VOORTREKKERSTANDPLASE, DIST. ESTCOURT

Nadat die Groot Trek aan die begin van 1838 die Drakensberge oorgekom het, het die Voortrekkers, in weerwil van Piet Retief se opdrag om bymekaar te bly, hulle suid van die Tugela langs sy sytakke, die Bloukrans- en die Boesmansrivier, versprei. Op 6 Februarie, na die moord op Piet Retief en sy gevolg, het Dingane sy impies gestuur om die Voortrekkers hier langs die Tugela te kom ”opeet”. In die nag van Vrydag, 16 Februarie, het die Zoeloe-leër op die niksvermoedende laers toegesak en moord en verwoesting gesaai. In die Groot Moord is 41 mans, 56 vrouens, 185 kinders en 200 diensbodes om die lewe gebring. Daarbenewens is 20 000-25 000 stuks vee weggevoer.

Gedurende hierdie Groot Moord en in die Voortrekkers se omswerwinge daarna, het ’n aantal standplase besonder historiese betekenis gekry, en op hierdie plekke het die Historiese Monumentekommissie klipstapels en bronsplate ter herdenking van die gebeurtenisse opgerig.

(a) Saailaer

Een van die mees suidelike laers gedurende die Groot Moord was Saailaer, die standplaas van die bekende Voortrekkerleier, Gert Maritz. Dit is in die hoefysterdraai van die Boesmansrivier onmiddellik oos van Estcourt geleë. Vanaf Fort Durnford, bo-op die kruin van die hoogte ten ooste van Estcourt, kry ’n mens ’n pragtige vergesig op die ganse omgewing. Hier reg voor vloei die Groot-Boesmansrivier in die Klein-Boesmansrivier en daar in die vurk lê Estcourt. Regs maak die Boesmansrivier die groot hoefysterdraai waarin Saailaer oorkant teen die bult lê.

Dit was hier waar Gert Maritz vroeg in 1838 laer getrek het. ’n Versigtige en wakker leier, bedag op ’n moontlike Zoeloe-aanval, het hy sy laer deeglik opgestel. Dit het waarskynlik teen die rant net links van die huidige plaaspad gestaan, waar tans nog oorblyfsels van kleimure te sien is.

Omdat Saailaer ietwat van die direkte roete van die Zoeloe-aanval op die nag van 16/17 Februarie gelê het, is Maritz vroeg in die môre deur skote uit ander laers gewek. Hy kon hom dus op ’n aanval voorberei. Die aanval het dan ook uiteindelik van die oorkant van die rivier gekom. Die rivier was in vloed en die Voortrekkers het in die rivier ’n onvergelyklike bondgenoot gevind. Die Zoeloe het die rivier probeer deurgaan deur hand-aan-hand ’n ketting te vorm, maar met die koperkanonnetjie is die ketting elke keer stukkend geskiet. Uiteindelik het die Zoeloe op die vlug geslaan en Maritz kon met ’n kommandotjie die ander laers te hulp snel.

Terwyl Maritz se laer hier gestaan het, is met ’n besproeiingskema begin. ’n Watervoor, wat vandag nog gebruik word, is uitgehaal en die vrugbare lande hier in die vallei is, soos vandag nog, bewerk. Ander oorblyfsels uit die tyd is die reeds vermelde stukkies kleimure en ’n ou pad waarvan die moet oor die plaas en die drif deur die rivier nog duidelik te sien is. Baie later is hier ’n monument ter ere van Gert Maritz opgerig.

Ná die Groot Moord het Gert Maritz sy laer van hier na Strydpoort versit en na die slag van Bloedrivier het die plaas Saailaer die eiendom van die Rudolphs geword en vir geslagte in hul besit gebly

(b) Rensburgkoppie

Suidoos van Estcourt, links van die pad na Mooirivier, is Rensburgkoppie geleë.

In die nag van die Groot Moord het die trek van die Van Rensburgs in die vlakte onderkant dié koppie gestaan. Gewek deur die geweerskote uit ander laers het hulle met vrouens en kinders na hierdie koppie gevlug. Weldra was die koppie deur die Zoeloekrygers volkome omsingel. So geniepsig en dodelik was die geweervuur van die veertien weerbare manne egter dat die Zoeloe nie in staat was om die koppie in te neem nie. Hoogs gevaarlik het die Voortrekkers se toestand egter geword toe hulle ammunisievoorraad uitgeput begin raak het. Gelukkig het ’n klompie man uit ander laers hulle te hulp gesnel. Deurgang tot die verdedigers was onmoontlik, maar hulle kon so na aan die koppie kom dat hulle kon verneem dat die Van Rensburgs se ammunisie aan die opraak is en dat daarin hul waens ’n voorraad te vinde is.

