ELRIA WESSELS (1949-2021)

Die bekende historikus Elria Wessels, wat veral bekendheid verwerf het vir haar boeke oor die Anglo-Boereoorlog, is op 15 Oktober 2021 in die ouderdom van 72 jaar oorlede.

Sy is op Dundee in KwaZulu-Natal gebore, en was ’n enigste kind. Sy het haar meestersgraad in geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat behaal, waarna sy ’n onderwyseres geword het. Sy was altyd bereid om vrae oor geskiedenis vir skooltake te beantwoord. In 1979 het sy as vakkundige by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein begin werk, maar hoewel sy in Maart 2005 afgetree het, het sy steeds sewe jaar lank op kontrakbasis gewerk. Sy was deel van wat as “die goue jare” van die museumbedryf beskou word, en in haar tyd by die Oorlogsmuseum het Suid-Afrikaanse museums oor die algemeen gedy. Sy het later ’n erelid van die Oorlogsmuseum geword, en deur die jare het sy duisende skoolkinders, studente, genealoë en die algemene publiek met navorsing gehelp. Die hoof van vakkundige dienste aan die museum, dr. Johan van Zÿl, sê sy het mense met ’n direkte verbintenis met die oorlog persoonlik geken.

Benewens die databasis van krygsgevangenes wat sy saamgestel het en die duisende oorlogsvrae wat sy deur die jare beantwoord het, het verskeie boeke uit haar pen verskyn, onder meer Kwinkslag: Humor in die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, Veldslae, Bannelinge in die vreemde, Boerespyse: Resepte en kospraatjies rondom die Anglo-Boereoorlog en Woam-thy name is valour: An overview of the role of the Afrikaner and uitlander women and children outside the Anglo Boer War concentration camps.

Sy het omtrent agttien jaar by haar kleinneef James Bennett, ’n veeboer van Wolmaransstad in Noordwes gewoon waarna sy na ’n aftreeoord op dié dorp verhuis het. Sy het omtrent ’n jaar lank aan demensie gely maar sy kon steeds rondbeweeg. Hoewel sy ’n ruk lank siek was, was haar dood skielik.

Wessels was nooit getroud nie.

deur Daantjie Badenhorst