BOET TROSKIE (1936-2022)
Boet Troskie was ’n bekende sakeman en rolprentvervaardiger wat die rolprentmaatskappy Mimosa Films in 1964 gestig het.
Cornelis Abraham Troskie is op 2 November 1936 in Bloemfontein gebore en was een van ses kinders wat arm grootgeword het. Hy het op De Aar skoolgegaan en na skool het hy as ’n motorwerktuigkundige begin werk. Hy het met behulp van ’n lening drie motors gekoop en later ’n suksesvolle motorhandelonderneming saam met sy broer Bill begin.
Nadat Boet ’n vertoning van die komediant en sanger Al Debbo bygewoon het, het Al aan hom ’n draaiboek gegee met die versoek om ’n rolprent te vervaardig. Tussen Boet, Bill en ’n ouditeur is daar genoeg geld bymekaargemaak om die rolprent, Die wonderwêreld van Kammie Kamfer, te vervaardig. Hierdie raap-en-skraap-produksie het 100% wins gemaak en Boet het Mimosa-films in 1964 gestig. Na hierdie sukses het een van die suksesvolle vennootskappe vir Troskie ontstaan toe hy met Jamie Uys begin saamwerk het. Die Troskie-broers het een dag by Uys se huis opgedaag en hom gevra om by hulle aan te sluit. Hy het ingestem en saam met Mimosa-films begin werk aan ’n dokumentêre rolprent, The three wise men, wat binne ’n jaar nadat dit uitgereik is, vierduisend keer op Amerikaanse televisiekanale vertoon is.
Mimosa Films het daarna die een suksesvolle rolprent na die ander vervaardig, onder meer Die professor en die prikkelpop en die legendariese Dirkie, albei rolprente met draaiboeke wat deur Jamie Uys geskryf is. Ander rolprente het gevolg, onder meer Staal Burger, met ’n draaiboek deur Daan Retief na aanleiding van Fanus Rautenbach se radioverhale en Breekpunt. Hy het saam met regisseurs soos Jan Scholtz, Dirk de Villiers, Emil Nofal en Elmo de Witt gewerk. In 1980 het hy saam met Jamie Uys aan die grootste lokettreffer tot dusver, The gods must be crazy, gewerk. Hy het ’n ooreenkoms met Twentieth Century Fox aangegaan en hom in die Verenigde State van Amerika gaan vestig om persoonlik toesig oor die bemarking en verspreiding van die rolprent te hou. Nog twee suksesverhale waaraan hulle gewerk het, was Beautiful people en Funny people. Nadat Troskie na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy saam met Uys aan die opvolgrolprente van The gods must be crazy en Funny people gewerk.
Benewens sy werk as rolprentvervaardiger het Troskie ’n sakeryk opgebou, wat Bloemfontein se grootste en bekendste winkelsentrum, Mimosa Mall, ingesluit het. Verder het hy aan die gemeenskap teruggegee; die voormalige redakteur van Die Volksblad, Hennie van Deventer, het vertel van ’n projek wat hy saam met dié koerant aangepak het waartydens kinders se drome verwesenlik is. Hy was betrokke by die Bloemfonteinse Kinderkoor, asook die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT), wat aan hom ’n eredoktorsgraad toegeken het en ’n monument tot sy eer opgerig het. Die onthale by sy glansryke woning Eden in Millie Krauise-laan in Bloemfontein was legendaries en is deur gaste soos oudpresident PW Boha, oudministers soos Pik Botha en Barend du Plessis, kunstenaars soos Dana Winner en Helmut Lotti en ander bekendes, asook doodgewone vriende, bygewoon. Hy het soms ook sy trekklavier uitgehaal en saam met Nico Carstens en Ollie Viljoen musiek gemaak. Oudpresident Nelson Mandela het Mimosa Films se dertigste verjaardagpartytjie by die saal van die SUT wat na hom vernoem is, bygewoon. Hy was ook die visekanselier van die SUT.
Hy was drie keer getroud, en altesaam vier kinders is uit sy eerste twee huwelike gebore. Hy is op 24 Desember 2022 in die ouderdom van 86 jaar aan komplikasies van Covid-19 oorlede.
deur Daantjie Badenhorst