CORRIE SANDERS (1966-2012)
Corrie Sanders was ’n Suid-Afrikaanse bokser wat van 1989 tot 2008 professioneel deelgeneem het.
HY is op 7 Januarie 1966 in Brits gebore en het in 1989 sy professionele debuut gemaak toe hy King Kong Dyubele op 2 April 1989 in die eerste ronde uitgeslaan het. Daarna het hy 22 agtereenvolgende gevegte gewen; 14 met uitklophoue. Onder sy teenstanders teen wie hy gewen het, was Steve Zouski, Art Card, die latere wêreldkampioen Johnny Nelson en nog ’n aanspraakmaker op die wêreldtitel in die junior swaargewigafdeling, Bert Cooper. Met sy 24ste geveg het Nate Tubbs hom in die tweede ronde planke toe gestuur en hy het sy eerste professionele nederlaag gely. Hy het die volgende vyf jaar aan nog twaalf gevegte deelgeneem, en onder meer met ’n uitklophou in die eerste ronde teen die voormalige junior swaargewig-wêreldkampioen Carols de Léon, asook ’n uitklophou in die tweede ronde teen nog ’n voormalige wêreldkampioen, Bobby Czyz, gewen. Hy het egter ’n geveg teen Hashim Rahman met ’n tegniese uitklophou verloor nadat dit gelyk het asof hy die geveg sou wen. Dit het terselfdertyd sy vermoë as bokser maar ook sy kwesbaarheid beklemtoon. In 2001 het hy teruggekeer na die bokskryt en ’n vinnige oorwinning oor Michael Sprott met ’n oorwinning oor Otis Tisdale in 2002 opgevolg. Hy het links geboks en sy teenstanders gou met sy vinnige hande uitgeslaan.
Hoewel hy net in drie rondes in die voorafgaande twee jaar geveg het, het die Wêreldboksorganisasie (WBO) ’n wêreldtitelgeveg teen die destydse wêreldkampioen, Vladimir Klitscko van die Oekraïne gereël. In hierdie geveg, wat op 8 Maart 2003 in die Duitse stad Hanover plaasgevind het, het Sanders ’n opskudding veroorsaak deur Klitschko vier keer planke toe te stuur voordat hy hom in die tweede ronde uitgeslaan het. Sanders het sy WBO-titel in Desember 2003 prysgegee om aan ’n geveg om die vakante wêreldtitel van die Wêreldboksraad (WBC) deel te neem. Die geveg, teen Vladimir se ouer broer Vitali, het op 24 April 2004 in die Staples Centre in Los Angeles plaasgevind, Vitali het die geveg in die agtste ronde met ’n tegniese uitklophou gewen. Vitali het hierdie geveg later as die moeilikste van sy loopbaan beskryf. In Desember 2004 het Sanders vir Alkexei Varakin in die Oostenrykse stad Soelden uitgeslaan en dadelik uitgetree. Hy het wel in November 2006 teruggekeer met ’n tegniese uitklophou in die tweede ronde oor die Australiese swaargewigkampioen Colin Wilson in die Convention Centre in Mafikeng. Hy het ’n kontrak met Golden Gloves-promosies onderteken en nog ’n geveg in Suid-Afrika teen Daniel Bispo van Brasilië in Mei 2007 gewen. Hy het sy heel laaste geveg teen Osborne Machimana verloor; hy het tot die geveg ingestem hoewel hy beseer was. Sy finale rekord was 42 oorwinnings (31 deur uitklophoue) en vier nederlae.
Op 22 September 2012 is Sanders tydens ’n gewapende rooftog in Brits geskiet. Dit het tydens sy neef se 21ste verjaardagpartytjie gebeur. Sanders was naby die ingang van die restaurant, besig om met sy dogter Marinique en ’n familielid te praat toe drie rowers binnegestorm en op hulle losgebrand het. Sanders is in die arm en die maag getref terwyl hy voor haar in beweeg het om haar te beskerm. Sanders het reeds vanweë sy wonde begin bloei toe hy haar grond toe gesleep het en gesê het sy moes maak asof sy dood was. Hy is na ’n hospitaal in Pretoria geneem waar hy die volgende dag aan sy beserings beswyk het. Sy weduwee, Suzette, het gesê hy het as ’n held gesterf.
deur Daantjie Badenhorst