CHRIS BARNARD (1939-2015)

Chris Barnard was ’n Afrikaanse outeur en draaiboekskrywer wat bekendheid verwerf het vir romans, rubrieke, kortverhale, verhoogstukke en rolprentdraaiboeke.

Christian Johan Barnard is op 15 Julie 1939 op die lemoenplaas Mattafin in die Nelspruit-distrik in Mpumalanga gebore en het in 1957 aan die Hoërskool Nelspruit gematrikuleer. Hy het in Afrikaans-Nederlands en kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. In die 1960’s was hy, saam met ander bekende skrywers, deel van die beweging bekend as die Sestigers. Hulle het Afrikaanse letterkunde waarin hulle sterk teen apartheid standpunt ingeneem het, die lig laat sien en hulle beywer om Afrikaanse letterkunde op dieselfde standaard as Engelse en Franse letterkunde te kry. In 1962 is hy met sy eerste vrou, Annette, getroud en drie seuns is uit die huwelik gebore. Nadat hulle geskei is, is hy met die aktrise en rolprentregisseur Katinka Heyns getroud. Sy vierde seun is uit hierdie huwelik gebore.

Chris het sy eerste boek, Bekende onrus, in 1961 geskryf terwyl hy nog op universiteit was en die CNA-prys daarmee verower. Sy eerste verhoogstuk, wat ook ’n radiodrama geword het, was Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa, wat in 1964 die lig gesien het. Verdere radiodramas waarvoor hy verantwoordelik was, was ’n Stasie in die niet, Die rebellie van Lafras Verwey, Iemand om nag te sê en Taraboemdery. Die rebellie van Lafras Verwey is in 1971 op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK uitgesaai en later daardie jaar in Nederlands op die Nederlandse en Belgiese radio. In 1967 het hy as ’n joernalis by Die Huisgenoot begin werk, en sy rubriek Chriskas onder aanmoediging van PA Joubert geskryf. Dit het gelei tot drie bundels , onder die titels Chriskas, Chriskas: ’n tweede keur en So onder deur die maan: Chriskas 3, wat tussen 1972 en 1985 verskyn het , terwyl hy ook jeurgromans soos Dada op Ondeur en Voetpad na Vergelegen geskryf het. Sy roman Mahala, wat in 1971 verskyn het, word as ’n klassieke werk beskou.

Op aandrang van Bartho Smit het Chris op 25-jarige ouderdom na Europa verstrek om eksistensiële Parys te beleef. Hier het hy kennis gemaak met Breyten Breytenbach, en danksy Chris se bemiddeling is Breyten se eerste digbundel, Die ysterkoei moet sweet, gepubliseer. Hy het ook moderne teater leer ken, en was baie beïndruk daarmee. Hy het verder kennis gemaak met goeie rolprente; het dit opwindend gevind en gemeen dat dit baie moontlikhede gehad het.

Met die herdenking van die tiende bestaansjaar van die Suidwes-Afrikaanse Raad vir Uitvoerende Kunste (SWARUK) is Chris deur Oude Libertas gevra om ’n opdragstuk te skryf wat tydens die feesvieringe opgevoer kon word. Die resultaat was Taraboembery, waarvoor André P Brink die regie behartig het, maar ’n politieke drukgroep in die destydse Suidwes het die stuk verbied en ook besluit dat die Kaap en Natal dit ook nie kon sien nie. Dit is egter in 2010 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied met Neil Sandilands en Milan Murray in die hoofrolle. Albert Maritz was die regisseur.

Chris was ’n sterk teenstander van sensuur, en toe hy die WA Hofmeyr-prys ontvang het, het hy ’n striemende aanval daarop geloods. Volgens hom het die politiek besluit wat Suid-Afrikaners kon lees, dink of skryf. Hy het Suid-Afrika beskryf as ’n burokrasie waarin ’n staatsamptenaar met een streep van sy pen die werk van die intellektueles nietig kon verklaar. Sensuur het dit vir die gewone mens al hoe moeiliker gemaak om die wêreld te verstaan.

Hy het Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa, in Engels vertaal, terwyl Die rebellie van Lafras Verwey in Nederlands, Frans, Engels, Italiaans en Tjeggies vertaal is. Boela van die blouwater is deur Dieuwke Behrens in Nederlands vertaal terwyl Mahala deur Griet van Schreven en Luzette Strauss in onderskeidelik Duits en Engels vertaal is.

Chris, wat saam met Katinka die produksiemaatskappy Sonneblom Films bedryf het, was betrokke by die samestelling en verwerking van draaiboeke vir rolprente soos Paljas, Fiela se kind en Die storie van Klara Viljee, asook Die wonderwerker, wat die lewensverhaal van die skrywer Eugène Marais vertel het. Sy eerste filmdraaiboek was egter Die bankrower, waarvan Manie van Rensburg die regisseur was en waarin Marius Weyers en Sandra Prinsloo die hoofrolle vertolk het. Televisiereekse waarvoor hy die draaiboek geskryf het, was onder meer Simon en Sandra, Phoenix en Kie, Onder draai die duiwel rond, Die avonture van Joachim Verwey en Amalia.

Die rebellie van Lafras Verwey is in Augustus 2011 by die Intimate Theatre in Kaapstad opgevoer met Albert Maritz as regisseur en is baie goed ontvang. Dit is in 2012 by die Vryfees in Bloemfontein en die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom opgevoer, en in 2013 by die KKNK. Vier jaar later is dit verfilm met Chris se jongste seun Simon as regisseur. Onder die akteurs wat in die rolprent te sien was, was Tobie Cronjé in die hoofrol, Neels van Jaarsveld, Brendon Daniels, Albert Maritz, Gavin van den Berg en Albert Pretorius.

Chris is op 28 Desember 2015 in die ouderdom van 76 jaar oorlede.

deur Daantjie Badenhorst