DANIEL LINDLEY (1801-1880)
PRESBITERIAANSE LERAAR WORD VOORTREKKER-PREDIKANT
Daniel Lindley is een van die merkwaardige figure waarvan ons geskiedenis so ryk is. In die vorige eeu het ons land en volk dierbare vriende in die vreemde besit, vriende wat oorgekom het om te help waar en wanneer dit moontlik was en indien daar om hulp en medewerking gevra is. Ds. Daniel Lindley was een van hulle. Sy naam sal deur Suid-Afrika nie vergeet word nie, en in die dorpies Lindley in ons land en in Noord-Amerika lewe dit voort.
In 1801 is Daniel Lindley in die staat Ohio in die Verenigde State van Noord-Amerika gebore. Dertig jaar later volg sy toelating as predikant van die Presbiteriaanse Kerk. Daarna stuur die “American Board of Missions” hom as sendeling na Suid-Afrika. Met ander sendelinge begin ds. Lindley onder die Matabeles werk. In 1837 gaan hy na Natal om die evangelie aan die Zoeloes te verkondig. ’n Jaar later word sy posisie daar so haglik dat hy genoosaak is om veiligheid te soek op ’n skip wat in die baai voor anker lê. Die Zoeloe-hordes het al die sendingstasies verwoes, maar Lindley het nie moed verloor nie.
In 1839 wy hy hom aan die geestelike bearbeiding van die Voortrekkers in Natal. ’n Jaar later versoek ’n paar lede van die Natalse Volkraad om ds. Lindley as predikant aan te stel. Nadat ds. Lindley dokumente aan ’n gekose Volksraadkommissie voorgelê het, het die Raad in 1841 besluit “gem heer Lindley alhier als Leeraar te plaatsen” en hom vry woning te verskaf en ’n salaris van £100 te betaal. Ds. Lindley het die aanstelling aangeneem, en in die Voortrekkerkerkie in Pietermaritzburg begin diens doen.
Van tyd tot tyd het hy ook Port Natal en Weenen bearbei, terwyl hy in 1842 en 1844 ook nog ’n herderlike besoek aan Potchefstroom gebring het, en ook aan Winburg in die Vrystaat. Na die anneksasie van Natal is hy deur die Engelse owerhede besoldig. Hy het vrugbare werk onder die Voortrekkers verrig, maar die verlange om weer sendingwerk te gaan doen, het hom nie verlaat nie.
In 1846 het die aktuarius van die Sinode van die Kaapse Kerke aan die sekretaris van die Kaapse regering meegedeel dat ds. Lindley van plan is om weer onder die Zoeloes te arbei en dat hy herhaalde versoeke van die gemeenskap in Pietermaritzburg om te bly, van die hand gewys het. Die Nederlandse predikant, ds. A.C. Stucki, het hom na Suid-Afrika begewe, maar op weg na Natal is hy oorlede. Daarna het sendeling J.L. Döhne, van die Berlynse Sendinggenootskap, in 1847 ’n tydelike aanstelling vir die gemeente Pietermaritzburg uit die hande van die Kaapse goewerneur ontvang.
Van 1847 tot 1858 het ds. Lindley sy sendingwerk onder die Zoeloes verrig, daarna het hy van 1858
tot 1862 in sy geboorteland vertoef, om daarna tot 1873 sy werk in Natal voort te sit. Dan volg sy vertrek na Noord-Amerika. Hy tree af en sterf in 1880 op 79-jarige leeftyd.
Die nageslag sal ds. Lindley, die Amerikaanse vriend van die Voortrekkers, dankbaar bly. Toe hulle sonder ’n herder van hulle eie kerk was, het hierdie vreemdeling, gehoorsaam aan die bevel van die Meester, uit sy pad gegaan om hulle te help en te steun en vir ondergang te behoed.
Die Amerikaanse predikant van die Voortrekkers
Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
Foto: Ons Kerkalbum