
UMGUNGUNDLOVU (DINGAAN SE KRAAL) EN PIET RETIEF SE GRAF, DIST. MELMOTH
Ligging en uitleg
Van die Ntonjaneni-fontein daal die pad geleidelik in die vallei af. Onder op ’n heuwel draai die paadjie links na die Ned. Geref. Sendingpos van Dinganestat weg. ’n Paar km verder lê vir die Zoeloe en vir die Afrikaner een van die mees historiese plekke in Suid-Afrika – Umgungundlovu.
Nadat Dingane sy halfbroer, die Zoeloekoning Tsjaka, in sy koninklike kraal Dukuza, by die teenswoordige Stanger in 1828 vermoor het, het hy besluit om vir hom ’n nuwe militêre kraal hier in die oorspronklike tuiste van die Zoeloe te bou.
Strategies sowel as geografies was die terrein wat Dingane vir hierdie stat gekies het, uitmuntend. Dit is geleë teen die helling van een van die uitlopers van die Ntonjaneni. Van die kruin van hierdie uitloper, bekend as Singonyama of Leeukop, kan die ganse Emakhosini oorsien word. Die kraal was bowendien goed voorsien van water. Van die reeds vermelde Ntonjaneni-fontein bo-op die Ntonjaneni-heuwels is die Mkhumbanespruit, wat onmiddellik by die kraal noordwaarts verbyloop, gevoed. Ten weste van die kraal vloei die Nzololospruit, wat ’n klein entjie onderkant die kraal in die Mkhumbane loop. Aan die ander kant van die Mkhumbane is die heuwel bekend as Hlom’ amaButho of Bewapen-die-Soldate-heuwel, wat aan die noordelike punt, langs die spruit, ’n klipperige uitloper, KwaMatiwane, Dingane se galgheuwel, vorm.
Die plek wat Dingane vir sy kraal gekies het, was nie alleen strategies en geografies goed geleë nie, maar dit was ook ryk aan historiese en nasionale assosiasies. Die hoofingang van sy kraal was in die rigting van die graf van die stigter van die Zoeloedinastie waartoe Dingane behoort het—Zulu of Nkosinkulu. In alle waarskynlikheid was Nkosinkulu se kraal ook hier geleë.
Dingane het sy kraal Umgungundlovu genoem. Oor die ware betekenis van hierdie benaming is daar verskil van mening. H.C. Lugg lei die naam van die woorde ungungu wendhlovu af, wat beteken Die Geheime Vergadering van die Koning, ter herdenking aan Dingane se suksesvolle komplot om Tsjaka te vermoor. James Stuart vind weer dat, in ooreenstemming met die Zoeloe-tradisie, die kraal so genoem is omdat dit in die vorm van twee olifantstande was wat op die grond geplaas is, vandaar Die Plek van die Groot Olifant, wat deur oordrag op Dingane van toepassing gemaak is.
In sy algemene uitleg was die kraal ovaalvormig, met die hoofuitgang aan die onderent daarvan in die rigting van die samevloeiing van die twee spruite. Die sirkel van die kraal is gevorm deur twee konsentriese heinings van doringboompale, waarbinne die hutte geleë was. Na skatting was daar ongeveer 1 500 woonhutte, hoewel Piet Retief dit op 1 700 bereken. Aan die bo-ent van die groot kraal was daar drie kleiner krale.
’n Noukeurige ontleding van die kraal in sy onderskeie onderdele kan die beste van die heuwel Singonyama af in die rigting van die hoofuitgang gedoen word.
Byna honderd meter van die kruin van die heuwel was daar drie kleiner krale buite die hoofkraal. Hulle het as die Ebheje of Bheje bekend gestaan. In die middelste kraal was daar agt en in die ander twee vier hutte elk. Hier het alleen lede van die koninklike familie gewoon, terwyl daar in die linkerkantse kraal ’n aantal graanputte was.
Die boonste gedeelte van die hoofkraal, geskei van die res deur ’n hoë paalheining, het die Koninklike Kwartier of isigodlo uitgemaak. Dit het sy eie toegange gehad, wat noukeurig bewaak is, en het uit twee afdelings bestaan – die swarte en die witte. Die swart isigodlo aan die regterkant, naaste aan die Mkhumbane, was die persoonlike kwartier van Dingane en het uit ’n groep baie groot hutte bestaan. Daaronder was o.a. Dingane se twee hutte – sy ilawu of slaap- en eethut, wat alleen op een sentrale paal gesteun het, en sy groot hut of ontvangshut, wat volgens Piet Retief ’n deursnee van ses meter gehad het en deur 22 (sic) pale, geheel met krale oortrek, gestut is. (Vgl. Gardiner se tekening.) In die oop ruimte grensende aan die hutte was ’n hopie grond, wat nog te sien is, waarvandaan Dingane ’n volkome uitsig oor die kraal gehad het. Behalwe sy eie hutte was daar in hierdie afdeling die hutte van die matrone van die isigodlo, Dingane se gunstelingbywywe en sy persoonlike vrouebediendes.

