
MONUMENT TER ERE VAN PIETER LAFRAS UYS, UTRECHT
In Utrecht is een van die weinige, werklike monumente geleë wat deur die Historiese Monumentekommissie tot ’n besienswaardigheid verklaar is–die eenvoudige maar waardige en elegante gedenkteken ter ere van Pieter Lafras Uys.
Pieter Lafras Uys was ’n seun van die bekende Voortrekkerleier met dieselfde naam, en ’n jonger broer van die held, Dirkie, wat altwee in die noodlottige slag van Italeni in 1838 deur die Zoeloe gedood is. Na die anneksasie van Natal deur Engeland het hy hom in die omgewing van Utrecht, wat toe deel van Transvaal uitgemaak het, gaan vestig. Met die uitbreek van die Zoeloe-oorlog van 1879 het hy sy dienste aan die Britse magte aangebied en het hy, volgens kol. Evelyn Wood, “sy groot aantal familielede op sy eie koste bewapen en voorsien van perde, toerusting en proviand”. Tesame met ander Transvalers het hy aldus ’n burgermag in die veld gebring.
Hierdie burgermag het ’n belangrike rol in die aanval op Zoeloeland vanuit die noordweste gespeel. So het dit op 1 Februarie 1879 saam met ’n berede mag onder kol. Redvers Buller aan ’n waaghalsige en geslaagde strooptog op die kraal van Qulusi deelgeneem. Op 28 Maart het dié burgers weer met Buller se sogenaamde “flying column” saamgegaan om ’n aantal Zoeloebeeste op Hlobaneberg te gaan buit maak. Bo-op die berg is die klein troepemag deur ’n geweldige oormag Zoeloe omsingel. Hulle het deur die Zoeloe gebreek en moes teen die berghang af ontkom. Dit was hier waar kol. (later sir) Redvers Buller sy V.C. vir dapperheid verwerf het. Uys was by hom, maar het teruggegaan om te kyk wat van sy manskappe geword het. Hy is deur ’n Zoeloe wat soos ’n wildsbok van een klip na ’n ander teen die berg afgespring het, en nie betyds geskiet kon word nie, van agter doodgesteek. Waar hy geval het, is ’n gedenkteken deur sy makkers opgerig en ’n tweede is in Utrecht self opgerig, waarop ons lees:
Erected by his fellow burghers of the
Town and District of Utrecht and the
Officers and Men of the Flying Column
under the command of General Wood,
with whom he served, as a token of their
admiration and respect.
(Geproklameer 1937)

Foto: J.N. Crealock • Slagveld van Hlobane waar Pieter Lafras Uys gedood is • Universiteit van Natal
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 282-283.
