FA VENTER (1916-1997)
FA Venter was ’n Afrikaanse skrywer wat in die twintigste eeu verskeie romans, onder meer met die geskiedenis as tema, die lig laat sien het.
Francois Alwyn Venter is op 27 November 1916 in Hopetown gebore en sy ouers het in die distrik Britstown geboer. Hy het aanvanklik by plaasskole skoolgegaan maar later sy skoolloopbaan aan die Sekondêre Skool Strydenburg voortgesit. Hy het in 1934 aan die Hoërskool Hopetown gematrikuleer, waarna hy sy BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Tydens sy studentejare het hy op die redaksie van Die Stellenbosse Student, waarvan hy later onderredakteur geword het. Onder sy mederedaksielede was Ernst van Heerden, Gerhard Beukes, WA de Klerk en Audrey Blignault. Hy het sy studies vir sy MA-graad om finansiële redes halfpad gestaak en in 1938 het hy in Kaapstad deel van die redaksie van Die Suiderstem geword, waar Abraham H Jonker en EB Grosskopf onder sy kollegas was.
In 1941 het hy by Die Volkstem in Pretoria as joernalis gewerk en in dieselfde jaar is hy met Stella Muller van Fraserburg getroud. Twee kinders, ’n seun en ’n dogter, is uit die huwelik gebore. Na sy troue het hy na Die Suiderstem in Kaapstad teruggekeer; hy is bevorder tot parlementêre verslaggewer en het later waarnemende nuusredakteur geword. In 1946 het hy die redakteur van Die Suidwes-Afrikaner in Windhoek geword en in 1952 het hy hoof van inligting van die Verenigde Party in Johannesburg geword. Hy het ’n tyd lank aan die politiek deelgeneem; in Suidwes-Afrika het hy ’n verkiesing as kandidaat van die Verenigde Suidwes-Party verloor en in 1953 het hy die stryd as kandidaat van die Verenigde Party in Kempton Park verloor. Hierna het hy by Blaar Coetzee, destydse eienaar van Tafelberg-Uitgewers en uitgewer van verskeie tydskrifte, gaan werk. In hierdie tyd het die gesin eers in ’n woonstel in Hillbrow gewoon en later in ’n huis in Linden.
In Januarie 1960 het hy hom op die familieplaas Constantia in die distrik Vanwyksvlei tussen Kenhardt en Carnarvon in die Noord-Kaap waarheen sy ouers in die 1930’s verhuis het, gaan vestig. Hier het hy met merinoskape geboer terwyl hy byna voltyds geskryf het. Die strawwe klimaat en veral die uitwerking wat dit op sy vrou se gesondheid gehad het, het hom genoop om die plaas in 1967 te verlaat en Strand toe te verhuis. Hy het voltyds begin skryf en verskeie boeke, opdragwerke, vertalings, kortverhale, vervolgverhale en liefdesverhale gelewer. Hy het egter besluit om weer te gaan boer en in 1970 het hy in die distrik Vredendal op die plaas Cirene in die Olifantsriviervallei met druiwe begin boer. Die volgende jaar het hy egter ’n hartaanval gekry en toe hy en sy vrou vier jaar later elkeen weer ’n hartaanval gekry het, het hulle die plaas verkoop en in die Strand gaan aftree. Nogtans het hy hom steeds voltyds aan sy skryfwerk gewy.
In 1990 het hy ’n beroerteaanval gekry; hy het egter merkwaardig herstel en in sy boek Die keer toe ek my naam vergeet het het hy dit volledig beskryf. Met sy herstel het hulle na ’n tehuis vir bejaardes in die Strand verhuis, en in 1994 is sy vrou oorlede.
Hy was lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunden in Leiden, en was ook lid van die Afrikaanse Skrywersgilde. Hy het egter in 1987 bedank uit protes teen die Gilde se beplande ontmoeting met die ANC, wat hy as ’n “Marxistiese geweldsorganisasie” beskou het. Aan die begin van 1989 het hy ’n polemiek in Kaapse koerante veroorsaak toe hy in ’n sterk bewoorde brief beswaar gemaak het teen die toepassing van apartheid op strande en die manier waarop “gekleurde” mense van “blanke” strande verwyder is.
