ANTON RUPERT (1916-2006)
Anton Rupert was ’n bekende Suid-Afrikaanse sakeman en omgewingsbewaarder.
Anthony Edward Rupert is op 4 Oktober 1916 op Graaff-Reinet gebore, en het later in Pretoria gaan studeer. Hy moes sy studies egter weens ’n gebrek aan geld staak; sy omstandighede het later só verbeter dat hy sy graad in chemie kon verwerf. Hy is in 1941 met Huberte Goote, wie se pa van Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer het, getroud. Drie kinders, Johann, Hanneli en Anthonij, is uit die huwelik gebore.
Hy het eers ’n droogskoonmakery begin, maar met ’n belegging van tien pond het hy die tabakmaatskappy Voorbrand saam met twee medebeleggers begin. Die sigarette is aanvanklik in sy motorhuis vervaardig, maar later het die onderneming uitgebrei en die tabak- en nywerheidsreus Rembrandt geword. In 1972 is Rembrandt se buitelandse tabakbelange in die maatskappy Rothmans gekonsolideer. Hy was die bestuurder van die transformasie van Rembrandt wat verdeel het in Remgro en Richemont. Remgro is ’n beleggingsmaatskappy met mynbou-, nywerheids- en finansiële belange terwyl Richemont, wat in Switserland geleë is, luukse artikels vervaardig. Richemont besit handelsmerke soos Cartier, Alfred Dunhill, Sulka en Montblanc. Hierdie ondernemings bestaan uit honderde maatskappye wat in 35 lande op ses kontinente teenwoordig is. In 1995 het Rembrandt en Richemont hul tabakbelange gekonsolideer in Rothmans International, op daardie stadium die vierde grootste vervaardiger van sigarette ter wêreld. In 1999 het Rothmans International saamgesmelt met British American Tobacco; die wêreld se tweede sigaretvervaardiger. Rupert se oudste seun Johann, is die uitvoerende hoofbestuurder van Richemont en die voorsitter van Remgro.
Die Rupert-familie is ook betrokke by die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Hulle besit die L’Ormarins- en La Motte-landgoedere en het ’n belang by Rupert & Rothschild Vignerons; die wynmaakvennootskap tussen die Rupert- en Rothschild-families. Ten tyde van sy dood in ’n motorongeluk in 2001 was Rupert se jongste seun, Anthonij, die hoof van Rupert & Rothschild Vignerons. Hulle het verder beheer oor twee van Suid-Afrika se grootste wynhandelshuise, naamlik Stellenbosch Farmers Wineries en Distillers Corporation, wat tesame een uit elke ses bottels wyn en omtrent 80% van Suid-Afrika se brandewyn produseer. Hierdie twee maatskappye het saamgesmelt om Distell te vorm. Die Rupert-familie besit ook die tweede grootste ketting-hospitaalgroep Medi-Clinic.
Rupert was in die 1960’s ook by die politiek betrokke. In 1966 is ’n veldtog van stapel gestuur om dr. Hendrik Verwoerd as eerste minister uit die kussings te lig; Verwoerd is ’n maand later in ’n sluipmoordaanval dood. Die Nasionale Party in die Kaapprovinsie het Rupert as plaasvervanger vir Verwoerd voorgestel, aangesien dit belangrik was om Suid-Afrika se beeld in die buiteland te bevorder sonder om van apartheid af te sien. Advokaat John Vorster is egter as Verwoerd se opvolger aangewys. Rupert was van die 1940’s af ook lid van die Afrikaner Broederbond, maar hy het die organisasie mettertyd as belaglik beskryf en sy lidmaatskap laat verstryk.
Rupert was betrokke by natuurbewaring en was ’n stigterslid van die World Wildlife Federation (WWF). Hy was voorsitter van die Suid-Afrikaanse afdeling, en onder sy leiding het oorgrens-bewaringsgebiede soos die Groter Limpopo Oorgrenspark tot stand gekom. Met ’n aanvangskenking van R 1,2 miljoen deur die Rupert Natuurstigting is die “Vredeparkstigting” op 1 Februarie 1997 gestig om die totstandkoming van oorgrensbewaringsgebiede te bevorder. Oudpresident Nelson Mandela en prins Bernhard van Nederland was saam met Rupert die stigtingsbeskermhere van die Peace Parks Foundation.
Rupert is op 18 Januarie 2006 in die ouderdom van 89 jaar oorlede, omtrent drie maande nadat sy vrou oorlede is.
deur Daantjie Badenhorst