DAWIE DE VILLIERS (1940-2022)
Die voormalige Springbok-rugbykaptein, predikant, ambassadeur en kabinetsminister dr. Dawie de Villiers is in die ouderdom van 81 jaar oorlede.
Dawid Jacobus de Villiers is op 10 Julie 1940 op Burgersdorp in die Oos-Kaap gebore. Sy pa Coenie was ’n spoorwegklerk, organiseerder van die Nasionale Party (NP) en parlementslid vir die kiesafdeling Vasco. Die gesin het later na Caledon verhuis, waar dr. De Villiers met sy skoolloopbaan begin het. Hulle het egter binne ’n jaar na Bellville verhuis, en in 1959 het hy aan die Hoërskool Bellville gematrikuleer.
In 1960 het hy aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer; hy het sy graad in teologie en sy honneursgraad in filosofie verwerf. In 1962 en 1963 was hy voorsitter van die studenteraad. Hy was gekant teen die tradisionele politiek van die NP, en hy is as ’n linksgesinde onder mede-Afrikaners beskou, al was sy pa ’n parlementslid vir dié party.
In 1962 het hy sy debuut as Springbok-rugbyspeler teen die Britse Leeus onder kapteinskap van die Skotse vleuel Arthur Smith gemaak. Hy het sy eerste toetswedstryd op Kingspark in Durban gespeel in die tweede toets van hierdie reeks, en die Springbokke het die toets met 3-0 gewen nadat die losskakel Keith Oxlee met ’n strafdoel geslaag het. Hoewel hy nie in 1963 teen Australië of in 1964 teen Frankryk gespeel het nie, is hy vir die toets teen Ierland in 1965 gekies, maar Ierland het daardie toets met 9-6 gewen. Hy is gekies as kaptein vir die span wat in dieselfde jaar deur Nieu-Seeland getoer het, maar die span het net een van die vier toetse in daardie reeks gewen. Nadat daar in 1966 geen toetsrugby gespeel is nie, het Frankryk in 1967 deur Suid-Afrika getoer en weer eens was dr. De Villiers die kaptein. Tydens die eerste toets het verskeie spelers hul buiging vir die Springbokke gemaak, onder meer HO de Villiers op heelagter, Piet Visagie op losskakel, Gys Pitzer op haker, Piet Greyling op flank en Eben Olivier op binnesenter. Die Springbokke het daardie toets met 26-3 gewen, en die reeks met twee toetse teen een terwyl een gelykop was. In daardie jaar is dr. De Villiers ook bevestig as predikant van die NG Moedergemeente Wellington. Die skrywer PH Nortjé het bekendheid verwerf vir sy skreeusnaakse outobiografiese vertellings oor Wellington en sy mense. Dr. De Villiers was Nortjé se predikant en in sy kortverhaalbundel Aan die sonkant, wat in 1971 verskyn het, het die verhaal “Ter wille van ’n orrel” voorgekom. Dit het gehandel oor ’n plan wat die kerkraad gemaak het om geld in te samel om die kerk se orrel te laat herstel, en ’n rugbywedstryd tussen die ouderlinge en diakens is gereël, met dr. De Villiers wat die ouderlinge afgerig het. Die manier waarop Nortjé dié verhaal vertel het, was so snaaks dat ’n mens byna nie kan glo dat dit ’n ware verhaal is nie, maar dit het werklik gebeur.
In 1968 is dr. De Villiers se naam op nóg ’n manier verewig toe die eerste Afrikaanse rugbyliedjie die lig gesien het. The Bats, wat bestaan het uit Paul Ditchfield, Eddie Eckstein, Pete Clifford en Barry Jarman, het die liedjie “Groen en goud”, met die woorde “Vat hom Dawie, wat hom laag, vat hom Dawie, laat die Boere slaag” vrygestel. Die uitreiking van die liedjie het saamgeval met die reeks teen die Britse Leeus onder kapteinskap van die Ierse heelagter Tom Kiernan en het tot Springbok Radio se Top 20 toegetree die naweek toe die derde toets van die reeks in Kaapstad gespeel is. Die liedjie het die sewende plek gehaal en nege weke lank op die trefferslys gebly; dit het die weg gebaan vir rugbyliedjies soos “Haak hom Blokkies” van David Kramer. Tydens die eerste toets van die reeks op Loftus Versfeld in Pretoria het dr. De Villiers sy eerste toetsdrie gedruk. Die Springbokke het die eerste, derde en vierde toets in die reeks gewen en in die tweede een gelykop gespeel. Later in dieselfde jaar het die Springbokke twee toetse in Frankryk gespeel en in die tweede toets, in die Stade Olympique in Parys het dr. De Villiers sy tweede toetsdrie gedruk.
