BEN SCHOEMAN (1905-1986)
Die snelweg tussen Johannesburg en Pretoria is vernoem na ’n voormalige Minister van Vervoer, wat van 1954 tot 1974 in hierdie portefeulje gedien het.
Barend Johannes (Ben) Schoeman is op 19 Januarie 1905 in Johannesburg gebore. Sy pa was ’n treindrywer, en nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, het hy by die Suid-Afrikaanse Spoorweë as drywer en stoker aangesluit. Hy het deur die range gevorder en is na sestien jaar tot stasiemeester bevorder.
Voordat hy tot die politiek toegetree het, was hy ’n lid van die nasionalistiese en soms militante organisasie, die Ossewa-brandwag. Hy is soms weens sy bedrywighede in hegtenis geneem.
Hy het as lid van die Verenigde Party tot die politiek toegetree en met die algemene verkiesing van 1938 is hy tot parlementslid van Fordsburg in Johannesburg verkies. Hy was op 33-jarige ouderdom die jongste lid van die Volksraad. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het Schoeman die destydse Eerste Minister, genl. JBM Hertzog se posisie van neutraliteit ondersteun. Toe Hertzog uit die Verenigde Party bedank het en na die Nasionale Party oorgeskuif het, het Schoeman hom gevolg. Hy het in 1940 die hoof van die Nasionale Party aan die Witwatersrand geword, asook ’n lid van die party se uitvoerende komitee. Hy het Duitsland openlik in die oorlog gesteun en in 1940 gesê: “Die toekoms van die Afrikanerdom is afhanklik van ’n Duitse oorwinning. Ons kan dit net so wel openlik sê, want dis ’n feit.” Schoeman is in 1948 tot Minister van Arbeid verkies, en het die portefeulje van vervoer in 1954 by mnr. Paul Sauer oorgeneem.
Toe dr. Hendrik Verwoerd in September 1966 vermoor is, is daar verwag dat Schoeman tot Eerste Minister verkies sou word. Hy het hom een dag voor die verkiesing aan die wedloop onttrek, wat beteken het dat sy enigste opponent, mnr. BJ Vorster, verkies is. In ’n onderhoud lank daarna het dit aan die lig gekom dat Schoeman hom aan die wedloop onttrek het as gevolg van “skinderstories.” Hy was ook van 1965 tot 1974 die vyfde leier van die Volksraad. Hy het in 1974 uit die politiek getree en mnr. Lourens Muller en dr. Nic Diederichs het hom onderskeidelik as Minister van Vervoer en leier van die Volksraad opgevolg.
Hy het in 1978 ’n boek getiteld My lewe in die politiek die lig laat sien, en is op 2 April 1986 in die ouderdom van 81 jaar in Johannesburg oorlede.
deur Daantjie Badenhorst