EDWILL VAN AARDE (1938-2024)
Die gewese radio-omroeper, sportkommentator en aanbieder van die televisievasvraprogram Flinkdink, Edwill van Aarde, is op 3 Januarie 2024 na ’n kort siekbed in die ouderdom van 85 jaar oorlede.
Hy is op 20 Desember 1938 gebore en het in 1957 aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley gematrikuleer. Hy was die omroeper en kommentator met die langste ononderbroke diens by enige uitsaaier en het langer as vyftig jaar in die uitsaaiwese gewerk.
Op 2 April 1975 het hy vir die eerste keer die musiekwedstrydprogram Afrikaanse Treffers op die Afrikaanse radiodiens aangebied; Herbie en Spence se treffer, “My sonnestraal”, was die eerste liedjie wat as Treffer van die Jaar aangewys is. Hy het altesaam 904 uitsendings van hierdie program, wat Vrydagaande en Saterdagmiddae aangebied is, opgestel en aangebied. Onder die bekende Afrikaanse kunstenaars wat Treffers van die Jaar opgelewer het, was Sonja Herholdt (1977 en 1980), Rina Hugo (1984, 1986 en 1989, asook in 1993 saam met Gé Korsten), Anneli van Rooyen (1988 en 1990) en Francois en Elizabeth Fourie (1990 en 1992).
Hy het die vasvraprogram Flinkdink vir die eerste keer in 1976 aangebied en tien jaar lank die navorsing en aanbieding van 176 programme behartig. In 2003 het hy die program laat herleef, en die laaste reeks is in 2005 uitgesaai. Tydens elke reeks het die algehele kampioen ’n nuwe motor gewen. In 1985 was daar ’n uitdunprogram waartydens drie voormalige kampioene mekaar die stryd aangesê het.
Edwill se bydrae tot Afrikaanse sportkommentaar was nie net tot krieket beperk nie, hoewel hy meer as 500 wedstryde uitgesaai het. Hy was medeverantwoordelik vir sekere Afrikaanse krieketterme en nadat Suid-Afrika in 1991 weer tot internasionale krieket toegelaat is, het hy die toer na Indië meegemaak. Daarby was hy die eerste Afrikaanse kommentator wat krieket vanuit die hoofkwartier van krieket, Lord’s in Londen, uitgesaai het. Toe hy sy 500ste wedstryd uitgesaai het, het die Verenigde Krieketraad ’n ornamentele staanhorlosie aan hom oorhandig vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans. In die 1980’s was hy die kommentator by die wenstreep van die Comrades-marathon, veral toe Bruce Fordyce die wedloop oorheers het. Onder die ander sportsoorte wat hy uitgesaai het, was boks, tennis en rugby.
In 1989 was hy in die nuus as gevolg van sy weiering om sekere Afrikaanse kunstenaars se musiek op die radio te speel. Onder die kunstenaars wat hierdeur geraak is, was Eugene Havenga, wat voorheen die hoofsanger van die rock-groep The Julian Laxton Band was, asook Cora-Marie. Die platemaatskappy wat vir die verspreiding van hul musiek verantwoordelik was, het tot niet gegaan, maar Cora-Marie het ’n kontrak by ’n ander platemaatskappy losgeslaan.
Op 6 Mei 2005 was hy een van 58 mense wat deur die ATKV vereer is vir hul bydrae tot die uitbou van Afrikaans deurdat hy sy kennis op musiek-, sport- en taalgebied tot voordeel en bevordering van Afrikaans aangewend het.
Hy het vyftig jaar lank in dieselfde huis op Krugersdorp gewoon en was in September verlede jaar sestig jaar lank getroud. Hy word oorleef deur sy vrou, twee kinders, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Daantjie Badenhorst