JOHN VORSTER (1915-1983)

Net een persoon het die ampte van eerste minister en seremoniële staatspresident ingevolge Suid-Afrika se grondwet van 1960 beklee.

Balthazar Johannes (John) Vorster is op 13 Desember 1915 in Jamestown in die Oos-Kaap gebore. Hy het sy hoërskoolloopbaan op Sterkstroom voltooi en twee grade aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, naamlik BA in die regte in 1936 en LLB in 1938. Hy was primarius van die John Murray-huis (Dagbreek) op Stellenbosch, lid van die studenteraad en voorsitter van die Junior Nasionale Party. Nadat hy sy studies voltooi het, was hy griffier van die Regterpresident van die Kaapprovinsie. Aan die einde van 1938 het hy as prokureur in Port Elizabeth begin praktiseer. Tini Malan, wat hy reeds in sy studentejare ontmoet het, het daar as maatskaplike werkster gewerk, en hulle is op 20 Desember 1941 in Worcester getroud.

Vroeg in 1940, toe die Tweede Wêreldoorlog aan die gang was, is Vorster tot generaal in die Ossewa- Brandwag, wat ontstaan het net na die simboliese ossewatrek van 1938, bevorder. Hoewel daar met die Nasionale Party ooreengekom is dat die Ossewa- Brandwag bloot ‘n kultuurorganisasie sou wees, het die organisasie onder leiding van dr. Hans van Rensburg ook die politiek betree. Die organisasie was gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog , asook die gematigde houding van die Nasionale Party (NP) , op daardie stadium die amptelike opposisie. Op 23 September 1942 is Vorster in hegtenis geneem vanweë sy verbintenis met dié organisasie en van 17 Desember daardie jaar af by ‘n interneringskamp op Koffiefontein in die Vrystaat aangehou. Hy is in Junie 1943 as kampleier aangewys en hy was die tussenganger tussen die geïnterneerdes en die kampkommandant. Hy is op 11 Februarie 1944 vrygelaat, waarna hy hom as prokureur in Brakpan gevestig het.

Tydens die algemene verkiesing van 1948 is Vorster as kandidaat vir die Afrikanerparty onder leiding van Klasie Havenga in die kiesafdeling Brakpan aangewys. Die verkiesingsooreenkoms tussen Havenga en dr. D.F. Malan het egter bepaal dat geen voormalige lid van die Ossewa-Brandwag as kandidaat benoem kon word nie en die NP het beswaar gemaak teen sy benoeming. Vorster het toe besluit om himself as onafhanklike kandidaat verkiesbaar te stel. Die NP-leiers, onder wie dr. H.F. Verwoerd wat op daardie stadium redakteur van Die Transvaler was, het Nasionaliste aangeraai om nie vir Vorster te stem nie en tog het hy met net twee stemme teen die kandidaat van die Verenigde Party, A.E. Trollip, wat ironies genoeg later in Vorster se kabinet gedien het, verloor. In April 1953 was daar weer ‘n algemene verkiesing en Vorster is tot volksraadslid vir die kiesafdeling Nigel verkies.

Dr. Verwoerd is in 1958 as opvolger vir adv. J.G. Strijdom tot eerste minister verkies nadat Strijdom in Augustus daardie jaar oorlede is. Verwoerd het Vorster as adjunkminister van onderwys, kuns en wetenskap en van volkswelsyn en pensioene aangestel. Hy is onder meer die taak opgelê om die Wet op Uitbreiding van Universiteitsopleiding uit te brei. Die wet het voorsiening gemaak vir die stigting van universiteite vir anderskleuriges en blanke universiteite is verbied om nie-blanke studente te aanvaar. In Augustus 1961 is Vorster as minister van justisie, polisie en gevangenisse aangestel en aangesien daar sedert die Sharpeville-betoging in Maart 1960 verskeie rewolusionêre organisasies in Suid-Afrika bedrywig was, was Vorster se portefeulje gedurig in die kollig. Hy het hierdie portefeulje beklee tydens die Rivonia-verhoor van 1964, toe onder meer Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki, Ahmed Kathrada en Denis Goldberg aan sabotasie skuldig bevind is en lewenslange tronkstraf opgelê is.