Foto: Binnekant van Dingaan se hut • Kapt. Allen Gardiner: A Narrative of a journey to the Zoolu country in South Africa
Die wit isigodlo, wat baie groter was, het vir byna 100 meter in die rigting van die Nzololospruit gestrek. Hier, onder die toesig van die Nkosikasi of hoofvrou het die koning se 300 of meer vroue of Ndlunkulu gewoon. Hulle hutte was gerangskik in groepe van drie, en die hele afdeling was deur paalheinings so opgedeel dat dit ’n ingewikkelde doolhof uitgemaak het.
In die onmiddellike omgewing van die koninklike kwartier, buite die heinings, was daar ’n groot ashoop, waarvan die reste nog te sien is en wat vroeër verkeerdelik as Dingane se bad bestempel is.
Omdat Umgungundlovu ’n militêre kraal was, het die kaserne van die Zoeloekrygsmanne wat hier gestasioneer was, altwee die horings beslaan wat na die hoofingang afgeloop het. Daar was altesame nege impies waaronder ook die beroemde Witskilde. Elkeen van die horings het vier impies gehuisves, en elke impie het sy eie terrein binne die horing beslaan. In bevel van elke impie was ’n indoena en oor elkeen van die horings was ’n hoofindoena. Oor die regterhoring, soos van bo af gesien, het Ndlela die bevel gevoer. Sy hut was net buite die swart isigodlo. Nzobo, of Dambuza, was opperbevelhebber van die linkerhoring, en sy hut was aan die bo-ent van hierdie horing, net onderkant die westelike punt van die wit isigodlo.
Op bepaalde afstande tussen die hutte van die kaserne was daar uMyango of bergplekke vir die skilde. Hierdie bergplekke is op pale gebou om so die skilde teen miere en ander insekte te beskerm. Volgens William Wood was daar altesaam vier sulke hutte.
Die ovaalvormige kraal het ’n geweldige oop terrein omsluit. Aan die onderent van hierdie oop terrein, aan weerskante van die hoofingang, was daar groot krale waarin groot troppe beeste gehou is. Aan die bo-ent van hierdie gedeelte, net onderkant die isigodlo, was ’n ander groot beeskraal, waar, volgens Stuart, die slagbeeste of die “beeste vir die mond” gehou is. Volgens sekere skrywers was dit egter die kraal vir Dingane se wit beeste. Die koning kon hierdie kraal direk van die isigodlo binnegaan deur ’n hek, waarvoor daar ’n hut vir ’n wag gestaan het. In hierdie kraal het die koning elke oggend sy bad alfresco gehad. Hier ook het hy sy raadsvergaderings gehou.
Die oop terrein tussen die verskillende beeskrale was bekend as die isibaya of groot beeskraal en is ook as paradeterrein vir die krygsmanne gebruik. Aan die bo-ent van hierdie ruimte, net onderkant die kraal vir die wit beeste, het Dingane by belangrike geleenthede sitting geneem.
Dit kortliks was die algemene uitleg en organisasie van Umgungundlovu.

Foto: Umgungundlovu • Kapt. Allen Gardiner: A Narrative of a journey to the Zoolu country in South Africa
Geskiedenis
Dingane het ’n hele aantal krale gehad wat oor Zoeloeland verspreid gelê het, en hoewel hy soms by Khangela, naby die teenswoordige Eshowe, vir ’n paar maande in die jaar gewoon het, is Umgungundlovu as sy hoofstat beskou. Van hier het hy die Zoeloeryk deur Tsjaka opgebou geregeer. Van hier is ook dikwels impies gestuur om wederstrewige onderhoofde en kleiner stamme te onderwerp. Die geskiedenis van hierdie kraal as die beliggaming van Zoeloemag en Zoeloegewoontes gedurende die jare 1828 tot 1838 is dus buitengewoon omvattend en interessant, maar hier kan alleen ’n paar gebeurtenisse wat ten nouste aan die kraal verbonde is, opgesom word. Gedurende Tsjaka se uitroeiingsoorloë is die Amangwanestam, onder die leierskap van Matiwane, wat destyds in die teenswoordige distrik Vryheid gewoon het, oor die Drakensberge gedryf. Op ’n plundertog het hulle deur Basoetoland en oor die Oranjerivier die Kaapkolonie binnegetrek, vanwaar hulle deur die koloniale magte teruggedryf is.
Met ’n brokkie van sy stam het Matiwane uiteindelik na Zoeloeland teruggekeer en na Umgungundlovu gegaan om by Dingane skuiling te soek. Met geveinsde vriendelikheid het Dingane hom ontvang, maar skielik het hy hom na die klipperige heuwel oorkant die Mkhumbane laat neem en hom daar gedood. Van daardie dag af het die heuwel as KwaMatiwane bekend gestaan. Dit het geword die Golgotha van Umgungundlovu, waaroor die aasvoëls altyd gesweef het.
