ERASMUS SMIT (1778-1863)

ENIGSTE LERAAR WAT VOORTREKKERS VERGESEL

E

rasmus Smit, die man wat later ’n rol in die dae van die Groot Trek sou speel, is op 2 Augustus 1778 in Amsterdam (Nederland) gebore. Hy was slegs een jaar oud toe sy moeder oorlede is. Toe sy vader as tweede stuurman na Oos-Indië vertrek het, is die jong Erasmus in een van die Amsterdamse weeshuise geplaas. Tot 1801 het hy daar vertoef, om vervolgens van die direkteure van die “Nederlandsch Zendelinggenootschap” sy opleiding as sendeling te ontvang.

’n Jaar later is hy afgestudeer en voorbestem om onder die kleurlinge in Suid-Afrika te gaan werk. Deur hewige storms het die skip wat hom sou vervoer, sy koers verloor. Smit kom in Amerika aan en het eers in 1804 die Kaap bereik. Twee jaar later tref ons hom op die sendingstasie van dr. J.T. van der Kemp op Bethelsdorp aan. Later arbei sendeling Smit onder die Boesmans in die omgewing van die teenwoordige Colesberg, weer later tref ons hom by die Hottentotte op Stellenbosch aan.

Die Kaapse Kerk was nie voornemens om Smit te orden nie, en in die dertigerjare gee hy onderwys op Olifantshoek (vandag Alexandria). Intussen het hy met mej. Susanna Catharina Martiz, ’n suster van die bekende Gert Maritz, in die huwelik getree, en wanneer Maritz en sy manse in September 1836 uit Graaff-Reinet vertrek om aan die soektog na ’n nuwe vaderland deel te neem, dan is Smit en sy eggenote onder hierdie Voortrekkers.

Wanneer daar geleentheid is, hou hy op Sondae godsdiensoefeninge of lei hy sangbyeenkomste. Op hierdie wyse het hy sy mense, wat geen geestelike hulp van die Kerk van hul vadere ontvang het nie, gehelp en gelei. Wanneer Piet Retief hom in 1837 by die Trek voeg, word Smit nog in dieselfde jaar as predikant van die trekkers voorgestel. Nie almal het hom as leraar erken nie, en hul huwelike liewers deur die huwelikskommissaris, Gert Maritz, Iaat bevestig, omdat Erasmus Smit nie behoorlik as predikant georden was nie.

Smit het hom daarna by die laer van Piet Retief gevoeg om daar sonder teenstand sy werk met toewyding te verrig. Hy het ook katkisasie gegee, terwyl sy eggenote skoolgehou het.

Na die gewelddadige dood van Retief het Smit se posisie verswak. In dié dae was hy leraar op Pietermaritzburg. In Maart 1840 het die Volksraad in Pietermaritzburg besluit om Smit ’n jaargeld van seshonderd riksdalers toe te ken. ’n Aantal Voortrekkers het ds. P.K. Albertyn uit die Kaapkolonie beroep, maar hy het vir die beroep bedank. Daarna het die Volksraad die Amerikaanse sendeling, Daniel Lindley, aangestel. Smit se ontslag is o.a. veroorsaak deurdat hulle besware teen sy ordening geopper het. Tot 1863 het hy en sy vrou te Pietermaritzburg bly woon. Sy is op 27 Julie van daardie jaar oorlede, en hy agt dae later.

Behalwe as leraar en herder is die naam van Erasmus Smit deur sy bekende dagboek vir die nageslag bewaar gebly. Van “den ouden Leraar Smit” het nou wyle ds. J.D. Kestell o.a. aangeteken “Regs van die voorhuis…was sy studeervertrek. Daarin het die ou vader sy tyd met lees, haas onafgebroke, deurgebring … Hoe goed onthou ek die kamer. Teen een van die mure was ’n rak met boeke van alle formate, maar wat my getref het, was die groot bande. Foliante! Behalwe State-bybels het ek nêrens elders sulke enorme boeke gesien nie. Oupa Smit het rustig gesit en lees”.

Erasmus het gerus en hom vir die Trek na die Vaderhuis voorberei.

Hy het die Voortrekkers geestelike steun gegee

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck