie alleen vir elke Afrikaner nie, maar vir elke mens.

Marthinus Jacobus Oosthuizen, seun van Marthinus Oosthuizen en Dirkie Elizabeth Marais, is gebore op die plaas Olifantshoek, distrik Uitenhage, waar hy opgegroei het, en is gedoop op 8 April 1819. Sy eerste skoolopleiding het hy te Olifantshoek en daarna aan ’n Engelse skooltjie te Salem ontvang.

Hy het dit egter nie ver gebring nie toe die Groot Trek plaasvind en hy en sy ouers onder leiding van Gert Maritz die Kaapkolonie verlaat.

Na die verkiesing van Piet Retief as goewerneur het hy met sy familie hul leier na Natal gevolg, en so het dit gekom dat op die aand van 16 Februarie 1838 ook hulle laertjie op die terrein gestaan het waar die vreeslike moord daardie nag plaasgevind het.

Dit was by hierdie geleentheid wat Oosthuizen sy onsterflike roem verwerf het. Nadat hy sy huisgenote na ’n veiliger plek gebring het, het hy teen die [rassistiese term in oorspronklike bron]hordes aangestorm en urelank stoksielalleen teen hulle geveg.

Tydens sy verbete worsteling het hy op ’n plek afgekom waar ’n klompie mense deur die [rassistiese term in oorspronklike bron]s op ’n koppie vasgekeer, besig was om hulle met hulle laaste bietjie ammunisie te weer teen ’n geweldige oormag. Binne enkele oomblikke sou hulle geen enkele patroon meer hê nie en die prooi van die barbare word.

Toe Oosthuizen hulle moeilikheid bemerk, het hy haastig na hulle laertjie op die vlakte geja, soveel skietgoed as hy kon dra, daar geneem en, geweer oor die skouer, deur die [rassistiese term in oorspronklike bron]hordes geja om die vasgekeerde mense te gaan help.

Dit was ’n daad so dapper en moedig as mens op aarde kon bedink, en dit het dan ook heerlike vrugte afgewerp. Die weerstand van die bende op die koppie wat deur Oosthuizen ongedeerd bereik is, het onmiddellik verstyf en die aanval van die [rassistiese term in oorspronklike bron]s is afgeslaan.

Sy groot daad van offervaardigheid is dadelik deur almal erken en verkondig, en het hom binne enkele weke van ’n onbekende tot een van die bekendste Voortrekkers verhef.

Aan die strafekspedisies teen die Zoeloes wat nou gevolg het, het hy deelgeneem en hom daarna te Estcourt gevestig. Hy het vervolgens die veldtog teen Napaai en die daaropvolgende oorlog teen die Engelse meegemaak.

Na die verlies van die onafhandlikheid van die Natalse Republiek onderwerp hy hom aan die Britse gesag. Hy het egter, soos hy met die Eerste Vryheidsoorlog en die Jameson-inval bewys het, sy rasgenote nie vergeet nie, en sy belangstelling vir en simpatie met die Transvalers duidelik laat blyk.

Hy had sy naaste liewer as homself

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: MJ Oosthuizen (De Goede Hoop)