BASIL VAN ROOYEN (1939-2023)

Die legendariese Suid-Afrikaanse renjaer Basil van Rooyen is op 13 September 2023 in die ouderdom van 84 jaar oorlede aan mesotleioom, ’n kanker wat deur asbes veroorsaak word.

Hy is op 19 April 1939 in Johannesburg gebore en was meer as net ’n renjaer; hy het ook as ingenieur uitgeblink en verskeie renmotors ontwikkel. Hy het sy loopbaan in 1957 begin toe hy met ’n Puch 250-motorfiets aan ’n 24-uur-wedren by die Grand Central-renbaan naby Johannesburg deelgeneem het. Hy het sy rybewys kort tevore verwerf.

In 1961 het hy met ’n Ford Anglia 105 E aan motorsport begin deelneem en veranderinge wat hy tuis aangebring het, asook ingevoerde onderdele, het hom in staat gestel om verskeie klasoorwinnings te behaal, veral op die Kyalami-renbaan wat in daardie tyd in gebruik geneem is. Hy was die besturende direkteur van Superformance, wat verrigtingsmodifikasies vir standaard-produksiemotors aangebring het. In 1964 het Ford Suid-Afrika twee Lotus Cortina merk 1-motors aan twee suksesvolle renjaers geskenk. Van Rooyen het een gekry terwyl die ander een aan die renjaer Koos Swanepoel gegaan het. Willie Meissner, wat die plaaslike GSM Dart- en Flamingo-sportmotors help ontwikkel het en in 1973 in ’n motorongeluk oorlede is, het Swanepoel se motor ingestel. Swanepoel het die Suid-Afrikaanse kampioenskap in 1964 gewen, maar die volgende jaar het Van Rooyen die kampioenskap oorheers en die meeste wedrenne gewen.

Sedanmotorwedrenne het so gewild geword dat Ford besluit het om vir hulle albei Mustang V8’s beskikbaar te stel. Die tydskrif Car het Van Rooyen s’n vir die Maart 1966-uitgawe getoets en ’n topsnelheid van 228 km/h behaal. Dit was ’n verstommende snelheid in daardie jare. Sy motor was deurentyd vinniger as dié van Swanepoel en hy het die Suid-Afrikaanse kampioenskap in 1966 en 1967 met die Mustang gewen.

Die volgende jaar het Alfa Romeo ’n Auto Delta GTA na Suid-Afrika ingevoer. Die motor was egter nie vinnig genoeg na die maatskappy se sin nie en Van Rooyen is gevra om dit verder te ontwikkel. Van Rooyen het sedert 1966 met die Alfa Romeo GTV aan die Onyx-produksiemotorreeks, ’n bykomende reeks wat ook op Kyalami gehou is, deelgeneem. Hy het ’n tweeliterenjin vir die Alfa Romeo ontwikkel en vinniger rondtetye as met die Mustang aangeteken. Hy het met groot sukses met die Ford Escort waarmee Meissner op daardie stadium gejaag het, meegeding.

Nadat Van Rooyen besluit het om aan enkelsitplekwedrenne deel te neem, het Arnold Chatz die ontwikkeling van die Alfa Romeo-renmotors oorgeneem. Van Rooyen is omgepraat om met John Love se Cooper Climax aan die Suid-Afrikaanse Grand Prix in 1968 deel te neem. Hy het dit só geniet dat hy ’n nuwer Brabham ingevoer het om vir die res van die jaar aan Suid-Afrikaanse byeenkomste deel te neem. Vir 1969 het hy met ’n McLaren van 1968 gejaag. Teen die tyd wat hy aan die Suid-Afrikaanse Grand Prix van 1969 deelgeneem, het, het hy reeds drie Suid-Afrikaanse Formule 1-wedrenne gewen. Later dieselfde jaar was hy in ’n ernstige ongeluk op Kyalami se pylvak betrokke terwyl hy bande getoets het. Die motor is afgeskryf en hy het tyd nodig gehad om van die ongeluk te herstel. Dit het gelyk asof hy die Formule 1-spanbestuurders só beïndruk het dat Ken Tyrrell hom onmiddellik as Jackie Stewart se spanmaat by sy span wou hê. Dié ongeluk het hierdie planne egter in die wiele gery.

