HOWICK-WATERVAL

Drie-en-twintig km noord van Pietermaritzburg, net van die hoofweg af, is die dorpie Howick geleë. Hier, op sy kronkelpad vanaf die glooiende voetheuwels van die Drakensberg na die Indiese Oseaan by Durban, stort die Umgeni oor die dolorietrotslae om daar 95 meter benede verder in die vallei af te vloei. Hierdie Howick-waterval met sy pragtige omgewing vorm een van die skoonste natuurtonele, nie alleen in Natal nie, maar in die ganse Suid-Afrika.

Aan die Voortrekkers en vroeë Britse setlaars was hierdie waterval goed bekend, want ongeveer ‘n kilometer aan die bokant daarvan is Allemansdrif, waar die hoofroete vanaf die Drakensberg na Durban deurgeloop het.

Hierdie waterval met 32 hektaar daaromheen is deur proklamasie teen skending in die toekoms beveilig.

(Geproklameer 1951)

Foto: Die Howickval • W.C. Holden

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 250.