FRITS GAUM (1940-2024)

Dr. Frits Gaum was ’n emeritus-predikant van die Nederduits-Gereformeerde Kerk en voormalige redakteur van Die Kerkbode.

Frederik Malherbe Gaum is op 25 April 1940 in Germiston aan die Gautengse Oos-Rand gebore en het aan die Hoërskool Vryburger in Primrose gematrikuleer. Hy het aan die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van die Oranje-Vrystaat gestudeer. Hy het in 1966 predikant op Kuruman geword en in 1969 het hy geskiedenis gemaak deur die eerste predikant van dié Noord-Kaapse dorp te word wat ’n doktorsgraad verwerf het toe hy sy DLit-graad behaal het. Sy proefskrif het gehandel oor die literêre gehalte van die gesange wat destyds in die NG kerk gebruik is. In 1984 het hy ’n meestersgraad in joernalistiek verwerf met ’n skripsie oor die eise van geslaagde kerklike joernalistiek.

Hy het net twee gemeentes bedien; naamlik Kuruman van 1966 tot 1969 en daarna Wynberg tot 1971. In laasgenoemde jaar het hy die eerste uitvoerende direkteur van Bybelkor, wat vandag as Bybel-Media bekendstaan, op Wellington geword. In 1986 is hy aangestel as redakteur van Die Kerkbode en van 1989 af was hy die hoofredakteur van die NG Kerk se kerklike publikasies, naamlik Die Kerkbode, Die Voorligter en Jaarboek van die Nederduits-Gereformeerde Kerke. Van 1993 af was hy die uitvoerende voorsitter van Christen-Netwerk-Media.

In breë kerklike verband was hy van 1990 tot 1998 die skriba van die Algemene Sinode van die NG Kerk en moderator van die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland in 1995. Hy is mettertyd ingeskakel by die Groote Kerk, die gemeente waarvan die eerste redakteur van Die Kerkbode, ds. Abraham Faure, 150 jaar tevore predikant was.

In 1997 was hy die opsteller van die kerk se belydenis oor sy betrokkenheid by en ondersteuning van apartheid, getiteld Die verhaal van die NG Kerk se reis van apartheid, wat uiteindelik ook op die tafel van die Waarheids-en-Versoeningskommissie beland het.

Hy was ook die skrywer van die roman Lente van ’66, asook Nie van hoorsê nie, Here en Fluit-fluit, die kerk is uit?, wat in 2012 met die Andrew Murray-prys bekroon is. Hy was ook die hoofredakteur van Die Christelike Kernenseklopedie, wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Pieter van Drimmelen-medalje in 2009 gewen het.

In 2019 het dr. Gaum se seun, ds. Laurie Gaum, saam met wie hy die boek Praat verby grense geskryf het, ’n hofsaak gewen waarin die NG Kerk se besluit om huwelike van mense van dieselfde geslag te verbied, ter syde gestel is. Daar is bevind dat hierdie verbod ongrondwetlik was en die kerk het geen keuse gehad as hom weer in die amp van predikant toe te laat nie.

Hy is op 1 Oktober 2024 in die Netcare-hospitaal in Kuilsrivier aan kanker oorlede. Hy word ook oorleef deur sy vrou Henda, asook twee ander kinders, André en Lina en twee kleinkinders.

Daantjie Badenhorst