CECILIA WESSELS (1895-1970)

Cecilia Wessels was ’n Suid-Afrikaanse operasangeres wat internasionale bekendheid verwerf het.

Cecilia Johanna Wessels is op 7 Augustus 1895 op die plaas Kwaggafontein in die distrik van Bloemfontein gebore en was die dogter van sir Cornelius Wessels, wat ’n administrateur van die Vrystaat was. Sy is vernoem na haar ouma aan vaderskant se suster, wat die ma van pres. MT Steyn, die laaste president van die Vrystaat was, en sy was ’n afstammeling van die Wessels-familie, wat veral op politieke gebied bekendheid in die Vrystaat verwerf het. Haar oupa aan vaderskant was Johannes Jacobus Wessels, die stigter van die Vrystaatse dorp Boshof. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het president Steyn haar pa aangewys as lid van die amptelike Boeredeputasie wat steun by die buitelandse moondhede vir die beëindiging van die oorlog moes kry. Nadat die deputasie verskeie lande deurkruis het sonder om sy doel te bereik, het Cornelius Wessels hom teen die einde van 1900 vir die duur van die oorlog in Den Haag in Nederland gevestig, vanwaar hy sy verpligtinge as vredesgesant voortgesit het. Sy vrou, asook die vyfjarige Cecilia het hulle in Februarie 1901 by hulle aangesluit. Sy het haar skoolopleiding in Nederland begin; daarom het sy reeds as kind met die buiteland kennis gemaak. Haar musiektalent het reeds hier aandag getrek en haar ouers was verbaas oor haar vermoë om liedere te onthou. Haar pa het haar aangemoedig om te sing, maar in 1905 is haar ma in die betreklik jong ouderdom van 48 jaar oorlede. Twee jaar later is haar pa getroud met Eliza Alice Keyter (gebore Bosman), ’n weduwee met wie Cecilia nie goed oor die weg gekom het nie. Dieselfde jaar is die Oranje Meisieskool in Bloemfontein gestig en Cecilia was een van die eerste ingeskrewe leerlinge. Die milieu waarin sy grootgeword het, het tot haar selfvertroue en selfstandigheid bygedra en haar pa se politieke bande het beteken dat hoogwaardigheidsbekleërs soos genl. Jan Smuts en genl. Louis Botha gereelde besoekers op Kwagganfontein was. Dit het gemaak dat sy plaaslik en in die buiteland maklik met hooggeplaastes kon omgaan.

Tydens haar skoolloopbaan aan die Oranje Meisieskool is sy as die beste sangeres beskou, en sy moes dikwels voorsing om die ander koorlede touwys te maak. Sy het haar formele opleiding op sestienjarige ouderdom onder Nina Reinecke, die musiekonderwyseres aan die skool begin. Sy het Cecilia aangemoedig om musiek haar loopbaan te maak. Een van haar eerste optredes was met die inwyding van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein in 1913. Daarna het sy aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege in Kaapstad gestudeer. Later het sy haar musiekopleiding aan die Royal Academy of Music in Londen voltooi, waar sy haar lisensiaat in sang verwerf het. In 1924 het sy haar operadebuut gemaak en onder meer in die Old Vic-teater in produksies van Il Trovatore, Carmen en Tannhäuser opgetree. Sy het haar egter nooit in die buiteland gevestig nie, en Kaapstad haar tuiste gemaak.

Die volgende jaar het sy ’n suksesvolle konserttoer deur Suid-Afrika onderneem; dit was die begin van ’n lang en suksesvolle loopbaan as sopraan in haar geboorteland. In Engeland het sy saam met bekende dirigente soos sir Henry Wood en sir Malcolm Sargent gewerk. Sy was waarskynlik die eerste Suid-Afrikaanse operasangeres wat internasionale bekendheid verwerf het, hoewel Marieta Napier, Emma Renzi en veral Mimi Coertse in haar voetspore gevolg het. Haar vele konserttoere het haar ’n bekende en beminde persoonlikheid in die destydse Unie van Suid-Afrika, Suid-Rhodesië en Suidwes-Afrika gemaak. Een van die liedere wat haar bekend gemaak het, was “Liefdeswee”, ’n kunslied wat Mornay du Plessis vir haar geskryf het. Sy het ’n voorliefde vir Afrikaanse liedere van jong komponiste gehad, maar omdat dit nie noodwendig vir ’n dramatiese sopraan geskryf is nie, was haar repertoire in hierdie verband uiters beperk.

Sy het by verskeie amptelike geleenthede opgetree, onder meer die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949, die Van Riebeeck-fees in 1952, die inhuldiging van president CR Swart en pres. Jim Fouché, die begrafnis van dr. Eben Dönges en die ingebruikneming van die orrel van die Groote Kerk in Kaapstad. Ondanks haar roem was sy bereid om ’n sinvolle bydrae tot musikale en kulturele ontwikkeling in plattelandse gebiede te lewer, soms onder moeilike omstandighede. Haar loopbaan het oor byna vyftig jaar gestrek en haar groot vokale reikwydte was een van die belangrikste redes vir haar plaaslike en oorsese sukses. Benewens haar optredes by groot geleenthede het sy gereeld by orrelinwydings, liefdadigheidskonserte of plaaslike herdenkingsfeeste opgetree. In 1959 het sy ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang; in die huldigingswoord wat aan haar opgedra is, is daar melding gemaak van haar bydrae tot kultuur op die platteland. Op 72-jarige leeftyd in 1967 het sy op kort kennisgewing van Kaapstad na Oudtshoorn gereis om in die plek van Mimi Coertse op te tree as ’n solis tydens ’n spesiale konsert by die Kangogrotte. Die destydse eerste minister, mnr. John Vorster, was só beïndruk dat hy haar persoonlik in ’n brief met die optrede gelukgewens het.

Cecilia is aan die einde van 1925 met Eernest E Beercroft getroud; hy was ’n bekende myneienaar en mineraloog wat uiters welvarend in die destydse Suid-Rhodesië geword het. Twee kinders, Celia Magdalene (Celia) en Edwin John (John) is uit die huwelik gebore. Nogtans het sy voortgegaan om professioneel onder haar nooiensvan te sing. Sy het daarby ook daarop aangedring om as “mejuffrou” aangespreek te word. Hulle het in Kaapstad gewoon, eers in Highlands en later in Rondebosch. Teen die einde van haar lewe het sy in Seepunt gewoon, waar sy op 14 Desember 1970 in die ouderdom van 75 jaar na ’n beroerteaanval dood is.

deur Daantjie Badenhorst