
KAREL LANDMAN-WONING, WASBANK, DIST. LADYSMITH
Vanaf Ladysmith loop die grootpad reg noordwaarts na Transvaal. Skaars 24 km vanaf Ladysmith draai ’n pad skerp regs om oor Elandslaagte na Wasbank te loop. Hier op die plaas Uithoek staan die ou woning waarin die bekende Voortrekker Karel Landman van 1852 tot 1875 gewoon het.
Karel Pieter Landman (1796-1875) was oorspronklik uit die buurt van Uitenhage, maar het later verhuis na Olifantshoek (tans Alexandria) waar hy in die Sesde Xhosa-oorlog al sy besittings verloor het. In Oktober 1837 het by ’n trekgeselskap uit die Kolonie na Natal gelei. In die tydperk na die moord op Piet Retief neem hy in April 1838 deel aan die noodlottige ekspedisie van Uys en Potgieter. In Mei 1838 besoek hy saam met Maritz Port Natal en neem in naam van die emigrante-boere besit van die hawe. In Junie 1838 word hy tot algemene kommandant gekies om ’n deel van Maritz se pligte oor te neem.
Ietwat later verhuis hy met die mense van sy trek na Port Natal en gaan woon in die sogenaamde Paallaer aan die mond van die Umgenirivier. Na die dood van Maritz en tot die koms van Andries Pretorius word hy as die leier van die Trekkers in Natal erken.
In Desember 1838 trek Landman as tweede kommandant saam met Pretorius se Wenkommando by Wasbank verby en neem aan die slag by Bloedrivier deel. Na die besoek van hierdie kommando aan Dinganestat word hy en ’n groot aantal manskappe in die vallei van die Wit-Umfolozi deur die Zoeloe in ’n hinderlaag gelok. Met behulp van Hans de Lange slaag hy egter daarin om met die verlies van slegs enkele manskappe die kommando uit die lokval te red.
Sedert sy verblyf in die Kolonie was Landman bekend as ’n goeie bouer en dit is waarskynlik dat hy hierdie huis eiehandig gebou het. Hy het dit tot sy dood bewoon; is daaruit begrawe, en sy graf is daar naby geleë’.
Enige tyd gelede is die huis deur brand ernstig beskadig maar dit word weer herstel.
(Geproklameer 1938)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 278.
