ANTON HARTMAN (1918-1982)
Anton Hartman was ’n Suid-Afrikaanse dirigent wat ’n groot rol in Suid-Afrikaanse musiek in die middel van die twintigste eeu gespeel het.
Anton Carlisle Hartman is op 26 Oktober 1918 in Springs naby Johannesburg gebore en het arm grootgeword. Sy pa was ’n mynwerker en marathonatleet en sy ma ’n musiekonderwyseres. Toe Hartman sewe jaar oud was, het sy ma vir die eerste keer vir hom klavierlesse gegee. Hy het goeie vordering gemaak en het gou solo-klavierwerke begin speel. Sy susters kon ook baie goed sing. Die gesin het ook ’n groot plateversameling gehad en gereeld na musiek geluister. Hy het in 1934 aan die Hoërskool Monument op Krugersdorp gematrikuleer. As kind en tiener was hy betrokke by Die Voortrekkers en hy het ’n leiersrol in sy kommando gespeel. Die gestruktureerde aard van Die Voortrekkers het baie goed gepas by sy persoonlikheid, wat ook gevorm is deur finansiële swaarkry en die wil om iets in die lewe te bereik.
Hy het sy voordraerlisensiaat in klavier aan UNISA verwerf, asook sy BMus-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in 1939, met Adolph Hallis as sy dosent. Hartman het in Desember 1939 by die SAUK begin werk en hy het begin deur klassieke musiek vir die Afrikaanse radiodiens op te stel. In 1946 het hy die MMus-graad (cum laude) aan Wits verwerf met ’n verhandeling getiteld “’n Oorsig van Europese musiek in Suid-Afrika”. Terwyl hy gestudeer het, het hy in dirigeer begin belangstel, maar ook in die afrigting van klein kore, musiekensembles, Afrikaanse volksmusiek en kunsmusiek.
Die SAUK het hom die geleentheid gegee om kennis te maak met die uitsaaier se simfonieorkes deur middel van repetisies, opnames en uitvoerings; laasgenoemde het gereeld plaasgevind en is regstreeks oor die radio uitgesaai. Hy het besluit dat hy ’n dirigent wou word, en toe hy tydelik in 1947 na Kaapstad oorgeplaas is, het hy by Albert Coates klas geneem. Hierdie groeplesse is gedeel met Ernest Fleishman, Blanche Gerstman en Hannes Uys, die pa van die pianis Tessa Uys en die akteur Pieter-Dirk Uys. In 1948 is hy aangestel as die Johannesburgse Simfonieorkes en die Wes-Randse Munisipale Orkes van Krugersdorp. Albei was amateur-orkeste.
Hy is op 1 Julie 1944 getroud met Josina Wilhelmina (Jossie) Boshoff, wat as ’n sekretaresse by die SAUK gewerk het. Geen kinders is uit die huwelik gebore nie. Die Melanie Pollak-beurs en die Union Post Graduate-beurs het hom in staat gestel om oorsee te studeer. Nadat die SAUK studieverlof aan hom toegestaan het, het hulle in 1949 na Europa vertrek. Hy het sy studie in dirigering, komposisie, viool en klavier voortgesit en in 1950 en 1951 is hy tydens die Internasionale Somer-akademie in die Oostenrykse stad Salzburg as beste dirigeerstudent aangewys. Hy het in 1953 en 1955 as gasdosent by die somerakademie opgetree en is genooi om in Wene, Hamburg en Salzburg saam met bekende orkeste op te tree. Talle soortgelyke uitnodigings het later jare gevolg, en hy het in 1966 die Santa Cecilia-orkes in Forum Romanum in die Italiaanse hoofstad Rome gedirigeer.
