
GINANI-SENDINGPOS, NYONI
Dertien km noord van die Tugela in ’n boog van die Umsundusi, daar waar die Winya inloop, tussen die teenswoordige Mandeni- en die Nyoni-spoorwegstasie naby die ou Indulindipad en ongeveer 500 meter wes van die hoofweg na Gingindhlovu, was die ou Amerikaanse sendingpos Ginani geleë.
Teen die einde van 1835 het die Amerikaanse sendelinge dr. Adams, Aldin Grout en George Champion in Natal aangekom. In Julie 1836 het Grout en Champion Dingane besoek en hy het teensinnig aan hulle verlof gegee om in die Hlomendleni, d.w.s. die landstreek tussen die Tugela en die Amatigula, sendingwerk te doen. In September het hulle hul sendingpos hier in die vrugbare, waterryke vallei reg teenoor die groot Zoeloestat Nyandoona aangelê en dit Ginani na Nginani, Ek is met julle, genoem. In Oktober is ’n tweede pos, Hlangeswe aan die Umhlatuze, deur twee ander Amerikaanse sendelinge, dr. Alexander Wilson en Henry Venable gestig.
Die geskiedenis van die sendingpos Ginani is ’n roerende verhaal van die gelowige en volhardende stryd van hierdie toegewyde Christene teen die moedswillige verset van die heidense Kokela, hoof van Nyandoona, teen die sendingarbeid. Daarbenewens was hierdie pos geleë in die slag van die woelinge en gistinge in Zoeloeland gedurende die jare 1837 en 1838, want hier in Hlomendleni was, behalwe Nyandoona, nog twee groot Zoeloestatte vanwaar Dingane sy keur-impies getrek het–Hlomendleni Omhlope, die kraal van die geharde Witskilde onder hul gevierde leier Nongalaza, en Hlomendleni Omnyama, die kraal van die Swartskilde. Die skudding van elke politieke of militêre trilling is dus hier gevoel.
Op sy eerste besoek aan Dingane in November 1837 het die Voortrekkerleier, Piet Retief, op sy heen- en terugreis hier by Ginani aangegaan. Dié sendelinge was van die eerste blankes wat van sy moord op 6 Februarie 1838 te Mgungundhlovu verneem het en hulle was verplig om in Maart die wyk te neem. Ginani is daarop deur die Zoeloe vernietig.
(Bronsplaat 1942)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 262.
