DIRK MEERKOTTER (1922-2017)

Dirk Meerkotter was ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat hom veral op visuele kunste toegespits het.

Dirk Adriaan Meerkotter is op 9 Februarie 1922 in Pietersburg (vandag Polokwane) gebore. Sy pa, Dirk, was van Nederlandse herkoms en het in musiek gestudeer. Hy het sy ma, Caroline Ackland, ’n Suid-Afrikaner van Britse herkoms, ontmoet terwyl hulle saam musiek in Amsterdam gestudeer het, en in 1911 het Dirk (senior) sy hart gevolg en na Suid-Afrika geïmmigreer nadat hulle getroud is. Hoewel hy ’n uitstekende pianis en orrelspeler was, moes hy, voordat hy na Suid-Afrika gekom het, gedurig van een dorp na die volgende verhuis om werk as kerkorrelis en musiekonderwyser te vind, aangesien dit nie maklik was om ’n bestaan uit musiek te voer nie. Twee jaar nadat Dirk (junior) gebore is, het die gesin na Ermelo verhuis en drie jaar later na Johannesburg, waar Dirk (junior) aan die Hoërskool Helpmekaar gematrikuleer het.

Dirk (junior) het sy pa se kreatiewe talent geërf, maar hy het hom tot die visuele kunste, eerder as musiek, gewend. Daarby het hy hom as apteker bekwaam; dit het hom die geleentheid gegee om sy skeppende vermoëns uit te leef en terselfdertyd ’n vaste beroep te beoefen. Dit was ook nie vir hom van kritieke belang om hom aan die smaak van die gemiddelde kunsliefhebber te steur nie; sy kuns was nie vir hom só ’n belangrike bron van inkomste nie. Hy het wel in 1944 tekenonderrig onder leiding van Maurice von Essche aan die Kunsskool van die destydse Witwatersrandse Tegniese Kollege ontvang. Hoewel sy vroeë werke invloede van Van Essche en van die kubinisme getoon het, het hy later ’n eie, individuele styl ontwikkel. Hy is in 1947 met sy vrou Annie getroud en altesaam vyf kinders is uit die huwelik gebore.

Voordat hy dertig jaar oud was, het hy in 1950 sy eerste solo-kunsuitstalling by die Constantia-galery in Johannesburg aangebied, en kunskritici en medekunstenaars het sy talent dadelik raakgesien. Dit was die eerste van byna negentig uitstallings wat hy aangebied het; die laaste een was in 2009 in Stellenbosch toe hy reeds diep in sy tagtigerjare was. Sedert die vroeë 1950’s het hy gereeld met medekunstenaars gesprekke gevoer oor moderne en kontemporêre bewegings, onder andere kubinisme, post-impressionisme, surrealisme, futurisme en abstrakte ekspressionisme. Dit was destyds vir hom en sy Suid-Afrikaanse medekunstenaars onmoontlik om soveel grensverskuiwende uitstallings in Europa en die Verenigde State van Amerika by te woon as wat hul tydgenote kon doen, maar dit was tog moontlik om die aard van sulke uitstallings te beleef deur uitsonderlike boeke en tydskrifte hieroor te lees, veral The Studio en Studio International.

Hoewel hy elke dag agt uur lank as apteker gewerk het, het hy nooit opgehou om aan kuns, kunsuitstallings en kunstenaars te dink nie. Hy het moeite gedoen om kunsgalerye in Johannesburg, asook die opening van uitstallings in die Johannesburgse middestand, waar kunstenaars in die 1950’s en 1960’s gefloreer het, by te woon. Hy het wel studiereise na die buiteland onderneem, maar kunstenaars en kunsstrominge het sy werk nie beïnvloed nie. Hy was ook voortdurend besig om die moontlikhede van ander media as skilderkuns te ondersoek; hy het ook in etswerk en pottebakkery uitgeblink.

Hy het in 1961 vir die eerste keer met pottebakkersklei begin werk. Hy het hom aanvanklik op gebruikersvoorwerpe toegespits maar later verskeie openbare opdragwerke in keramiekpanele uitgevoer. Hy het van ’n verskeidenheid kleure in sy skilderkuns gebruik gemaak, en dikwels swart gebruik om ’n meer dramatiese effek te kry.

Dirk en Annie se vriende was hoofsaaklik kunstenaars, onder meer Walter Battiss, Sydney Goldblatt, Nel Erasmus, Fred Schimmel, Cecil Skotnes , Larry Scully en Taffy Whippman. Whippman was die eienaar van ’n galery in Eloffstraat in Johannesburg, waar Dirk dertien solo-uitstallings in die 1950’s en 1960’s gehou het. Dirk was trouens só produktief dat hy elke vyftien maande met nuwe werk vorendag gekom het. Al hierdie kunstenaars het in Johannesburg gewerk, maar het gedurig kontak met kunstenaars in ander Suid-Afrikaanse hoofsentra gehad. Dirk het gereeld gesê dat Annie ’n groot invloed op sy werk gehad het; nie net het sy die intellektuele vermoë gehad om ’n positiewe bydrae tot hul kinders se ontwikkeling te lewer nie maar sy het haar man, wat ’n produktiewe abstrakte en kontemporêre kunstenaar was, ten volle ondersteun. Sy het eerlike maar konstruktiewe kritiek op sy werk gelewer.

Hy het homself hoofsaaklik geleer en tussen die laat 1950’s en vroeë 1960’s het hy al hoe meer in die werk van groot hedendaagse Europese kunstenaars begin belangstel. Hy het die noue verband tussen die ekspressionistiese, semi-abstrakte en abstrakte bewegings in die visuele kunste aan die een kant en die nie-verteenwoordigende kant van die werk van sommige klassieke musici, soos Stravinski en sy tydgenote aan die ander kant, waargeneem. Hoewel hy in die sosio-politiese kant van die lewe belanggestel het, het hy homself nie beskou as ’n visuele kunstenaar wat ’n storie vertel het nie.

Dirk het, benewens sy Suid-Afrikaanse uitstallings tussen 1951 en 2009, ook aan verskeie groepsuitstallings in Europa, Latyns-Amerika en die Verenigde State van Amerika deelgeneem. Hy het in die 1970’s ook uitnodigings ontvang om aan uitstallings in Florence in Italië en Sao Paulo in Brasilië deel te neem. In 1992 het die FAK ’n prestige-toekenning aan hom oorhandig, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom in 2001 vereer vir sy buitengewone bydrae tot die visuele kunste.

Onder sy opdragwerke was ’n keramiekpaneel getiteld “The Stage”, wat hy in 1979 vir die dramateater by die Staatsteater in Pretoria gemaak het. Hierdie werk is sestien meter breed en drie meter hoog. Hy het in 1969-70 en in 1985 ook opdragwerke vir die Universiteit van Potchefstroom en die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein onderskeidelik uitgevoer.

Hy is op 10 Desember 2017 in die ouderdom van 95 jaar oorlede.

Daantjie Badenhorst