In 1969 het dr. De Villiers die tweede en derde toetse teen Australië misgeloop en die agtsteman Tommy Bedford het as kaptein waargeneem. Die Springbokke het al vier die toetse in daardie reeks gewen, maar groot moeilikheid het teen die einde van die jaar gewag. Die Springbokke het ’n toer na Brittanje onderneem, maar tydens die perskonferensie voor die toer het Bedford in sy hoedanigheid as onderkaptein ’n spreekbeurt gekry. Hy het die spelers gewaarsku dat hulle botsings met betogers wat teen die toer gekant was, kon verwag, en op die ou einde het dit gebeur en die Springbokke het die toetse teen Engeland en Skotland verloor. Die span het wel gelykop gespeel teen Wallis en Ierland. In Julie 1970 het die All Blacks onder kapteinskap van Brian Lochore in Suid-Afrika aangekom, en die moontlikheid het bestaan dat hulle die Springbokke sou vermorsel. In die eerste toets op Loftus Versfeld het dr. De Villiers weer ’n drie gedruk, maar dié toets sal om ’n heel ander rede onthou word. In die tweede helfte het die regtervleuel Syd Nomis die bal gekry en terwyl hy na die doellyn toe gehardloop het om sy drie te druk, het die legendariese rugbykommentator Gerhard “Spiekeries” Viviers, vir seker die mees onvergeetlike rugbykommentaar tot nog toe gesorg. “Siddie, Siddie, Siddie!”, het Viviers geskree toe Nomis sy drie gaan druk het. Die Springbokke het dié toets met 17-6 gewen. Teen die einde van daardie reeks het dr. De Villiers, wat toe sy provinsiale rugby vir Transvaal gespeel het, sy uittrede aangekondig.
Dr. De Villiers was, na sy tydperk as predikant op Wellington, ’n lektor aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en die Abe Bailey en Markotter beurse is aan hom toegeken. Hy het in 1972 sy meestersgraad in filosofie verwerf en ’n beurs vir oorsese studie ontvang. Die Universiteit van Stellenbosch het ’n doktorsgraad in filosofie aan hom toegeken.
Tydens sy tydperk aan RAU het die destydse rektor, dr. Gerrit Viljoen, hom oorreed om meer by die politiek betrokke te raak. Weer eens is sy naam verewig toe Leon Schuster in sy liedjie, “Hou jou bek”, wat deur sy destydse werkgewer, die SAUK, verbied is, met hom die spot gedryf het. “Ek het so goed rugby gespeel dat ek ’n minister geword het”, het hy met verwysing na dr. De Villiers gesê. Hy het, teen sy pa se wense, die parlementslid van Johannesburg-Wes geword en sy setel met die algemene verkiesings van 1974 en 1977 behou. Hy was toe ook president van die RAU-konvokasie en voorsitter van die NP se Buitelandse Sake-komitee. In April 1979 het hy die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Engeland geword en met sy terugkeer na Suid-Afrika in Oktober 1980 is hy aangestel as Minister van Handel en Nywerheid. Met die volgende jaar se algemene verkiesing het hy vir die kiesafdeling Kaapstad Tuine gestaan, maar Ken Andrew van die Progressiewe Federale Party (PFP) het gewen. Hy is egter tot parlementslid vir die kiesafdeling Piketberg verkies. In 1989 het hy die Minister van Minerale en Energiesake en van Openbare Ondernemings geword, en hy is ook tot Kaapse provinsiale leier van die NP verkies. Gedurende die Groote Schuur-onderhandelings met die African National Congress (ANC) en die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) was dr. De Villiers een van die NP-verteenwoordigers. Hy het in 1996 uit die politiek getree.
Dr. De Villiers het ’n lang stryd teen kanker gevoer en op 23 April 2022 is hy in sy huis op Stellenbosch oorlede. Hy word oorleef deur sy vrou Suzaan, ’n seun, drie dogters en nege kleinkinders.
deur Daantjie Badenhorst