ARRIE DE BEER (1942-2021)

Die bekende joernalistiekdosent en buitengewone professor in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch, prof. Arrie de Beer, is op 20 Oktober 2021 in die ouderdom van 79 jaar oorlede.

Arnold Stephanus de Beer is op 10 Junie 1942 op Standerton in Mpumalanga gebore en het in 1960 aan Grey-kollege in Bloemfontein gematrikuleer. In 1964 het hy ’n BA-graad met perswetenskap en staatsleer aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO; deesdae die Noordwes-Universiteit) behaal, gevolg deur ’n BA (Hons) in perswetenskap met onderskeiding die volgende jaar. In 1981 het hy sy PhD verwerf met ’n proefskrif getiteld “Die professionalisering van die joernalistiek”. In 1977 het hy ’n MA in joernalistiek met onderskeiding aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) behaal met sy verhandeling getiteld “Die operasionalisering van die begrip nuuswaardigheid”. Verder het hy ’n MIJ (straight A’s) in internasionale joernalistiek aan die Baylor-universiteit in die Verenigde State van Amerika behaal.

Sy navorsingsonderwerpe was onder meer die rol van die nuus en die nuusmedia in Suid-Afrika, nuusvloei en joernalistieke onderrig. Hy het ’n B-navorsingsgraad van die Nasionale Navorsingstigting ontvang. Hy was tot in 2019 lid van die uitvoerende komitee en Afrika-koördineerder van die Worlds of Journalism Study, die grootste internasionale navorsingsprojek tot nog toe oor die rol van joernaliste oor die wêreld heen, met 27 500 joernaliste in 67 lande wat deelgeneem het. Hy was ’n mederedakteur van Journalistic Cultures Around the World, wat oor hierdie navorsing verskyn het. Hierdie boek het in 2020 die Journal for Press-prys ontvang vir die beste boek in joernalistiek, met inagneming van boeke wat in die voorafgaande tien jaar internasionaal verskyn het.

In 1980 was hy, te midde van die internasionale akademiese boikot teen Suid-Afrika, die stigter van die vaktydskrif Ecquid Novi: Africa Journalism Studies. Dit was die eerste vaktydskrif op die gebied van media en joernalistiek in Afrika. Hy was ook die redakteur van Global Journalism (Pearson) nadat die internasionaal gerekende prof. John C Merrill, die boek na die derde uitgawe aan hom oorgedra het om te redigeer. Hy was die samesteller en mede-outeur van Joernalistiek vandag, wat in 1982 deur Tafelberg-uitgewers gepubliseer is.

Terwyl hy nog ’n student in Potchefstroom was, het hy in 1964 die redakteur van Potch-nuus geword. Van 1966 tot 1972 het hy as opvoedkunde- en godsdiensjoernalis by Die Transvaler gewerk en later as hoofsubredakteur en parlementêre verslaggewer by Die Burger. Gedurende 1972 het hy redakteur van Ensiklopedie van die Wêreld geword, en in 1974 het hy ’n lektorspos in joernalistiek aan RAU aanvaar. Hy is in 1980 as senior lektor en waarnemende hoof aangestel. Hierna was hy professor en hoof van die departemente kommunikasie aan die Universiteit van die Vrystaat van 1981 tot 1989 en die PU vir CHO van 1989 tot 2000. Van 1989 tot 2002 was hy direkteur van die Instituut vir Kommunikasienavorsing aan die PU vir CHO. Hy is aanvanklik van 2003 af op kontrakbasis aan die Universiteit van Stellenbosch se joernalistiekdepartement aangestel nadat die dienste van professore ouer as sestig jaar aan die PU vir CHO eensydig beëindig is. Sedert 2007 was hy ’n buitengewone professor in hierdie departement, ’n posisie wat hy ten tyde van sy dood beklee het.

Hy was ’n besoekende professor aan onder meer die universiteite van Washington, Baylor en Indiana-Purdue in die VSA, Ede in Nederland en die Christian University in Uganda. Hy was ook ’n eksaminator vir universiteite in die VSA, Nederland, Australië, Zimbabwe, Ethiopië en Swaziland. Hy was ook ’n buitengewone professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Hy het onder die naam Arnold S de Beer geskryf en verkies om nie op sy bynaam, Arrie, wat hy as student in Potchefstroom gekry het, genoem te word nie. Hy was getroud met Nicolette, wat in 2017 oorlede is, en word oorleef deur drie kinders en ses kleinkinders.

deur Daantjie Badenhorst