Reeds van skooldae af wou hy ’n skrywer word, en hy het groot bewondering vir Sangiro se Uit oerwoud en vlakte gehad. Hy het op skool probeer om ’n soortgelyke boek te skryf met onder meer akkedisse, meerkatte en skilpaaie as karakters, maar hy kon nie ’n uitgewer kry nie. Een van sy kortverhale is egter deur Die Landbouweekblad raakgesien en hy is een pond, sewentien sjielings en ses pennies daarvoor betaal. Hierna was daar geen keer aan hom nie, en op die ou einde het hy sy debuut met die jeugroman, Die geheim van die berg, gemaak. In 1950 het sy eerste roman, Eenderse morge, verskyn. Dit het die verhaal vertel van die verwydering en verbittering van die Tweede Wêreldoorlog tussen twee Boeregesinne met verskillende politieke standpunte wat in hul boerdery van mekaar afhanklik was.
Man van Ciréne wat in 1957 verskyn het, het as agtergrond die Bybelse vermelding van Simon van Ciréne, die man wat Jesus se kruis gedra het, geneem. Die Bybelse gegewe was egter skraal; dit het Venter toegelaat om sy verbeelding ruimskoots ter aanvulling te gebruik. Die roman is in drie dele verdeel; dit het begin waar Simon ’n Hebreeuse landbouer was en het geëindig waar hy, net soos Jesus, aan ’n kruis sou sterf.
Venter se bekendste, en mees omvangryke werk, was die tetralogie oor die Groot Trek. Hierin het hy hierdie geskiedenis van die begin tot die einde behandel deur beligting op die lotgevalle van ’n aantal enkelinge. Hy het meestal daarin geslaag om die dramatiese gebeure wat so ’n groot invloed op die geskiedenis gehad het, in ’n strak, onmiddellike styl weer te gee. Geknelde land het op die oosgrens afgespeel waar die grensboere en die Xhosas in 1834 in ’n oorlog gewikkel was. Die Dreyer-gesin van Grensplaas was die hoofkarakters in hierdie tetralogie. Die hoofkarakter, Rudolf Dreyer, het aanvanklik geweier om die plaas te verlaat selfs nadat die Xhosas dit verwoes het en sy oudste seun Fanus vermoor het. Geknelde land het in 1961 die Hertzogprys gewen, en is later in ’n televisiereeks omskep. In Offerland is die gevegte waarin die trekkers betrokke geraak het, beskryf, onder meer dié by Vegkop en Marikwa, en die verhaal sluit op ’n dramatiese wyse af met die skermutseling met die Zoeloes waarin Piet Retief vermoor is. Gelofteland het die hoogtepunt van die spanningslyn in die reeks bereik. By Italeni is ’n Trekkerkommando vir die eerste keer verslaan en die Trekkers het hongersnood, siekte en dood in die gesig gestaar. Nogtans het dit sy hoogtepunt bereik toe die Gelofte afgelê is en die Zoeloes tydens die Slag van Bloedrivier verslaan is. Bedoelde land was die laaste deel van die tetralogie, waarin die gebeure tydens die slag van Congella en die mislukking by Boomplaats onder meer plaasgevind het. Die deurlopende hoofkarakter, Rudolf Dreyer, het begin dink dat vryheid ’n onbereikbare ideaal was en dat die bedoelde land na ’n hersenskim begin lyk het. Op die ou einde het hy wel sy vryheid gevind.
Benewens die pryse wat hy met sy boeke gewen het, is daar ook op ander maniere aan hom hulde gebring. In 1981 het die Universiteit van Port Elizabeth die DLitt Hon-eredoktorsgraad aan hom toegeken en in 1993 is ereburgerskap van Strydenburg aan hom toegeken. Daarby is ’n straat in Vanwyksvlei na hom vernoem. In Julie 1996 het die FAK aan hom ’n oorkonde oorhandig vir sy bydrae tot die bekendstelling en bevordering van die Afrikaner se geskiedenis in sy boeke. Sy werk is onder meer in Duits, Engels, Sweeds, Nederlands en Spaans vertaal.
Venter is op 8 Julie 1997 in die ouderdom van 80 jaar oorlede.
deur Daantjie Badenhorst