Die SAUK het Hartman in 1952 as hulpdirigent van die destydse radio-orkes aangestel en ’n paar jaar later het hy ’n belangrike rol met die totstandkoming van die radio-simfonieorkes gespeel nadat die Johannesburgse Simfonieorkes tot niet gegaan het. In 1958 het hy ’n uitvoering van “In die droogte” van John Joubert gedirigeer. Dit is aangebied deur die Nasionale Operavereniging, wat in 1955 gestig is, en in 1957 met die Operavereniging van Suid-Afrika saamgesmelt het om die Suid-Afrikaanse Operafederasie te skep. Toe die Johannesburgse Stadskouburg in 1962 in gebruik geneem is, was hy die dirigent van die Afrikaanse uitvoering van “Die verhale van Hoffman” deur Jacques Offenbach.
Die reorganisasie wat gevolg het op die sentralisasie van die radiowese in Johannesburg het gemaak dat die SAUK die pos van hoof van musiek in Johannesburg geskep het. Hartman is in hierdie pos aangestel maar hy het nie van sy werk as dirigent afstand gedoen nie. In 1964 het die SAUK hom op sy versoek van sy administratiewe pligte onthef sodat hy hom aan sy werk as hoofdirigent van die SAUK se orkes kon wy. Daarom het Gideon Fagan as hoof van musiek by dié uitsaaier opgetree totdat hy in 1967 met pensioen gegaan het. Hartman is daarna opnuut in hierdie pos aangestel en tot 1977 het hy hom vir die saak van Suid-Afrikaanse musiek beywer. Volgens dr. Jan Schutte, die eertydse direkteur-generaal van die SAUK, was die bevordering van Suid-Afrikaanse musiek vir Hartman ’n roeping en ideaal wat sy lewe lank by hom gebly het. Hy het dit ’n vaste beginsel gemaak om ’n werk van ’n Suid-Afrikaanse komponis by sy programme in te sluit wanneer dit vir hom moontlik was. Deur sy toedoen is opdragte gegee aan Suid-Afrikaanse komponiste, onder wie Stefans Grové, Arnold van Wyk, Hubert du Plessis en Hans Roosenschoon. Hy was meestal ook die dirigent van die eerste uitvoerings van dié komponiste se werke. Verder was hy die stukrag agter die samesnoering van die onderskeie streeksorkeste onder een simfonieorkes wat van 1971 af as die Nasionale Simfonieorkes van die SAUK bekendgestaan het.
Sy skakeling as musiekhoof van die SAUK met buitelandse uitsaai-organisasies, dirigente en kollegas in die musiekwêreld het ’n beter begrip van Suid-Afrikaanse musiek in die buiteland gevestig. Hy het besoeke na Suid-Afrika van onder meer Igor Strawinski, Henk Badings en Karlheinz Stockhausen bewerkstellig.
Die jeug was vir hom belangrik, veral die skep van opleidings- en ander geleenthede vir jong musici. In die 1960’s en vroeë 1970’s het hy sy verbintenis met die FAK, van wie hy sedert 1953 musiekvoorsitter was, gebruik om kursusse oor skoolmusiek in verskeie dorpe en stede in Suid-Afrika en Namibië van stapel te stuur. Sy besoeke aan skole het skoliere vir die eerste keer aan lewende orkesmusiek bekendgestel. In 1970 het hy, as erelid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekonderwysers, ’n deurslaggewende rol gespeel in die aanbieding van orkeskursusse tydens spesiale orkeskampe vir kinders. Hy het by hierdie geleenthede as adviseur en soms ook as musiekdirekteur opgetree.
Nadat hy in 1977 met pensioen uit die SAUK se diens getree het, het hy ’n professoraat by Wits aanvaar. Hier het hy as hoof van die departement musiek met geesdrif aan ’n akademiese loopbaan begin bou.