Die onverskrokke Marthinus Oosthuizen jaag oombliklik na die laer; gryp ’n sak kruit en koeëls, en nog voor die Zoeloe mooi weet wat gebeur, jaag hy ongedeerd deur hulle tot op die koppie. Die geweervuur lewe weer op. Die Zoeloekrygers begin weifel en slaan uiteindelik op die vlug.

(Bronsplaat 1967)

(c) Bloukrans

Ongeveer 12 km vanaf Estcourt op die hoofweg na Colenso, teenoor Chieveleystasie draai ’n plaaspad noordwaarts weg om oor die spoorweg en deur die Bloukrans- rivier na die Bloukransmonument te loop.

Gedurende die nag van Vrydag, 16 Februarie, is die grootste slagting onder die Trekkers van die laers aan die Moordspruit en die Bloukransrivier aangerig. Die laers van die Liebenbergs, die Rossouws en die Bezuidenhouts was die eerste aan die beurt. Daarna het die Engelbrechts, die Greylings en die Bothmas slagoffers van die aanval geword. Afgryslike tonele het hulle in hierdie nag van verskrikking hier langs die riviere afgespeel.

In die herinnering van die nageslag het hierdie gebeurtenis onuitwisbaar voortgeleef en op aansporing van die bekende genl. Piet Joubert van Transvaal, is op 16 Desember 1895 die beendere van die vermoordes in die verspreide grafte opgegrawe, byeengebring en in een graf herbegrawe. Ook die beendere van Gert Maritz is van Maritzdam by Loskop aan die Klein-Tugela hierheen gebring.

Die herbegrafnis was ’n groot plegtigheid, wat deur ’n groot skare onder wie ou Voortrekkers soos Marthinus Oosthuizen, bygewoon is. In 1897 is hier ’n monument opgerig.

(Geproklameer 1937)

Foto: Bloukrans • Thomas Baines • Africana-museum, Johannesburg

 

(d) Doornkop

Nouliks 16 km vanaf die Bloukransmonument, maar nou wes van Chieveley op die pad van Frere na Winterton, is Doornkop geleë. Hier het Piet Retief se laer gedurende die Groot Moord gestaan.

Hierdie laer, wat een van die grootstes was en waarin Piet Retief se vrou en ook Erasmus Smit en sy vrou hulle bevind het, was redelik goed getrek en kon op kort kennisgewing in ’n toestand van verdediging gebring word. Gelukkig het die Zoeloe-aanval nie so ver deurgedring nie en het dit ’n toevlugsoord vir vlugtelinge wat aan die aanval ontsnap het, geword. Bowendien kon die volgende dag reddingsgeselskappe uit hierdie laer gestuur word om dooies te begrawe en gewondes te red.

Ná die Moord het Gert Maritz sy laer vanaf Saailaer na Doornkop versit en dit in die nabyheid van die Retieflaer getrek. Kort daarna het ook die trek van Andries Potgieter hier aangekom en hy het dit in twee verdeel waarvan een deel by die laer van Piet Retief en die ander by die laer van Maritz aangesluit het. Ook Piet Uys het sy laer nader aan dié van Retief en Maritz getrek. Aan die begin van April 1838 was al die Voortrekkers dus hier rondom Doornkop in drie laers byeen. Van hier het dan ook die gesamentlike kommando onder Potgieter en Uys teen Dingane opgetrek. By Italeni is die kommando in ’n hinderlaag gelok. Piet Uys, sy seun Dirkie en nege ander manne het gesneuwel. Die kommando het teruggeval na Doornkop.

(Bronsplaat 1967)

(e) Modderlaer

Net agter Doornkop, d.w.s. aan die westelike kant daarvan, is nog ’n verdere Voortrekkerstandplaas bekend as Modderlaer. Dit word bereik met ’n klein paadjie wat uit die Frere-Winterton-pad noordwaarts uitdraai.

