DANA NIEHAUS (1918-1995)

Hoewel kommentators soos Edwill van Aarde, Kotie Grové en Jeremy Fredericks baie gedoen het om Afrikaanse terme vir krieket te skep, was daar een bekende omroeper wat baanbrekerswerk in hierdie opsig gedoen het.

Daniël Retief (Dana) Niehaus, is op 21 Desember 1918 gebore en het veral bekendheid verwerf toe hy as omroeper by Springbok Radio gewerk het. Dit was die eerste kommersiële radiostasie wat deur die SAUK bedryf is en het van Mei 1950 tot Desember 1985 in Afrikaans en Engels uitgesaai. Daarby was hy die eerste persoon wat Afrikaanse krieketkommentaar gelewer het, en hy het die terme wat vandag algemeen gebruik word, geskep.

Sy loopbaan as akteur het in 1959 begin met Satanskoraal, die eerste Afrikaanse rolprent met tonele wat onder die water verfilm is. Daarna het rolprente soos Rip van Wyk, Huis op horings, Vicki, Ma skryf matriek en Jakkalsdraai se mense gevolg.

Aan die beginjare van Suid-Afrikaanse televisie het Dana in ’n aantal reekse gespeel. Hy was die polisieman wat teenoor Tobie Cronjé en Katinka Heyns in Willem gespeel het, en hy was ook te sien in TJ 7, die laaste televisiereeks waarin Wena Naudé gespeel het voordat sy oorlede is. Hy het die rol van Koos Vermaak in die reeks Net ’n bietjie liefde teenoor Esmé Euvrard vertolk, en dié van Boela van der Merwe in die reeks Phoenix en Kie. Dit was sy laaste televisierol, hoewel hy later in rolprente soos Blink Stefaans, Verkeerde nommer en The fourth Reich te sien was. Hy was ook die stem van Oom Flapoor Olifant in Haas Das se Nuuskas en hy het die Jakkals-en-Wolf-stories wat deur Pieter W Grobbelaar geskryf is, vertel. Hierdie stories is op langspeelplaat uitgereik en het ook ’n paar jaar gelede op CD verskyn. Hy het ook ander langspeelplate met kinderstories vrygestel, onder meer Oom Dana Niehaus vertel wolhaarstories en Stout en soet. Wat miskien minder bekend is, is dat hy ook ’n paar opnames as sanger gemaak het, onder meer die album Dana Niehaus se Boerekonsert, waarin hy saam met orkesleiers soos Nico van Rensburg, Dirkie Smit en Manie Bodenstein opgetree het. Hierdie album het in 1983 verskyn en het twee oorspronklike treffers opgelewer, naamlik “’n Boer maak ’n plan” en “Klein bietjie liefde”.

Dana se seun is niemand anders nie as die bekende sanger Danie Niehaus. Danie was in sy studentejare deel van die Alabama-studentegeselskap en is nou al meer as dertig jaar lank een van Suid-Afrika se voorste sangers; nie net as solokunstenaar nie maar ook as lid van Drie van die bestes, saam met Kevin Leo en Mathys Roets. Danie het bekendheid verwerf vir treffers soos “Niks is dan mooier (Jy is vrou)”, “Sweef soos ’n arend”, “Hierdie aand”, “Dis reën, dis wind, dis water” en “Rondloper”.

Dana Niehaus is op 12 Oktober 1995 in die ouderdom van 76 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst