PREEKSTOEL VAN DIE GELOFTEKERK

In die ou Geloftekerkie, tans Voortrekkermuseum, staan sy sierlike preekstoel. Vir die Boer is ’n kerk sonder sy preekstoel ondenkbaar. Reeds vir die eenvoudige ou “rietkerk” van Erasmus Smit is ’n preekstoel deur die timmerman C. H. Nagel in opdrag van Piet Retief se weduwee en ’n aantal gemeentelede teen ’n koste van 65 riksdaalders vervaardig. Toe die nuwe Geloftekerk egter voltooi is, moes daarvoor ’n nuwe preekstoel gemaak word. Volgens oorlewering is die preekstoel deur C.H. Nagel met behulp van C. Heine, uit verskillende plaaslike houtsoorte, gemaak. Ooreenkomstig ’n verklaring van Mary Lindley is dit vanaf 1840 deur haar vader, eerw. Daniel Lindley, gebruik. In 1861 met die ingebruikneming van ’n nuwe en groter kerk op die aangrensende terrein is dit daarheen oorgeplaas nadat dit 30 cm hoër gemaak en van ’n klankbord voorsien is.

Vir byna ’n eeu sou die ou preekstoel hier waardige diens doen om met die oprigting van die groot Gedenkkerk sy weg na sy oorspronklike tuiste terug te vind.

(Geproklameer 1940)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 241.