Die mislukking van die Potgieter-Uys-kommando het die posisie van die Voortrekkers uiters haglik gemaak. ’n Verdere Zoeloe-aanval was elke dag te wagte. Om dié rede het daar tussen 12 en 14 April ’n verdere vereniging van laers plaasgevind, nl. die laer van Retief en die laer van Piet Uys het saamgetrek. Hulle het hul standplaas hier aan die noordelike voet van die Doornkop gemaak en dit het as Modderlaer bekend geword omdat daar in die reëntyd so baie modder was.

Die Voortrekkers was dus teen die helfte van April 1838 in twee groot laers by Doornkop saamgetrek, nl. Modderlaer aan die westekant en Maritz se laer aan die noordooskant.

(f) Veglaer

Hierdie Voortrekkerstandplaas is ongeveer 19 km reg suid van Estcourt aan die Boesmansrivier in ’n diep, beskutte vallei, omring deur hoë rante, geleë. Hierdie laer, ook bekend as Gatslaer, kan met ’n gruispad wat langs die rivier op loop, bereik word.

Soos hierbo vermeld, was die Voortrekkers in April 1838 na die mislukte kommando van Potgieter en Uys in twee groot laers by Doornkop saamgetrek. Vanselfsprekend kon die groot laers nie te lank so dig bymekaar staan nie, want die veld het opgevreet geraak en daar was ’n tekort aan wild en brandhout. Teen die einde van Julie 1838 was die trekkers by die Modderlaer dus verplig om te versit en onder aanvoering van Koos Potgieter en Hans (Dons) de Lange het die meeste van hulle hier by Veglaer saamgetrek.

Op 13 Augustus is hierdie laer deur tienduisend Zoeloekrygers omsingel. Twee dae lank het hulle die Voortrekkers verwoed aangeval, maar die verdediging was so doeltreffend dat hulle die laer nie kon binnedring nie. Uiteindelik, op 15 Augustus, het die Zoeloe-impies die wyk geneem. Vandaar die naam Veglaer.

(Bronsplaat 1966)

(g) Sooilaer

Agtien km noordwes van Estcourt is die só kenmerkende Loskop geleë. Vyf km aan die ander kant van dié kop aan die Klein-Tugela, bokant die Gourton-brug was Gert Maritz se laaste standplaas – Sooilaer.

Aan die begin van Junie 1838 was ook Gert Maritz deur gebrek aan weiveld verplig om sy laer vanaf Doornkop na die Boesmansrivier, net bokant die huidige Estcourt, te verskuif. Kort daarna het hy dit weer hier na Sooilaer versit. Bewus van die dreigende gevaar van ’n Zoeloe-aanval, het hy die waens in ’n stewige laer getrek en ter versterking daarvan ’n swaar sooimuur daaromheen laat opstapel. Vandaar dan die naam Saailaer. Dit was op die linkeroewer van die rivier geleë.

Nadat hy vir die veiligheid van sy mense gesorg het, het hy begin met die aanlê van landerye. Hy het ’n watervoor uit die Klein-Tugela gehaal, geploeg en graan gesaai.

Van Sooilaer het ’n kommando tydens die Trekkers te Veglaer tydens die tweedaagse Zoeloe-aanval op 13 en 14 Augustus te hulp snel. Na hierdie slag was die noodsaaklikheid van die vereniging van die laers weer eens duidelik. Die Trekkers in Veglaer het dus met behulp van Maritz na Sooilaer verskuif, en Koos Potgieter, Hans de Lange, e.a., het hulle laer op die regteroewer, teenoor dié van Maritz getrek. In navolging van Maritz het ook hulle hul laer met ’n sooimuur versterk en het ook hulle met saaiery begin. So het die Trekkers verskeie maande hier aan die Klein-Tugela gestaan.

Gert Maritz so gesondheid het reeds enige maande veel te wense oorgelaat. In September het sy toestand meteens versleg en op Sondag, 23 September 1838, is hy in sy Sooilaer oorlede. Twee dae daarna is hy net buite die laer begrawe. In 1895 is sy beendere hier opgegrawe en by die Bloukransmonument herbegrawe.

Aan die begin van Desember 1838 sou die bekende Wenkommando onder aanvoering van genl. A.W.J. Pretorius vanaf Sooilaer uittrek om op 16 Desember die Zoeloemagte by Bloedrivier te verslaan. Na die terugkeer van die kommando het die Trekkers geleidelik uiteengegaan en Sooilaer het opgehou om as vesting te bestaan.

(Bronsplaat 1956)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 251-254.