Op Umgungundlovu is Dingane gereeld deur Engelse handelaars uit Port Natal besoek. Henry Fynn, Dick King en Nathaniel Isaacs het presente hierheen gebring en krale en ander kleinighede vir ivoor geruil. In 1834 het die bekende reisiger dr. Andrew Smith op ’n spesiale besoek van die Kaapkolonie na Umgungundlovu gekom. Die handelaars is deur sendelinge gevolg. In 1835 het kapt. Allen Gardiner Dingane besoek met die bede dat hy toelaat dat ’n sendeling te Umgungundlovu gevestig word. Die gevolg was dat eerw. Francis Owen hier gestasioneer is. In opdrag van Dingane het Owen sy kamp oorkant die Mkhumbane op die heuwel Hlom’ amaButho opgeslaan, waar die sendingpastorie van die Ned. Geref. Kerk tans staan. Owen het hier vir iets meer as ’n jaar gearbei. Die Amerikaanse sendelinge George Champion, A. Grout, N. Adams, A. Wilson en H. Venable het ook dikwels by Dingane besoek afgelê.

Foto: Sketsplan van Dingaanstat • James Walton
Piet Retief se Graf
Teen die middel van 1837 het die voorhoede van die Groot Trek die Drakensberge bereik. Piet Retief en ’n paar volgelinge het van Kerkenberg oor Port Natal na Umgungundlovu gereis om van Dingane ’n grondskenking te verkry waarop die Voortrekkers hulle sou kon vestig. As voorwaarde vir so ’n skenking het Dingane gestel dat Piet Retief eers die beeste, wat deur mense soos die Boere gekleed, gesteel is, moes terugbesorg. Retief het toegestem en het daarin geslaag om die beeste van die skuldige Sikonyella, hoof van die Mantatisi in Noord-Basoetoland, terug te wen. Op 3 Februarie 1838 het Piet Retief met 69 metgeselle en sowat 30 Kleurlingagterryers met die beeste by Umgungundlovu aangekom.
Nadat Piet Retief ’n paar dae by die kraal vertoef het, het Dingane ’n traktaat opgestel waardeur hy aan die Voortrekkers die gebied tussen die Tugela en die Umzimvubu “and from the sea to the north as far as the land may be useful and in my possession” gegee. Hierdie dokument, wat 4 Februarie 1838 gedateer is, is op 6 Februarie in die laaste onderhoud tussen Piet Retief en Dingane onderteken. Op hierdie môre het die Voortrekkers en hulle agterryers die kraal ongewapend binnegegaan om die finale onthaal by te woon en om van die koning afskeid te neem. Terwyl die Zoeloekrygers gedans het, het Dingane verraderlik die bevel aan hulle gegee om die Voortrekkers te dood. Die Blankes het hulle heldhaftig verset, maar hulle is oorrompel en na die galgheuwel gesleep, waar hulle gedood is. Die sendeling Owen en sy huishouding, wie se kamp op hierdie heuwel uitgekyk het, was die enigste blanke ooggetuies van hierdie toneel.
Onmiddellik na die moord op Piet Retief het Dingane duisende van sy krygsmanne van Umgungundlovu afgestuur om die Voortrekkers langs die Bloukrans- en die Boesmansrivier uit te wis. Op die vroeë môre van 17 Februarie het hulle onverwags die laers aangeval en voor die voet mans, vrouens en kinders om die lewe gebring, maar hulle is uiteindelik teruggeslaan. Die Voortrekkers het egter nie daarin geslaag om die dood van hulle landgenote te wreek nie, en vir byna ’n jaar is hulle voortdurend deur impies aangeval. Uiteindelik het genl. A.W.J. Pretorius op 16 Desember 1838 die Zoeloeleër by Bloedrivier verslaan en opgetrek om Umgungundlovu aan te val. By die nadering van die Voortrekkerkommando het Dingane sy kraal verlaat en van ’n afstand het hy aan Velenjeni Mawongo, sy lyfbediende, opdrag gegee om die kraal aan die brand te steek. Van ’n heuwel Isihlalo, ver na die noorde, het hy gesit en kyk hoe sy groot kraal in vlamme opgaan. Toe die Voortrekkers dus op 21 Desember daar aankom, het hulle die kraal aan die brand en verlate gevind. Op KwaMatiwane het hulle die oorskot van Piet Retief en sy manskappe, asook die leersakkie met die verdrag daarin gevind.
Die beendere van Piet Retief en sy manskappe is deur Pretorius aan die voet van KwaMatiwane begrawe, en in 1922 is alhier ’n monument ter herinnering aan hulle opgerig.
In 1936 is Umgungundlovu deur die Historiese Monumentekommissie tot historiese monument verklaar. Twee jaar later is ’n bronsreplika van die verdrag, wat oorspronklik in Engels opgestel is, op die plek opgerig waar dit sou geteken gewees het.
(Geproklameer 1936)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 268-272.
