EWOLD VAN BERGEN (1929-2024)

Ewold van Bergen was die eerste, en tot dusver, enigste Suid-Afrikaanse renjaer wat ’n internasionale tydren kon wen.

Ewold Leonard van Bergen is op 2 Augustus 1929 in Johannesburg gebore en na skool het hy drie jaar lank in meganiese ingenieurswese gestudeer. Hy het sy motorsportloopbaan in 1954 met ’n 1936 BMW 319/2 begin. Hy het ’n drukaanjaer aan die enjin gemonteer en die motor se kraglewering het van 36 kW na 82 kW verhoog. Gelukkig is die remme opgeknap en die motor kon ’n topsnelheid van 180 km/h behaal. Aangesien onderdele onverkrygbaar was, moes hy sy eie onderdele vervaardig.

In 1960 is die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap ingestel en Van Bergen was die eerste kampioen, saam met sy navigator Alan van Niekerk. Die motor waarmee hulle die kampioenskap gewen het, was ’n Austin A 40 Farina, wat as ’n onwaarskynlike tydrenmotor beskou is. Nadat die vervaardigers besluit het om die motor aan die Suid-Afrikaanse mark te onttrek, moes hy ’n ander plan maak. Hy het besluit op die Datsun Bluebird, en sy lang verbintenis met Datsun-Nissan het hier begin. Weer eens het dit gelyk asof hy ’n motor gekies het wat nie juis geskik vir motorsport was nie; hy het immers die motor in kleurryke taal as aaklig beskryf. Sy teenstanders het maar net hul koppe geskud, maar Van Bergen het die motor se potensiaal raakgesien en besef dat die motor verder ontwikkel kon word. Die motor se driegang-handratkas was ’n groot nadeel, maar Van Bergen het ’n viergangratkas, met die rathefboom op die vloer eerder as aan die stuurkolom, in die motor gemonteer. In 1963 het hy die motor na Europa geneem om aan die Monte Carlo-tydren deel te neem en terwyl hy besig was met sy finale voorbereidings, het ’n ingenieur van Nissan in Japan nader gestaan en die motor van naderby bekyk. Hy is ’n betrekking as Nissan se tegniese direkteur aangebied, maar omdat hy aan die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde verbonde was en destyds aan ’n ingewikkelde projek gewerk het, het hy die aanbod van die hand gewys. Hy het wel 22 verbeteringe vir die motor voorgestel en al hierdie verbeteringe is vir latere modelle aangebring.

Van Bergen het in 1964 sy tweede tydrenkampioenskap gewen, hierdie keer met Rex Wakeley-Smith as navigator, en op die ou einde het hy voor volgehoue druk om ’n betrekking by Nissan in Japan te aanvaar, geswig. In 1965, die jaar toe hy sy derde tydrenkampioenskap gewen het, het hy die tegniese adviseur in Nissan se eksperimentele ingenieursweseafdeling geword. Hy was die enigste persoon van Westerse herkoms wat hierdie posisie tot op daardie stadium beklee het. Sy taak was om verbeteringe onder moeilike Suid-Afrikaanse tydrentoestande te toets met die oog op die aanbring van verbeteringe op latere produksiemodelle. Die program was so suksesvol dat hy opgehou tel het hoeveel verbeteringe vir latere produksiemodelle aangebring is, en hy het gesê dat tydrenne die ideale manier was om ’n motor onder werklike padomstandighede te toets.

Toe hy in 1965 besig was om vir sy tweede Monte Carlo-tydren voor te berei, het hy die hulp van ’n tegniese vertaler nodig gehad, en ’n aantreklike jong dame het tot sy redding gekom. Sy het hom later met die roetenotas gehelp en hy was op die ou einde so beïndruk dat hy in 1966 met haar getroud is. Minota Ann van Bergen het daarna sy voltydse navigator geword. In 1970 het hulle die eerste, en laaste, egpaar geword wat die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap gewen het, maar dit was nie hul grootste prestasie van daardie jaar nie. Hy het die Datsun 1600 SSS, waarmee hulle daardie jaar deelgeneem het, na Portugal verskeep en aan die Volta a Portugal-tydren deelgeneem. Hulle het die tydren gewen, en daarna is hulle as helde in Portugal beskou. Twee Portugese tydrenjaers het daarna jare lank met ’n replika van dieselfde motor aan die nasionale geskiedkundige tydrenkampioenskap deelgeneem. In Augustus 1971 het die Van Bergen-egpaar hul uittrede uit tydrenne aangekondig, maar vir oulaas met die Datsun 1600 SSS aan die TAP-tydren van Portugal deelgeneem.

Na baie jare en ’n gesukkel om onderdele te kry, is Van Bergen en sy BMW herenig en op 92-jarige ouderdom het Van Bergen die geleentheid gekry om met die motor om die Killarney-renbaan in Kaapstad te bestuur.

Op 17 Oktober 2024 is Van Bergen in die ouderdom van 95 jaar oorlede. Hy word oorleef deur sy vrou, vier kinders en sewe kleinkinders.

Daantjie Badenhorst