Op 6 September 1966 is dr. Verwoerd in ‘n sluipmoordaanval dood, en ‘n week later is Vorster, wat destyds net 50 jaar oud was, as sy opvolger aangewys. Vorster was ‘n uitgesproke volgeling van Verwoerd, wat hy as ‘n mentor beskou het en wat hy verafgod het. Hy het voortgegaan met die inwerkingstelling van apartheidswetgewing, maar hy het dit ten doel gestel om ‘n aktiewe bydrae tot die vraagstukke rondom Rhodesië en Suidwes-Afrika (vandag Namibië en Zimbabwe) te lewer en kontak met leiers van ander Afrika-lande te maak. Op 17 Februarie 1967 het hy in ‘n toespraak in Parow beklemtoon dat Suid-Afrika deel van die internasionale gemeenskap moes wees . Hy het ‘n maand tevore sy vredesoffensief begin toe hy samesprekings met hoofman Leabua Jonathan van Lesotho gevoer het. In Mei 1970 het hy ‘n ampsbesoek aan pres. Kamuzo Banda van Malawi gebring. Die daaropvolgende vier jaar het die toenaderingsbeleid grootliks tot stilstand gekom, onder meer as gevolg van die stigting van die Herstigte Nasionale Party (HNP), maar teen die einde van 1974 het die beleid weer momentum gekry as gevolg van die staatsgreep in Portugal en die onafhanklikwording van die twee Portuguese kolonies in Suider-Afrika, naamlik Mosambiek en Angola. Suid-Afrika en die buitewêreld was onbewus van Vorster se staatsbesoek aan die Ivoorkus op 21 en 22 September 1974, waar hy samesprekings met dié land se eerste president, dr. Felix Houphouet-Boigny gevoer het. Op 23 Oktober 1974 het Vorster een van die mees belangwekkende toesprake in die parlement gelewer en klem gelê op vrede, vooruitgang en ontwikkeling in Afrika. Pres. Kenneth Kaunda van Zambië het dié toespraak beskryf as “die stem van rede waarop Afrika gewag het.” Teen die einde van 1975 het Vorster elf Afrika-leiers in vyf maande ontmoet.

Vorster se benadering tot sportbetrekkinge was een redes hoekom regsgesindes ontevrede was. Nadat dr. Verwoerd tydens sy Loskopdam-toespraak in September 1965 aangekondig het dat alle vorme van veelrassige sport in Suid-Afrika afgekeur sou word, is Suid-Afrika op sportgebied toenemend geïsoleer. In April 1967 het Vorster egter aangekondig dat Suid-Afrika nie aan die buiteland kon voorskryf oor die samestelling van spanne nie. Notgans is die Suid-Afrikaans-gebore krieketspeler Basil d’Oliviera toestemming geweier om Suid-Afrika as deel van die Engelse krieketspan binne te kom aangesien Vorster geglo het dat D’Olviera om politieke redes by die span ingesluit is. Twee jaar later is Suid-Afrika uit die Internasionale Krieketraad geskop. Nadat die HNP in 1970 by die stembus verneder is, het Vorster aangekondig dat Maori-spelers en toeskouers die toer deur Suid-Afrika van die Nieu-Seelandse rugbyspan, die All Blacks, kon meemaak. Hy het verder gesorg vir die normalisering van sportbetrekkinge en in Januarie 1978 het Matthews Batswadi die eerste swart atleet geword wat Springbok-kleure verwerf het.

Vorster het Verwoerd se beleid van blanke eenheid verder gevoer en met die algemene verkiesing van November 1977 het die NP sy grootste oorwinning by die stembus behaal deurdat die party 135 setels verower het. Dit was ‘n toename van 17 setels,wat veral te danke was aan die toenemende steun van Engelssprekende kiesers. Ten spyte van toeneoemde vyandigheid in die buiteland het Vorster egter voortgegaan met sy beleid van afsonderlike ontwikkeling. Transkei en Bophutatswana het onderskeidelik op 26 Oktober 1976 en 6 Desember 1977 “onafhanklik” geword, maar die buitewêreld het geweier om hierdie twee “onafhanklike state”, asook venda en Ciskei wat later gevolg het, te erken. In Soweto was daar ook ‘n toenemende ontevredenheid oor Afrikaans as onderrigtaal, en op 16 Junie 1976 het grootskaalse onluste in weerstand daarteen uitgebreek. Hierdie onluste het later na ander dele van die land versprei en die toestand het eers in 1977 na normal teruggekeer. Vorster het die idee van ‘n afsonderlike staat vir bruin mense verwerp, en eerder ontwikkeling in afsonderlike residensiële gebiede voorgestaan.

Op 20 September 1978 het Vorster sy uittrede as eerste minister weens swak gesondheid aangekondig, maar hy het homself vir die amp van staatspresident verkiesbaar gestel nadat dr. Nico Diederichs in Augustus 1978 oorlede is. Op 28 September 1978 is hy deur mnr. P.W. Botha as eerste minister opgevolg en op 10 Oktober 1978 is hy as staatspresident ingehuldig. Vorster se ampstermyn as staatspresident het egter nie lank geduur nie, aangesien hy betrek is by ‘n propagandaveldtog om die vyandige gesindheid teen Suid-Afrika te beveg. Hierdie veldtog het later as die inligtingskandaal bekendgestaan. Botha het ‘n kommissie, onder leiding van regter Rudolf Eerasmus, aangestel om die bedrywighede van die departement van inligting te ondersoek. Op 4 Junie 1979 het die Erasmus-kommissie sy bevindinge bekendgemaak. Hoewel Vorster geen finansiële voordeel getrek het uit die wanbesteding van staatsfondse nie, het sy stilswye nadat hy ingelig is oor die stigting van die koerant The Citizen, wat ‘n Engelstalige spreekbuis vir die NP sou wees, beteken dat hy mede-verantwoordelik vir die ongewymdhede in die departement van inligting was. Hy het dieselfde dag as staatspresident bedank en uit die openbare lewe getree.

Hy is op 10 September 1983 in die ouderdom van 67 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst