DE VILLIERS LAMPRECHT (1942-2024)

De Villiers Lamprecht was die eerste Suid-Afrikaanse atleet wat die myl in minder as vier minute kon aflê.

De Villiers Bester Lamprecht is op 22 Desember 1942 op Prins Albert gebore en het in 1964 die myl by ’n byeenkoms in Stellenbosch in minder as vier minute afgelê. Dit was tien jaar nadat die Britse atleet Roger Bannister die heel eerste atleet ter wêreld geword het wat dit kon vermag.

Lamprecht was destyds ’n mediese student aan die Universiteit van Stellenbosch en het die afstand in 3 minute, 59,7 sekondes afgelê. Wat sy prestasie nog meer merkwaardig gemaak het, was dat hy kaalvoet gehardloop het. Hy het dit daarna nog vier keer reggekry. In sy atletiekloopbaan het hy nog altesaam vyftien Suid-Afrikaanse rekords opgestel, van die 1 500 meter tot die marathon. In 1966 het hy die Suid-Afrikaanse rekord in die marathon met ’n tyd van twee uur, 20 minute en 42,5 sekondes opgestel.

In Stellenbosch het hy onder andere die Springbokatlete Danie Malan en Ferdie la Grange afgerig. Met Lamprecht as afrigter het Malan in 1973 die wêreldrekord in die 1000 meter verbeter. In Bloemfontein het hy die Springbokatlete Sarina Cronjé en Ilse Wicksell afgerig. In 1983 het Wicksell, wat met die atleet Ray Wicksell getroud is, die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword wat die 800 meter in minder as twee minute kon voltooi. Wicksell het hom as ’n mentor en ’n tweede pa beskryf. Sy het later self ’n atletiekafrigter geword en by hom geleer hoe om met kinders en jong atlete te werk. Hulle het mekaar geken vandat sy agttien jaar oud was.

Lamprecht het later ’n hoogleraar in anatomie aan die Universiteit van die Vrystaat geword. Hier het hy ook vir Pieter Labuschagne afgerig. Labuschagne was later die afrigter van die atletieklegendes Elana Meyer en Zola Budd. Soos Lamprecht was Labuschagne ’n emeritusprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hy is met die Staatspresident-toekenning bekroon en was een van Suid-Afrika se voorste atletiekstatistici. Hy was ook lid van die internasionale vereniging vir atletiekstatistici.

Hy is op 2 Desember 2024 in die ouderdom van 81 jaar na ’n stryd met Parkinson-siekte oorlede.

Lamprecht word oorleef deur sy vrou, Dionais, drie kinders en sewe kleinkinders.

Daantjie Badenhorst