BLES BRIDGES (1946-2000)
Net een sanger kon die Sun City Superbowl uitverkoop; nie een keer nie, maar twee agtereenvolgende dae.
Lawrence John Gabriel (Bles) Bridges is op 22 Julie 1946 op Viljoensdrif in die Noord-Vrystaat gebore. Nadat hy sy skoolopleiding aan die Hoërskool Vereeniging voltooi het, het hy ’n diploma as gereedskapmaker aan die Tegniese Kollege in Vereeniging verwerf, maar nadat hy sy studies voltooi het, het hy ’n betrekking as ’n verkoopsman van musiekinstrumente geword, en wat aanvanklik net ’n proeftydperk van ’n maand sou word, het eindelik vyf jaar geword. Later het hy as tegnikus by ’n groot ingenieursfirma gewerk en ’n ingenieurspraktyk op die been gebring.
Hy het in 1982 besluit om hom op sy sangloopbaan toe te spits, en toe Lance James hom tydens ’n konsert in Vanderbijlpark hoor sing het, het hy Bles aangemoedig om musiek sy loopbaan te maak. Brigadiers se platebaas, Albie Venter, het hom ’n langtermynkontrak aangebied, en sy eerste langspeelplaat, Onbekende Weermagman, is uitgereik. Die titelsnit het ’n treffer geword, terwyl “Koerantverkopertjie”, geskryf deur Anna Rudolph, ook gewild geword het. Teen die einde van 1983 is sy tweede album, Bles, uitgereik, met sy Afrikaanse weergawe van Foster and Allen se groot treffer “Maggie” as treffersnit. Die ander snitte vanaf hierdie album wat gereelde radiolugtyd gekry het, was “Eenmaal in jou lewe”, “Nie vir ’n duisend miljoen” en “Tawwe tienies”, die temaliedjie vanaf die gelyknamige rolprent.
Die volgende album was Uit die boonste rakke, met treffers soos “Suiderland”, “Wag vir my” en “Seuns op ons grense”, op die wysie van Goombay Dance Band se treffer “Sun of Jamaica”, waarop die stem van Esmé Euvrard ook gehoor kon word. Die treffer vanaf sy album Vir een en almal was “Ruiter van die windjie”, en Bles se opname was so gewild dat mense vergeet het dat die Nederlandse sanger Heintje Simons dit oorspronklik gesing het. Mense het ook verkeerdelik gedink dat Bles se vrou, Leonie, die woorde geskryf het. Soos met Heintje se groot treffer, “Jou hart is weer myne”, was dit egter Ben E Madison, wat bekendheid vir sy treffer “Groen koringlande” verwerf het, wat die woorde geskryf het. “Jou hart is weer myne”, wat ook op hierdie album ingesluit is, het hoeka ook ’n treffer vir Bles geword. Nog ’n liedjie wat mense gedink het Bles oorspronklik opgeneem het, was Ruben Lennox se treffer, “’n Duisend liggies”. Hierdie album was Bles se gewildste tot op daardie stadium, en verdere sukses het na ’n uitgemaakte saak gelyk. Teen die einde van 1986 het Bles se eerste Engelse album, I’m the eagle you’re the wind, verskyn, en ’n groter gehoor is aan sy musiek blootgestel. Hy was lief daarvoor om Foster and Allen se musiek te sing, en het hul treffers “A bunch of thyme” en “I will love you all my life” op hierdie album ingesluit. Nog ’n treffer vanaf hierdie album was “Room full of roses”, en elke keer as hy dit tydens konserte gesing het, het hy rose vir die vroulike lede van die gehoor uitgedeel.
Sy volgende album, Reik na die sterre, is in 1987 uitgereik, en vir die eerste en laaste keer in sy loopbaan het hy die Treffer van die Jaar op Edwill van Aarde se radioprogram Afrikaanse Treffers gehaal. Dit was egter nie sy enigste loopbaanhoogtepunt daardie jaar nie. Bles het iets reggekry wat geen plaaslike of internasionale kunstenaar tevore of sedertdien kon vermag nie. Sy vertonings in die Sun City Superbowl op 14 en 15 Mei 1987 is uitverkoop. Daarby het sy volgende Engelse album, Fight for love, teen die einde van daardie jaar verskyn, met die titelsnit en “Love is my destiny” as treffers. Daar was egter ook omstredenheid toe hy ’n Engelse weergawe van Anneli van Rooyen se treffer, “Ek lewe”, met die titel “I love you”, opgeneem het. Baie mense het gedink dat hy Anneli se liedjie sonder toestemming opgeneem het, maar die feit van die saak was dat Anneli buitendien ’n oorsese melodie vir “Ek lewe” gebruik het, en Bles daarom onskuldig was. Sy volgende Afrikaanse album, Laat my lewe, laat my liefhê, het die treffer “Bloedrooi rose” ingesluit, asook sy opname van Anneli van Rooyen se treffer “Wie ry saam?”, asook “Ek sal by jou staan”.
In 1989 het sy volgende Afrikaanse album, Nog ’n nuwe dag, verskyn, en ’n rolprent oor sy lewe, getiteld The devil and the song, is uitgereik. Ondanks Bles se sukses as sanger was die rolprent nie juis gewild nie, dalk as gevolg van die Engelse klankbaan. Bles het al hoe meer Engelse albums begin opneem, onder meer Let me love you, ter nagedagtenis aan Albie Venter, wat op 19 Mei 1990 in die ouderdom van vyftig jaar oorlede is. Hy het hom ook tot ligte klassieke- en country-musiek gewend met sy albums Classics my way en Country my way.
In 2000 was hy van plan om ’n album saam met verskeie gaskunstenaars, getiteld Bles Bridges en vriende, op te neem, en die eerste opname vir hierdie album is op 21 Maart 2000 gemaak. “The first kiss goodnight”, saam met Patricia Lewis, was egter sy heel laaste opname, want op 24 Maart 2000 is Bles in ’n motorongeluk naby Bloemhof in die Noordwes-provinsie dood. Hy was 53 jaar oud.
Twee trefferversamelings, Deur die jare heen volume 1 en volume 2, is kort na sy dood uitgereik. Toe Lance James van Bles se dood verneem het, het hy gesê dat Bles in enige land ’n ster sou wees. Hy was, gemeet aan albumverkope, een van die mees suksesvolle kunstenaars wat Suid-Afrika nog ooit opgelewer het.
deur Daantjie Badenhorst