Sy belangstellingsveld het egter ver buite musiek gestrek. Hy het ’n aktiewe aandeel in die kultuurlewe gehad en benewens sy lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hy 36 jaar lank op die musiekkomitee van die FAK gedien. Hy was byna deurentyd voorsitter van dié komitee. Hy het sitting in verskeie komitees van die departement van nasionale opvoeding gehad, hy was ’n raadslid van die Randse Afrikaanse Universiteit en in 1981 was hy deel van die Kommissie van Ondersoek na die Skeppende Kunste. Hy was ook betrokke by die daarstelling van Afrikaanse musiekterminologie en die samestelling van ’n Suid-Afrikaanse musiek-ensiklopedie, waarvan die eerste Afrikaanse deel in 1980 onder redaksie van prof. dr. JP Malan verskyn het.
In 1962 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sy erepenning vir musiek aan Hartman toegeken, terwyl die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van die Witwatersrand onderskeidelik in 1968 en 1975 eredoktorsgrade aan hom toegeken het. Hy het die SAUK-orkes gedirigeer tydens die inwyding van die Aula en die amfiteater van die Universiteit van Pretoria. In 1977 het hy ’n Artes-toekenning ontvang en in 1979 die Halfeeufees-gedenktoekenning van die FAK.
Hartman is op 3 Februarie 1982 in die ouderdom van 63 jaar oorlede. Die FAK het ’n goue erepenning vir volksdiens postuum aan hom toegeken, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ’n erepenning vir die bevordering van musiek ook postuum aan hom toegeken. Daarby is ’n straat in Vorna Valley in Midrand na Hartman vernoem.
deur Daantjie Dinamiet
Genealogiese gegewens opgestel deur Isabel Groesbeek
Anton Carlisle HARTMAN (1918-1982) is te Geduld, Springs op 26.10.1918, in die tydperk van die Groot Griep, gebore.
Hy is die derde kind en oudste seun van Stephanus Lionel HARTMAN (1886-1966) en Maria Barbara van Amstel van RYNEVELD (1888-1972). Anton se pa het as jong man ’n heenkome op die Witwatersrandse goudvelde gesoek en te Kroonstad op 12.06.1912 met ’n Vrystaatse nooi getroud.
Anton se ma Miemie was ’n musiekonderwyseres. Pa Lionel was ook ’n Suid-Afrikaanse tienmyl- en marathonkampioen.
Anton se voorname is ’n kombinasie van sy Afrikaanssprekende oupa van dist. Barkly-Wes Anton Michael HARTMAN (1853-1929) se eerste voornaam en die van/familienaam van sy Engelssprekende ouma aan vaderskant uit die Oos-Kaap, Catherine HARTMAN née CARLISLE (1864-1939).
Anton is gebore in die sesde geslag van die HARTMAN(N)-familie en is ’n nasaat van die stamouers, Johann Adam HARTMAN(N) (1728-1801) en Maria Elizabeth de BEER (dogter van stamouers Matthys Andries de BEER & Hilletje SMIT). Die betrokke stamvader het ongeveer 1748 as VOC-soldaat na die Kaap gekom en was later ’n skoenmaker te Kaap en Stellenbosch.
In Anton se Hartman(n)-stamlyn is daar ook o.a. ’n Van NIEKERK-oumagrootjie en ’n Du PREEZ-ooroumagrootjie.
Anton was sedert 1944 getroud met Josina Wilhelmina (Jossie) née BOSHOFF (Pierre-dogter).
Anton sterf te Johannesburg op 3.02.1982.
In sy loopbaan dien hy o.a. as hoofdirigent van die SAUK, as lid van die Uitvoerende Komitee van die FAK, as voorsitter van die FAK se Musiekkommissie, Musiekadviseur van OPSA en Assessorlid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir musiekkuns is o.a. in 1962 aan hom toegeken.
As jy ook wonder oor jou persoonlike familie-erfenis, skakel gerus die FAK Genealogielessenaar by isabel@kultuurtuiste.org.za om jou by te staan in jou speurtog.
BRONNE:
Argiefbronne:
Boedeldokumente, doop- en huweliksregisters.
Literatuur:
HANDHAAF (April 1964, p.18-19).
HARTMAN Mia (broerskind): Anton Hartman: dis sy storie. (Groenkloof, 2002).