DIE SLAGVELD VAN DIE TUGELA, 1838, DIST. MTUNZINI

Die hoofweg na die noorde loop oor die John Rossbrug oor die Tugela. Onmiddellik ten noorde van die rivier op die hoogliggende terrein aan die regterkant van die pad, waar Fort Tenedos in 1879 opgerig is, het hierdie beroemde slag op 17 April 1838 plaasgevind.

Aan die begin van Februarie 1838 is Piet Retief en sy gevolg by Dinganestat vermoor. In die nag van 16 Februarie het die Groot Moord langs die Bloukrans- en die Boesmansrivier plaasgevind. Om Dingane vir sy verraad te straf, is met die Engelse handelaars in Port Natal in onderhandeling getree en daar is ooreengekom dat hulle met hul Bantoe-volgelinge en Uys en Potgieter met ’n Voortrekkerkommando gelyktydig uit twee rigtings teen die Zoeloe sou optrek.

Die Voortrekkerkommando het op 6 April uitgetrek en is op 11 April in die noodlottige slag van Italeni verslaan. Eers twee dae hierna het ’n mag bestaande uit 18 Blankes, 30 Gekleurdes en ongeveer 1 500 Bantoevolgelinge onder aanvoering van Robert Biggar, John Cane en John Stubbs Port Natal verlaat. Hulle het noordwaarts langs die kus opgetrek en die Tugela op die aand van 16 April by die ou wadrif naby sy mond deurgegaan.

Met dagbreek die volgende oggend het dié gemengde mag, waarvan baie met geweers gewapen was, ’n aanval gemaak op Ndondakusuka, ’n kraal wat deur Dingane op die reeds vermelde hoogliggende terrein gebou was. Hulle het die kraal redelik maklik beset, maar toe, heel onverwags, word hulle deur ’n Zoeloemag van ongeveer 7 000 onder aanvoering van die geharde, beproefde Nongalaza, ’n man uit die ou skool van Tsjaka, oorval.

Gelaer op verhewe terrein en gewapen met vuurwapens het die gemengde mag die aanstormende Zoeloe swaar verliese toegedien, maar die oormag was te groot. Die verdedigers is teruggedwing. Baie van hulle is oor die hoë krans binne in die rivier gedompel terwyl 600 dood op die slagveld gelaat is. Vyftien Blankes, onder wie die drie leiers, het gesneuwel.

Hoewel hierdie slag so rampspoedig geëindig het, het die verdeling van sy leër om hierdie bedreiging die hoof te bied, Dingane sekerlik verhoed om sy oorwinning by Italeni kragtiger op te volg.

(Bronsplaat 1958)

Foto: Die slag van die Tugela • W.C. Holden: History of the Colony of Natal

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 261-262.