EVE BOSWELL (1922-1998)
Nie alle kunstenaars wat Afrikaanse volksmusiek gesing het, is in Suid-Afrika gebore of selfs Afrikaans magtig nie.
Een voorbeeld is Eve Boswell. Eva Edith Keleti is op 11 Mei 1922 in Boedapest, Hongarye, gebore en het in 1939 saam met die Boswell-sirkus na Suid-Afrika gekom. Sy het later haar van na Boswell toe verander. Haar ouers was professionele musikante wat wêreldwyd getoer het. Sy het in Switserland skoolgegaan en later klavieropleiding in Boedapest gekry, waarna sy met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog saam met die sirkus na Suid-Afrika gekom het.
In 1949 het Geraldo (Gerald Bright) haar oorreed om na Brittanje toe te gaan en in sy orkes te sing. Die groep is gereeld oor die BBC gehoor, maar toe hul paaie in 1952 skei, het sy besluit om ’n sololoopbaan te volg. In daardie jaar het sy haar eerste treffer behaal met “Sugarbush”, wat sy gedeeltelik in Afrikaans gesing het. Sy kon nie Afrikaans praat nie, maar het geleer om in die taal te sing deur die woorde foneties uit te spreek. In 1956 het sy weer die trefferslyste gehaal, hierdie keer met “Pickin’a chicken”, ’n Suid-Afrikaanse wysie met nuwe woorde. Op haar album Sugar and spice, wat in 1956 vrygestel is, het sy tien liedjies in nege verskillende tale gesing. Sy het egter ook ’n aantal Afrikaanse volksliedjies opgeneem, onder meer “Sarie Marais” in 1956, “Boegoeberg se dam” in 1959 en “Old Johnnie Goggabie”, ’n vertaling van “Rokkies wou sy dra” in 1952. Op haar album Goeie nuus/Good news, wat in 1962 vrygestel is, het ’n keurspel van “Die Stellenbosse boys” (eintlik “Bobbejaan klim die berg”), die “Graskop-polka” en “Daar lê die ding” voorgekom, asook “Mamma ’k wil ’n man hê”. Sy het “The little shoemaker” in 1954 vrygestel, en Petula Clark, een van die gewildste Britse sangeresse van die 1960’s, het dit in dieselfde jaar opgeneem. Dit is glo gebaseer op die Franse liedjie “Le petit cordonnier”, maar enigiemand wat Afrikaanse liedjies ken, sal dadelik die wysies van “Hier’s ons weer” en “Wanneer kom ons troudag Gertjie” daarin hoor.
Lank voordat televisie na Suid-Afrika gekom het, het sy gereeld in televisieprogramme opgetree, onder meer in The Ed Sullivan Show saam met onder meer Nat King Cole, Dean Martin en die klavierspeler Liberace. Sy het aktief in die Britse musiekbedryf betrokke gebly totdat sy in 1960 na Suid-Afrika teruggekeer het nadat sy van die toneel verdwyn het soos mense se musieksmaak in die laat 1950’s en vroeë 1960’s só verander het dat sy nie meer in aanvraag was nie.
Sy is op 14 Augustus 1998 in die ouderdom van 76 jaar in Durban oorlede.
Daantjie Badenhorst