CJM NIENABER (1918-1988)

Prof. CJM Nienaber was ’n Afrikaanse professor en letterkundige wat departementshoof in Afrikaans aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg was.

Christoffel Johannes Michael Nienaber is op 6 Augustus 1918 op Fauresmith in die Vrystaat gebore as die jongste broer van proff. GS en PJ Nienaber. Sy ouers was Petrus Johannes Nienaber en Jakoba Petronella van den Berg, wat op die plaas Erfdraai in die Wes-Vrystaat gewoon het. Hy het aanvanklik skoolgegaan op die plaasskool by Koedoesrand naby Paardeberg en moes twintig kilometer per dag te perd aflê. Sy onderwyser op die plaasskool, JF Jacobs, het by hom ’n onversadigbare leeslus gekweek wat hom sy lewe lank bygebly het. Daarna het hy van 1933 af by Hoërskool Boshof begin skoolgaan en in 1936 aan dié skool gematrikuleer.

Van 1937 af het hy aan die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein gestudeer; hier het Elizabeth Conradie en DF Malherbe deur besondere persoonlike belangstelling hom aangemoedig om wyd en oordeelkundig te lees. In 1937 het hy ook die geleentheid gekry om die inrigting vir geestesongestelde mense in Bloemfontein te besoek. Later, deur die bereidwilligheid van dr. Deppe, die psigiater aan ’n soortgelyke inrigting in Town Hill, Pietermaritzburg, het hy verder vertroud met hierdie mense geraak. Dit is hierdie ervarings wat hom gestimuleer het om later die novelle Keerweer, waarmee hy ’n groot impak op Afrikaanse letterkunde gemaak het, te skryf. In 1938 het hy ’n betrekking as onderwyser van die Komitee vir Voortsettingsonderwys in Pietermaritzburg aanvaar. Hier het hy in die middag en aand klasse vir spoorwegwerkers aangebied. Dit het hom voldoende geleentheid gegee om sy studies soggens aan die Natalse Universiteitskollege voort te sit. In 1939 het hy sy BA-graad behaal, gevolg deur ’n MA-graad in 1941 met ’n verhandeling oor Natal se bydrae tot die Dietse geskrifte sedert 1900 en ’n Hoër Onderwysdiploma in 1942. In 1943 is hy met die digteres Sheila Cussons getroud.

Gedurende die eerste semester van 1947 het hy ’n betrekking as lektor aan die Tegniese Kollege op Worcester in die Wes-Kaap beklee en sommige naweke as deeltydse omroeper by die SAUK in Kaapstad gewerk. In Julie 1947 het hy na Londen vertrek om hom by sy vrou, wat daar haar studies in die skilderkuns voortgesit het, aan te sluit. Hy was hier verbonde aan die Britse Uitsaaikorporasie (BBC) waar hy nuus vertaal en as omroeper opgetree het. Verder was hy ’n deeltydse lektor vir voornemende emigrante na Suid-Afrika aan die London County Council (Marylebone). In Februarie 1948 het hy na Amsterdam vertrek om sy studies aan die Gemeentelijke Universiteit voort te sit, onder leiding van onder meer proff. NA Donkersloot en WG Hellinga. In Maart 1950 moes hy egter per skip na Suid-Afrika terugkeer om sy pa met sy siekte by te staan, maar sy pa is oorlede terwyl hy nog ter see was. In hierdie tyd het Cussons ’n verhouding met NP van Wyk Louw aangeknoop, wat aan die begin van daardie jaar ’n pos as professor by die Gemeentelijke Universiteit aanvaar het. Op 7 Junie 1950 het hy die Drs. Litt-graad in Amsterdam verwerf en twee maande later is hy en Cussons geskei. Aan die begin van 1951 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en vanaf die begin van daardie jaar was hy ’n lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg.

In 1952 het hy onder Merwe Scholtz gepromoveer met ’n studie oor “Die taal as tolk: ’n stilistiese analise van Maria van Elisabeth Eybers”. Hierdie proefskrif is later gepubliseer. Hy is in Junie 1959 tot senior lektor bevorder, in Julie 1965 tot medeprofessor en vanaf 1969 tot met sy aftrede in 1983 was hy professor en departementshoof aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg. Vanaf 1974 het die afdeling in Durban selfstandig geword en hy was hoogleraar en departementshoof in Pietermaritzburg. Hy was volle lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde. Hy het hom gedurig beywer vir kulturele verbintenis met Nederland en as hoofbestuurslid van die plaaslike afdeling van die Genootskap Nederland-Suid-Afrika gedien. Hy was lid van die Komitee van Toepassings en Advies ten opsigte van die Kultuurverdrag tussen Suid-Afrika en Nederland. Hy het jare lank as lid van die keurkomitee van die Akademie en ander instansies gedien.

In sy plaasskooldae het hy begin skryf; met sy eerste verhaal, wat oor ’n spook gegaan het, het hy ’n boekprys gewen. Sy novelle, Keerweer, het in 1946 verskyn. Hierin is die gemoedstoestand van ’n kranksinnige persoon uitgebeeld, saam met sy verse, agterdog, vervolgingswaansin, los assosiasies en visioene, waarin motiewe deurmekaar gevleg is en ’n nagmerrie-agtige atmosfeer geskep is. Sheila Cussons het die illustrasies behartig.

Tydens sy akademiese loopbaan en na sy aftrede het hy verskeie boeke en artikels van ’n literêr-kritiese aard geskryf en by verskeie universiteite en ander instansies voordragte as gasdosent gelewer. Saam met JJ le Roux was hy verantwoordelik vir So sê ons in Afrikaans, waarin die mees algemene probleme wat Engelssprekende leerlinge met Afrikaans het, aandag geniet het. Daarby het hy meegewerk aan publikasies oor taalbeheersing en hoofstukke bygedra tot verskillende versamelings essays oor letterkunde en taalgebruik.

Op 2 Mei 1951 is hy in die Groote Kerk in Adderleystraat, Kaapstad, getroud met die Nederlandse weduwee Willemina (Miep) van der Bom-Luitingh wat onder die naam M. Nienaber-Luitingh verskeie literêre werke gepubliseer het en self later ’n medeprofessor in Afrikaans en Nederlands was. Benewens ’n dogter wat uit die huwelik gebore is, het hy haar dogter Maria Elisabeth as sy eie aangeneem.

Op 3 April 1988 is hy in die ouderdom van 69 jaar aan longkanker oorlede.

deur Daantjie Badenhorst