DIRK DE VILLIERS (1924-2009)

Dirk de Villiers was een van ons land se voorste rolprentvervaardigers en akteurs wie se loopbaan voor en agter die kamera oor ses dekades gestrek het.

Dirk is op 26 Julie 1924 op die plaas Villieria in die Douglas-distrik in die Noord-Kaap gebore en was een van ses broers. Dirk se ma is oorlede toe hy vier jaar oud was, en hy het op die oewers van die Vaalrivier grootgeword en in Jagersfontein, Marquard en Bethlehem in die Vrystaan skoolgegaan. Hy was van skooldae af lief vir toneel en sedert 1942 het hy in verskeie dramas vir die Johannesburgse Afrikaanse Amateurtoneelspelers (JAATS), wat hy saam met Schalk Theron gestig het, en die Nasionale Toneelorganisasie opgetree.

Hy het in hierdie tyd ook aandklasse in meganiese ingenieurswese geloop en hom in hierdie rigting bekwaam. Later het in hy in die Kaapstadse hawe gewerk en ’n kursus in mariene ingenieurswese in Londen voltooi. Daarna het hy ’n skeepsingenieur rondom die wêreld geword, totdat hy in 1950 met Addy, wat ’n aktrise was, getroud is. Hulle is in 1964 geskei nadat vyf kinders, onder meer die bekende akteur Gys de Villiers, gebore is. In die 1950’s was hy ’n stigterslid van die Roodepoortse Amateur-Toneelorganisasie.

Dirk het sy debuut as akteur in Huis op horings in 1963 gemaak, waarna rolle in Piet my niggie, Kavaliers, Kruger-miljoene en die reusetreffer Hoor my lied gevolg het. In 1968 het hy sy eerste vollengte rolprent vervaardig. Jy is my liefling, met Franz Marx en Min Shaw in die hoofrolle, was baie gewild, maar Cobus Rossouw het die hoofrol, wat geskryf is met hom in gedagte, verwerp nadat hy die draaiboek gelees het. Nadat Dirk die volgende jaar in Stadig oor die klippe, met Al Debbo in die hoofrol, gespeel het, het sy volgende rolprent, Geheim van Nantes, wat gebaseer was op ’n Springbok Radio-vervolgverhaal, gevolg. Pieter Hauptfleisch, Leonie Ross, Francois de Bruyn en Nic de Jager het die hoofrolle vertolk. In 1971 het Dirk die draaiboek van Die lewe sonder jou in New York geskryf, met Don Leonard in gedagte vir die hoofrol. Dirk het vertel dat hy vir Don gebel het en gevra het wat hy vir Don kon doen sodat hy die hoofrol sou vertolk. Don het gesê hy het ’n motor nodig gehad, en Dirk het vir hom een gekoop waarmee hy vir die res van sy lewe gery het. Weer eens was Leonie Ross in een van die hoofrolle. In dieselfde jaar is Dirk se volgende rolprent, My broer se bril, met Cobus Rossouw in die hoofrol, vrygestel. Dit was een van die min Afrikaanse rillers tot dusver.

Een van die suksesvolste Afrikaanse rolprente van die 1970’s was die komedie Tant Ralie se losieshuis met twee legendes, Wena Naudé en Siegfried Mynhardt. Weer eens was Dirk die regisseur. Dit was een van net ’n handjievol Afrikaanse rolprente waarvan daar ’n opvolgrolprent vervaardig is, in hierdie geval Troudag van tant Ralie. Dit het gelyk asof Dirk groot sukses met komedies behaal het, want in 1974 het nóg een, naamlik Pens en pootjies, met Al Debbo, Don Leonard en Marié du Toit in die hoofrolle, verskyn, weer eens met Dirk as regisseur. Nóg ’n baanbreker-rolprent waarvan Dirk die regisseur was en die draaiboek geskryf het, was Daan en Doors oppie dieggins, met Louw Verwey en Rod Alexander in die hoofrolle. Dit was een van die min skop-skiet-en-slaan-rolprente tot dusver in Afrikaans, maar dit het effens in die vergetelheid verdwyn. Nogtans het drama nie agterweë gebly nie; hy en Marié du Toit het saamgespan om Met liefde van Adele, waarin Marié die hoofrol vertolk het, te skryf. Weer eens was Dirk die regisseur. Die voorlaaste rolprent waarvan Dirk regisseur was voordat hy na televisie oorgeskakel het, was Wit blits en peach brandy, met Don Leonard en Rina Nienaber, wat deesdae in Getroud met rugby te sien is, in die hoofrolle. Dirk het weer eens baanbrekerswerk met die rolprent Jantjie kom huis toe, wat in 1984 vrygestel is, gedoen deurdat die hele rolverdeling uit bruin akteurs, soos die sanger Neville Nash, Goliath Davids en die hedendaagse Suidooster-akteur Cedwyn Joel bestaan het.

Met die koms van televisie het Dirk hom daarop toegespits, en meer as twintig televisiereekse vervaardig. Die mees suksesvolle hiervan was Arende, wat van Ian Roberts, wat die hoofrol van Sloet Steenkamp vertolk het, ’n superster gemaak het. Onder die ander akteurs wat daarin te sien was, was Michelle Botes, Gavin van den Berg en Brian O’Shaugnessy. Nog ’n reeks wat baie gewild geword het, was Meeulanders, waarvan Dirk die regisseur en Gerrit Schoonhoven, wat in 2020 oorlede is, die vervaardiger was. Die reeks is gebaseer op Esta Steyn se gelyknamige boek. Onder die akteurs wat hoofrolle vertolk het, was Michelle Burgers, André Roothman, Denise Newman, Tertius Meintjies, Gavin van den Berg, Marie Pentz en Lida Botha.

Nadat Dirk lank in Johannesburg gewoon het, het hy na die Wes-Kaap verhuis, waar hy eers in Pringlebaai en toe in Tamboerskloof gewoon het voordat hy vir hom ’n wynplaas naby Barrydale in die berge van die Tradouwpas gekoop het. Net voor Kersfees in 2009 het Dirk ’n hartaanval gehad, en komplikasies en orgaanversaking wat daarna ingetree het, het sy dood op 28 Desember 2009 in die ouderdom van 85 jaar veroorsaak.

deur Daantjie Badenhorst