FRANCI SWANEPOEL (1972-2022)
Franci Swanepoel was ’n bekende aktrise en televisiepersoonlikheid.
Franci is op 24 Julie 1972 in Johannesburg gebore en was die dogter van die bekende radio-omroeper Nic Swanepoel en sy vrou Marida, een van die stigters van kykNET. Nic is in 1998 aan ’n beroerte oorlede. Sy het in die vermaaklikheidsbedryf grootgeword en op vyfjarige ouderdom reeds aan radiodramas deelgeneem. Nadat sy aan die Hoërskool Linden gematrikuleer het, het sy drama aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer.
As dramastudent het sy in produksies soos Woman behind bars in 1993 en Die renosters en Ipekonders in 1994 gespeel. Sy was ook deel van die ATKV se Kampustoneel met Die vampier. Sy het in 1998 haar professionele debuut op die verhoog in Droom gemaak.
Sy was die vervaardiger en een van die aanbieders van die program Fiesta op kykNET en sal veral onthou word vir haar rol as Toeks Joubert in die gewilde sepie Binnelanders. Haar eerste televisierol was as Gesie in Koöperasiestories in 1985, toe sy nog op skool was. Daarna het reekse soos Die vierde kabinet, Iemand om lief te hê en Arsenaal op SABC gevolg, asook kykNET-dramareekse soos Sterlopers, Donkerland en Bloedbroers. Hoewel sy haar hoofsaaklik op drama toegespits het, het sy ’n rol in die komediereeks Elke skewe pot op kykNET vertolk. Sy was ook te sien in die dramareeks Spoorloos: Steynhof, en sommige tonele is verfilm by die skool waar sy gematrikuleer het. Verder was sy te sien in rolprente soos Lien se lankstaanskoene, Abraham, Stroomop en Pad na jou hart. Sy was ook ses jaar lank die dialoogafrigter van die kykNET-sepie Getroud met rugby, wat in September vanjaar ten einde geloop het. Sy was glad nie aktief op sosiale media nie, en kon nie verstaan hoekom mense die heeltyd in die kollig moet wees nie.
Sy is op 16 Oktober 2022 skielik in haar slaap oorlede maar die presiese oorsaak van haar dood is nog nie vasgestel nie. Volgens haar lewensmaat, adv. Max Baer, was daar niks met haar gesondheid verkeerd nie.
deur Daantjie Badenhorst