BARTHO SMIT (1924-1986)
Bartho Smit was ’n bekende Afrikaanse skrywer, digter, dramaturg en uitgewer.
Bartholomeus Jacobus Smit is op 15 Julie 1924 op Klerkskraal teen die hange van die Mooirivier naby Ventersdorp gebore. Sy pa was ’n polisiesersant en hy het nie in ’n boekbewuste huis grootgeword nie. Nadat hy op Standerton gematrikuleer het, het hy in 1949 sy BA-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal, gevolg deur sy MA-graad twee jaar later.
Hy het op skool al beeldhouwerk begin doen, maar dit was nie suksesvol nie. Hy wou ’n beeld van CJ Langenhoven uit klip kap, maar toe hy die laaste afronding wou doen, het hy ’n stukkie van Langenhoven se snor afgebreek. Hy het dit met klei, sement en enigiets wat hy in die hande kon kry, probeer vasplak, maar dit het nie gewerk nie. Die beeld was geskend en omdat iets binne hom gebreek het, het hy dit met ’n byl stukkend gekap. Verder het hy op skool ook aan amateurboks deelgeneem, en hy was ’n kranige atleet wat in diskus en plaalspring uitgeblink het. Hy het in standerd agt sy eie toneelvereniging gestig.
Hy het op universiteit al begin skryf, onder meer drie kort eenbedrywe wat hy in 1945 vir die universiteitsvereniging geskryf het. In 1946 het hy hom aangesluit by Die Vaderland, waar hy eers ’n algemene verslaggewer was en later die kunsredakteur en teaterkritikus was. Dit was hier wat hy sy vrou, Kita Redelinghuys, met wie hy op 29 Januarie 1949 getroud is, ontmoet het. Hulle het geen kinders gehad nie. In dieselfde jaar het Unie Boekhandel sy eerste digbundel, Mure: verse gepubliseer. Nadat hy vir verdere studie by die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf het, het hy en Kita in 1952 na Europa vertrek om verdere navorsing vir sy proefskrif te doen. Terwyl hulle in Europa was, het hy as buitelandse korrespondent vir die koerante Dagbreek en Sondagnuus gewerk. Verder het hy drama onder Jan Rabie, wat hy in Europa ontmoet het en ’n goeie vriend van hom geword het, gestudeer. Binne enkele maande na sy aankoms het hy Frans leer praat; dit het ’n hele nuwe kultuurwêreld vir hom oopgesluit. Verskeie Afrikaanse skrywers het Parys ook in hierdie tyd besoek, en hy het onder meer vir Uys Krige, Anna Neethling-Pohl, Etienne Leroux en Elsa Joubert hier ontmoet. Daarby het hy kontak met die Nederlandse Vijftigers gehad, onder meer Gerrit Kouwenaar, Hugo Claus, Simon Vinkenoog en Rudy Kousbroek. In Desember 1954 het hy en Kita op ’n reis na Engeland vertrek, maar voor sy vertrek het hy sy bruin pak klere vir Jan Rabie, wat op 4 Januarie 1955 met Marjorie Wallace in die huwelik sou tree, gegee. Sy pa en sy jonger broer is in hierdie tyd oorlede en hy kon nie hul begrafnisse bywoon nie.
In 1955 het hy sy dramadebuut met Moeder Hanna gemaak, maar werklik eers die publiek se aandag op hom gevestig toe sy verhoogstuk Putsonderwater verskyn het. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy die kunsredakteur van Dagbreek en Sondagnuus geword. In 1962 is hy as uitgewer by Afrikaanse Persboekhandel aangestel en twee jaar later het hy die bestuurder van algemene publikasies geword. Met Perskor se oorname was hy letterkundige redakteur. Die digter DJ Opperman, wat publikasies vir die uitgewers Human en Rousseau en Tafelberg gekeur het, het twee digbundels, naamlik Die ysterkoei moet sweet van Breyten Breytenbach en Rook en oker van Ingrid Jonker afgekeur, maar Smit het gesorg dat hierdie twee digbundels uitgegee word. Hy was ’n stigterslid en leiersfiguur van die skrywersbeweging bekend as die Sestigers, waarvan André P Brink, Chris Barnard, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach en Jan Rabie ook deel was. Hy het in 1983, na 37 jaar se diens by Perskor, uit diens getree.
In 1960 is Die verminktes die eerste keer gepubliseer en in 1977 is dit vir die eerste keer deur TRUK opgevoer. Die stuk is in 1960 in Engels onder die titel The maimed opgevoer, en daarvoor het Smit ’n Encyclopaedia Britannica-toekenning verwerf. Don Juan onder die Boere is ook in 1960 gepubliseer, en dit sou met die Bloemfonteinse Stadskouburg se inwyding in 1958 opgevoer word met Smit as regisseur. Die skouburg-komitee het egter ter elfder ure besluit dat die laaste toneel te onbeskaafd vir openbare opvoering was en die opvoering is gekanselleer. Dit is egter wel in 1985 deur TRUK opgevoer met Francois Swart as regisseur en met Arnold Vosloo in die hoofrol. In 1961 is die Johannesburgse Stadskouburg ingewy, en Smit se pasvoltooide stuk Putsonderwater, sou opgevoer word. Smit het dit voorgelê omdat hy gevra is om dit te doen. Dit is egter afgekeur nadat “iemand” ontdek het dat die “kleurling” Asgat die pa van Maria se kind was. Sewe jaar het verloop voordat ’n beroepsgeselskap daaraan wou raak. Dit is in 1968 met groot sukses in België opgevoer. In 1975 het Smit die voorsitter van die nuutgestigte Afrikaanse Skrywersgilde geword. Die stigting van hierdie gilde het gespruit uit skrywers se begeerte om ’n meer doelgerigte skrywersliggaam te hê.
In 1975 is Moeder Hanna saam met Bart Nel van J van Melle en Die son struikel van Dolf van Niekerk as voorgeskrewe werke vir Transvaalse skole aanvaar. Die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) het die werke in ’n skoleprogram opgevoer, maar nadat 63 skole besoek is, is die opvoerings daarvan gestaak sonder dat die Transvaalse Onderwysdepartement redes daarvoor gegee het. Omdat Smit, saam met die ander lede van die Sestigers, omstrede politieke kwessies in hul werk aangepak het, is opvoerings van sy werk gereeld afgelas.
Smit het die Hertzog-prys vir drama in 1978 ontvang, en in 1979 het hy die Perskor-prys vir Die keiser gewen. Perskor het in 1984, met sy sestigste verjaardag, ’n bundel opstelle getiteld “Bartho” aan hom oorhandig. Dit is saamgestel deur sy beste vriende waaronder Chris Barnard, Rosa Keet, André P Brink, Jan Rabie en Abraham de Vries. Hulle het geskryf oor sy swerfjare in Europa, sy skrywersvermoë, sy rol in die Sestigers-beweging en sy enigmatiese persoonlikheid.
Op 31 Desember 1986 is hy in sy huis in die Johannesburgse voorstad Melville aan longkanker oorlede, nadat dit reeds geruime tyd lank by hom gediagnoseer is. Dit het mettertyd sy brein aangetas, tot so ’n mate dat hy 24 uur voor sy dood in ’n koma was. Sy vrou het hom versorg; sy is self in 1994 aan hartversaking oorlede.
deur Daantjie Badenhorst