CHRISTO VILJOEN (1937-2023)

Prof. Christo Viljoen was ’n Suid-Afrikaanse ingenieur en akademikus.

Hendrik Christo Viljoen is op 31 Augustus 1937 in Graaff-Reinet gebore en was die oudste van vyf kinders. Sy pa was die visehoof van die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet en dr. Anton Rupert en dr. Beyers Naudé was twee van sy leerlinge. Toe prof. Viljoen op skool was, het hy reeds bydraes vir Die Jongspan, Die Huisgenoot en Klein Burger gelewer. Hy het in 1954 gematrikuleer en was hoofseun en dux-leerling.

Van 1955 tot 1959 was hy ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die graad BSc BIng (Elektrotegniese Ingenieurswese swak-en swaarstroom) verwerf het. Hy was aktief by die studentelewe betrokke; hy was op die redaksie van die studentekoerant, Die Matie, asook Die Stellenboschse Student. In 1959 was hy die hoof-joolorganiseerder en nasionale voorsitter van SAFUIS (die Suid-Afrikaanse Federasie van Universiteits-Ingenieurstudente).

Hy het ’n studiebeurs van die Britse firma English Electric ontvang en ’n jaar lank nagraads aan die Marconi College in Chelmsford gestudeer. Hy het ook ’n jaar lank as ontwerpingenieur vir Marconi Instruments in St. Albans gewerk. Tydens ’n vakansietoer het hy sy toekomstige vrou, Hana Stehlik, ontmoet. Sy is in die Tjeggiese hoofstad Praag gebore, maar het in 1962 saam met haar ouers na Australië verhuis. Hulle is op 25 Junie 1965 getroud terwyl hy as ingenieur by die Derdepoort-radiostasie van die Departement Pos-en-Telegraafwese in Pretoria gewerk het. Drie kinders is uit die huwelik gebore.

In 1966 is hy as senior lektor in elektriese ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch (US) aangestel. Hy het die grade MIng (Stell) en PhD Ing (Stell) in 10964 en 1969 onderskeidelik behaal. Hy was verantwoordelik vir die invoer van die eerste studies op voorgraadse vlak in halfgeleier-elektronika (US) en skrywer van die eerste universiteitshandboek Elektronika deel 1 in Afrikaans. Bevordering van professor het in 1970 gevolg, in 1979 het hy dekaan van die fakulteit ingenieurswese geword en in 1993 het hy visedekaan (bedryf) geword. Hy het altesaam sestien jaar lank in drie verskillende hoedanighede op die US se raad gedien, naamlik senaatsverkose raadslid, ex officio-viserektor en konvokasieverkose raadslid.

Vanaf 1975 tot 1976 was hy besoekende professor aan die Georgia Institute of Technology in die Amerikaanse stad Atlanta en van 1980 tot 1981 was hy ’n besoekende professor aan die Nasionale Chiau Tung-universiteit (NCTU) in Hsinchu in Taiwan. Tydens sy ampstermyn as dekaan het die US tot die ruimtebedryf toegetree met die ontwikkeling van die SUNSAT-aardsatelliet, wat in 1999 gelanseer is, en die stigting van die afwentelmaatskappy SUNSPACE (tans Spaceteq) op Tegnopark. As viserektor (bedryf) aan die US was hy verantwoordelik vir die herinrigting en kommersialisering van die Neelsie-studentesentrum, die instelling van die Groenroete, ’n veilige roete vir studente op die kampus, die oprigting van die Jan Smuts-gebou vir biologiese wetenskappe, asook die daarstelling van die Kantoor vir Intellektuele Eiendom (tans bekend as InnovUS).

Hy is in 2006 verkies tot visepresident van die US-konvokasie en van 2011 tot 2016 was hy die president van die Konvokasie.

Tydens sy besoek aan die National Chaiu Tung-universiteit het prof. Viljoen kennis gemaak met die nabygeleë Science Based Industrial Park in Hsinchu; ’n wetenskaps-en-tegnologiepark. Hy was beïndruk met die praktiese wisselwerking tussen akademia en industria wat dit fasiliteer en hy het hom beywer vir die stigting van Suid-Afrika se eerste wetenskaps-en-innovasiepark in Stellenbosch. Hy het die destydse burgemeester van Stellenbosch, mnr. Piet Lombaard, oorreed om die stadsraad so ver te kry om grond hiervoor, suidwes van die dorp, beskikbaar te stel. Die infrastruktuur hiervoor is met behulp van ’n staatslening ontwikkel en hy het die naam Tegnopark daarvoor voorgestel. Die sooispitseremonie het in 1985 plaasgevind en hy het die Nywerheidsontwikkelingskorporasie oorreed om ’n innovasiesentrum op te rig waar jong entrepreneurs hul ondernemings kon begin. Binne ’n jaar was dit nodig om die sentrum se ruimte te verdubbel. Op die oomblik huisves Tegnopark ’n aantal innoverende hoëtegnologie-maatskappye waar altesaam 5 500 mense werksaam is en waar die hoofkwartier van ’n aantal maatskappye gehuisves word.

Van 1987 tot 1993 was hy lid van die beheerraad van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK); van 1987 tot 1989 was hy ondervoorsitter, en van 1989 tot 1994 was hy voorsitter van die beheerraad. Dit was tydens die oorgangsperiode na ’n demokratiese bestel wat besondere eise aan die SAUK gestel het om ’n vreedsame oorgang te bevorder. Hy het hom sterk beywer vir die onafhanklikheid van die SAUK; gevolglik het hy met kabinetsministers soos oudpresident PW Botha en oudminister Pik Botha gebots. Hy wou politieke inmenging by die SAUK staak en dit eerder in ’n openbare uitsaaidiens verander. Tydens sy ampstermyn het hy onder vier ministers van uitsaaiwese gedien. Kort na sy aanstelling het hy die daaglikse kommentaar wat soggens voor die nuus oor die radio uitgesaai is en die ekwivalent van ’n koerant se hoofartikel was, afgeskaf en die beginsel van “reg tot repliek” op nuusuitsendings ingestel. Die omskakeling van die SAUK van ’n organisasie wat groot verliese gely het na ’n winsgewende organisasie was ’n groot uitdaging. Dit is deur middel van besnoeiings en personeelvermindering gedoen. Sy belangrikste bydrae tot die omvorming van die uitsaaibedryf in Suid-Afrika was die verslag van die Taakgroep in sake die Uitsaaibehoeftes van Suid- en Suider-Afrika (1990-1991), bekend as die Viljoen-taakgroep. Die inwerkingstelling van die aanbevelings het groot veranderinge tot gevolg gehad, waaronder die omskepping van die SAUK van staatsuitsaaier na openbare uitsaaier, die instelling van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (OKOSA) en die instelling van gemeenskapsuitsaaidienste op plaaslike vlak. Hy was van 1994 tot 1996 kommissaris van die Onafhanklike Uitsaaiowerheid (OUO) , wat tans as OKOSA bekendstaan.

Hy is op 13 Januarie 2023 in die ouderdom van 85 jaar oorlede en word oorleef deur sy vrou, drie kinders en sewe kleinkinders.

Daantjie Badenhorst