FRANZ MARX (1942-2021)
Die bekende akteur, draaiboekskrywer en televisie-en rolprentregisseur Franz Marx is op 26 September 2021 in die ouderdom van 79 jaar oorlede.
Franz Marx is op 21 Maart 1942 gebore en het in 1968 sy debuut as akteur gemaak in die rolprent Jy is my liefling teenoor Min Shaw. Die temaliedjie is al ongeveer dertig jaar tevore geskryf maar dit het opnuut gewild geword nadat dit in dié rolprent gebruik is. Nog ’n rolprent waarin hy dieselfde jaar verskyn het, was Dr. Kalie, waarin hy saam met Siegfried Mynhardt, Francois van Heyningen, Wena Naudé, Reinet Maasdorp en June Seymour te sien was.
Danie Bosman was seker die enigste Afrikaanse liedjieskrywer wie se lewensverhaal in ’n rolprent vertel is. Franz het die titelrol gespeel, en die gebruik was destyds om ’n sanger se stem vir die karakter se sangstem oor te klank. In hierdie geval was dit Lance James se stem. Min Shaw het weer teenoor hom gespeel. Onder die ander akteurs in dié rolprent was Louis van Niekerk, Sann de Lange, Siegfried Mynhardt, Don Leonard en Brian O’Shaugnessy. Hierdie rolprent, wat in 1969 vrygestel is, was die begin van Min Shaw en Lance James se suksesvolle sangloopbaan. Die volgende jaar het Franz drie rolle in een vertolk met Die drie Van der Merwes. In 1973 was hy in twee rolprente te sien, naamlik Aanslag op Kariba en Groetnis van die Eerste Minister.
Franz se groot deurbraak as draaiboekskrywer het in 1975 gekom toe hy verantwoordelik was vir die skitterende Jakkalsdraai se mense, waarin Wena Naudé die hoofrol gespeel het van ’n weduwee op ’n myndorp wat mettertyd haar twee oorblywende seuns in ’n mynramp verloor het. Lieb Bester, wat destyds ’n jong akteur was, was saam met Jan Bruyns, Wilna Snyman, Magda Beukes, Annette Engelbrecht en Dana Niehaus deel van die rolverdeling. Franz het nie net die draaiboek geskryf nie, maar ook die regie behartig. In 1976 het hy nie net die rol van Clark Ashley in Die vlindervanger vertolk nie, maar hy was ook die regisseur en draaiboekskrywer.
Dit het destyds ook soms gebeur dat radiovervolgverhale verfilm is, en weer eens was Franz in elke opsig betrokke by een daarvan. Dit was aand en dit was môre was ’n vervolgverhaal wat deur Jac J Brits geskryf is. Franz het die draaiboek vir die rolprent geskryf, hy het die regie behartig en die rol van Petrus Verwey vertolk. Prof. Anna Neethling-Pohl was sy ouma in die rolprent, en ander bekendes wat te sien was, was Magda Beukes, Lerina Erasmus en Heinrich Marnitz.
Die eerste televisiereeks waarvan Franz die regisseur was, was Skooldae, wat in 1981 uitgesaai is. Ben Kruger het die rol van die hartebreker, mnr. Christo de Wet, vertolk, terwyl Dulcie van den Bergh, Theunis van Rooyen, Marie Pentz en ’n paar jong akteurs soos Annette Hartman, Elizabeth Archer en Deon Coetzee ook te sien was. Twee verdere reeks het gevolg. Nog ’n suksesvolle televisiereeks waarvan Franz die regisseur was, was Matewis en Meraai, na aanleiding van Mikro se bekende roman; Louis van Niekerk en Annette Engelbrecht het die hoofrolle vertolk.
In 1985 het een van die suksesvolste Afrikaanse televisiereekse tot nog toe die lig gesien. Franz was die draaiboekskrywer en regisseur van Agter elke man, waarin Dulcie van den Bergh onsterflike roem vir haar rol as tant Stienie verwerf het. Die veteraan-rolprentregisseur Pierre de Wet was aan die begin van die reeks te sien as Albert Jooste, en die rol van tant Stienie se dogter Leana, wat vir Albert gewerk het en teen die einde van sy lewe met hom getroud was, is deur Cyrilene Slabbert vertolk. Ander bekendes in die rolverdeling van die begin af was Christine Basson, André Verster, Rika Sennett, Anna Richter-Visser, Eghard van der Hoven en Deon van Zyl. In die tweede reeks het nog ’n akteur wat later ook groot bekendheid en omstredenheid as sanger verwerf het, by die reeks aangesluit. Franz het Steve Hofmeyr reeds in die rolprent Kampus ’n kans gegee om sy talent ten toon te stel, maar sy rol as die skurk Bruce Beyers was sy groot deurbraak in die vermaaklikheidsbedryf en die res is geskiedenis. Die reeks was só suksesvol dat ’n rolprent daarvan in 1990 vrygestel is; heel gepas het Steve die temaliedjie geskryf en gesing.
Dit was egter Franz se volgende projek wat televisiegeskiedenis in Suid-Afrika gemaak het. Egoli – plek van goud, was Suid-Afrika se eerste daaglikse sepie en sedertdien het 7de Laan, Binnelanders, Getroud met rugby, Villa Rosa en Suidooster gevolg. Voordat hy Egolo-plek van goud geskep het, het hy eers na die buiteland gereis om die sepie-medium te bestudeer Die sanger Gé Korsten, wat toe al ook ’n gevestigde akteur was danksy rolprente soos Hoor my lied, Lokval in Venesië en Lied in my hart, het die rol van Walt Vorster vertolk. Onder die ander gevestigde akteurs wat byna deurentyd deel van die reeks was, was Hannah Botha, Sharleen Surtie-Richards, Hennie Smit, Johan Scholtz, Illse Roos, Ernst Eloff en Brümilda van Rensburg. Franz het egter nie gehuiwer om jong talent aan die kykers bloot te stel nie; Egoli het aan onder meer Hannes van Wyk, Catriona Andrew, David Vlok, Lindie Stydom, Mandi Baard en Natasha Sutherland hul deurbraak besorg. Egoli was tot in 2010 van Maandae tot Vrydae elke dag op M-Net te sien; dit is seker Franz se grootste nalatenskap.
In 2017 het hy ’n totale nuwe rigting ingeslaan toe sy eerste, en enigste, spanningsroman, Spieëlbeeld, vrygestel is.
In Julie 2021 is Marx positief vir Covid-19 getoets. Hy het vroeër ’n vorm van borskanker gehad, maar een van sy longe is deur bestraling beskadig. Hoewel hy in Stellenbosch gewoon het, het hy later by sy broer in Pretoria tuisgegaan en al hoe meer agteruitgegaan totdat hy weens komplikasies van dié siekte oorlede is. Hy word oorleef deur ’n seun, ’n aangenome dogter en ’n kleinkind.
deur Daantjie Badenhorst