VOORTREKKERPAD, WORLD’S VIEW

Noordwes van Pietermaritzburg styg die helling van Swartkop, ’n punt van die Boesmansberg, geleidelik om bo-op die berg skielik ’n natuurlike platform te maak, van waar ’n mens ’n onvergelyklike uitsig oor die dorp en die Umsundusivallei het. Hierdie uitkykplek het die paslike naam van World’s View en het vir die inwoners van Pietermaritzburg en vir reisigers van oor die hele land ’n groot aantreklikheid.

World’s View is egter nie slegs ’n natuurmonument nie, maar ook ’n geskiedkundige besienswaardigheid. Sedert die koms van die Voortrekkers in 1838 na hierdie omstreke het die enigste pad van Durban en oor Pietermaritzburg na die Drakensberg jare lank oor hierdie terrein geloop. Hoewel tans onbegaanbaar, kan die ou Voortrekkerpad uit Pietermaritzburg teen die helling van die berg uit, oor World’s View en oor die ruggens tot by Allemansdrif in die Umgenirivier met gemak gevolg word. Op sommige plekke is die moete wat die remskoene in die rotslae gelaat het, nog te sien.

Die pad het waarskynlik ’n ou voetpad gevolg, maar watter Voortrekkers dit vir die eerste keer met hul waens oor hierdie hoogtes gewaag het, is in die geheel nie seker nie. Miskien het Gert Maritz en Karel Landman wat in Mei 1838 met ’n sterk kommissie van 150 man en 30 waens aan Port Natal besoek afgelê het, hierdie roete vir die eerste maal behoorlik oopgetrap. In Oktober 1838 het kmdt. Pieter Greyling hom op Boesmansrand, waar Pietermaritzburg later uitgelê sou word, gevestig en hierna sou daar ’n gereelde verkeer van die Baai en van die binneland oor hierdie pas wees. Eers baie jare later sou die ou pad in onbruik raak.

(Geproklameer 1968)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 248.