CHRISTINE BASSON (1941-2019)

Die Afrikaanse aktrise Christine Basson is die dag nadat sy 78 jaar oud geword het, in die hoësorgeenheid van die aftreeoord waar sy gewoon het, oorlede.

Christine is op 9 Junie 1941 gebore en het in 1964 haar dramagraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Haar loopbaan as aktrise het kort daarna op die verhoog begin en sy het vir minstens drie van die destydse rade vir uitvoerende kunste in toneelstukke opgetree. Onder die bekendste toneelstukke waarin sy te sien was, was Die drie Van der Merwes, Faan se stasie, Don Juan onder die Boere, ’n Seder val in Waterkloof en Die proponentjie.

Sy het haar debuut as rolprentaktrise in Snake dancer in 1976 gemaak en het die volgende jaar die rol van dr. Mc Donald in Dingetjie en Idi vertolk. Daarna het Die Spaanse vlieg, asook Witblits en peach brandy gevolg.

In 1980 was Christine vir die eerste keer in ’n televisiereeks te sien toe sy die rol van Willemien Roets in Bosveldwinkel vertolk het. Dié reeks was so suksesvol dat nog ’n reeks, Bosveldhotel, asook ‘n rolprent, Bosveldhotel – die moewie, gevolg het. Sy het die rol van Sysie Albertyn vertolk in die televisiereeks wat gebaseer was op Mikro se roman Mattewis en Meraai, waarin Louis van Niekerk en Annette Engelbrecht die hoofrolle vertolk het. Franz Marx het ’n baie groot invloed op Christine se loopbaan gehad; sy het die rol van Marietjie Barnhoorn in Agter elke man teenoor André Verster vertolk; dit was ook die reeks wat van Dulcie van den Bergh ’n legende gemaak het; daarby is ’n nuwe ster gebore toe Steve Hofmeyr die rol van die skurk Bruce Beyers vertolk het. Daarna was sy Lottie in Konings, seker een van die beste Afrikaanse televisiereekse tot nog toe. Te midde van haar televisierolle was sy steeds op die verhoog en in rolprente te sien, onder die rolprente waarin sy gespeel het, was Wolhaarstories, Eendag vir altyd en die rolprentweergawe van Agter elke man.

Soos baie ander akteurs het haar deurbraak gekom toe sy die rol van Nora Naudé in die eerste Suid-Afrikaanse daaglikse sepie, Egoli-Plek van Goud (Place of Gold) gespeel het. Dié sepie het in April 1992 sy buiging op M-Net gemaak en die gewildheid daarvan het beteken dat M-Net dié sepie in oop kyktyd, tussen 17:00 en 19:00 Maandae tot Vrydae uitgesaai het. Sy het saam met ander legendes van Afrikaanse televisie gewerk, onder meer Hannah Botha, Shaleen Surtie-Richards, Brümilda van Rensburg, Eckard Rabe, Hennie Smit en Tobie Cronjé. Die sepie was tot in Maart 2010 elke weeksdag op die lug en ’n rolprent, Egoli:Afrikaners is plesierig, het in Junie 2010 gevolg.

Die Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk, wat die rol van Krynauw in Egoli vertolk het, het Christine as ’n goeie vriendin beskou, terwyl Lizz Meiring vertel het dat sy as jong aktrise baie by Christine geleer het.

deur Daantjie Badenhorst