In 1970 het hy weer met ’n Alfa Romeo aan die Onyx-reeks deelgeneem en die kampioenskap gewen. Die volgende jaar het Paddy Driver sy ouer F 5000-motor vir Van Rooyen aangebied en hy het sukses met hierdie motor behaal. Dieselfde jaar is die regulasies vir die Transvaalse Produksiemotorkampioenskap verander en die Ford Capri Perana V8, wat Basil Green vanuit sy werkswinkel in Edenvale ontwikkel het, was die voorloper in die kampioenskap. Van Rooyen het vir hom ’n Perana gekoop en gou die fabrieksmotors geklop. Hierdie motor het Van Rooyen ’n idee gegee wat ’n opskudding in Suid-Afrikaanse motorsport veroorsaak het.

Hy het General Motors genader om ’n motor te ontwikkel wat soortgelyk aan die Capri Perana sou wees. Die Chevrolet Firenza, die Suid-Afrikaanse weergawe van die Vauxhall HC Firenza en die Can Am, met dieselfde bakwerk as die Firenza, is gebore. Die regulasies het bepaal dat die enjingrootte nie meer as 5 000 cm³ kon wees nie en daarom was die 5 047 cm³-enjin wat modelle soos die Chevrolet El Camino en Constantia aangedryf het, te groot. Die enjin van die Chevrolet Camaro Z/28, met ’n verplasingsinhoud van 4 942 cm³, toevallig presies dieselfde as dié van die Capri Perana, was egter geskik en die Can Am het hierdie enjin gebruik. Van Rooyen het General Motors oortuig om ’n honderd Can Ams, wat nodig was om vir deelname aan motorsport te kwalifiseer, te vervaardig. Oorspronklike Can Ams is deesdae gesogte versamelaarsitems en die meeste Firenza-koepees wat nog loop, is in Can Am-replikas verander. Die Can Am het in 1973 geskiedenis gemaak deur die eerste, en tot dusver enigste, motor te wees wat die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in baan- en tydrenne in dieselfde jaar gewen het.

In 1977 het hy in Australië aan die bekende Sandown 500- en Bathurst 1000-wedrenne deelgeneem. Die motor waarmee hy deelgeneem het, was die Holden Torana SLR 5000, nog ’n General Motors-produk maar effens groter as die Firenza, en ook aangedryf deur ’n V8-enjin.

In 1979 is ’n nuwe wedrenformule, wat die gebruik van enige enjin-en-bakwerkkombinasie van dieselfde vervaardiger toegelaat het, ingestel. Fiat Suid-Afrika het belanggestel en ’n motor met ’n glasveselbakwerk wat soos dié van die destydse 131 gelyk het, is gebou. Die motor is aangedryf deur ’n Ferrari-enjin met ’n turboaanjaer. Van Rooyen het met hierdie motor deelgeneem totdat Fiat teen die einde van 1980 aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek het. Dit het die einde van hierdie formule beteken.

Daarby het hy aan die jaarlikse uithouwedren van nege uur deelgeneem en ook, saam met renjaers soos Eddie Keizan, George Santana, Geoff Mortimer en Colin Burford, aan die Springbok-reeks wat uit uithouwedrenne van drie uur elk bestaan het. Hy het in 1968 die tweede plek behaal tydens die Kyalami 9-uurwedren in ’n Ferrar Dino, wat hy met die oorsese renjaer Tony Dean gedeel het. In 1971 het Mazda Suid-Afrika twee R100-motors met rotorenjins na Suid-Afrika gebring om aan die Springbok-reeks deel te neem. Van Rooyen en Peter Gough was die renjaers. Van Rooyen was glad nie tevrede met die motor se hantering nie hoewel die enjinverrigting indrukwekkend was. Hy het die hoofkantoor gebel om te hoor of hy veranderinge kon aanbring. Hy het dit twee dae voor die 1971-uithouwedren van drie uur gedoen en die motor se rondtetye het met vier sekondes per rondte verbeter. Die Japanese werktuigkundiges was nie beïndruk nie.

Van Rooyen is later in sy lewe gediagnoseer met mesothelioom, ’n kanker wat deur asbes veroorsaak is en is na ’n lang siekbed oorlede.

deur Daantjie Badenhorst