GAWIE CILLIÉ (1910-2000)

Prof. Gawie Cillié was ’n Suid-Afrikaanse astrofisikus, orrelis, koorleier, eertydse voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) en voorsitter van die konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch.

Gabriël Gideon Cillié is op 13 Julie 1910 op Stellenbosch gebore en om van hom van sy pa, wat dieselfde doopname en noemnaam as hy gehad het, te onderskei, het hy ook as “Klein-Gawie” bekendgestaan. Hy het aan die Hoër Jongenskool van Paul Roos op Stellenbosch gematrikuleer, waarna hy sy natuurwetenskaplike opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang het. Hy het in 1928 en 1929 onderskeidelik sy BSc- en MSc-grade verwerf. Vanaf 1930 tot 1933 het hy met ’n Rhodes-beurs aan die Universiteit van Oxford in Engeland gestudeer en ’n DPhil-graad in astrofisika behaal. Van 1933 tot 1935 het hy met ’n Commonwealth Fund Fellowship aan die Harvard-Universiteit gestudeer en ’n MA in sterrekunde behaal.

Nadat hy drie en ’n half jaar lank verbonde was aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Pretoria het hy in Julie 1939 ’n betrekking as professor in wiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch aanvaar. Hy het tot in 1975 in hierdie hoedanigheid aangebly. Hy het drie boeke oor die sterrekunde geskryf en hy was sedert 1932 lid van die Royal Astronomical Society in Londen. Nadat hy in die ouderdom van 65 jaar op Stellenbosch afgetree het, het hy en sy vrou na Bloemfontein verhuis, waar hy ’n dosent in kerkmusiek aan die Universiteit van die Vrystaat was.

Niemand het ’n groter bydrae tot gewyde kerkmusiek gelewer nie en sy belangstelling in musiek het parallel met sy akademiese loopbaan geloop. As skoolseun en student op Stellenbosch het hy klavierlesse gehad en harmonie-oefeninge gedoen, maar prof. FW Jannasch se opleiding in orrelspel was vir hom rigtinggewend. Dit het hom met ’n liefde vir gewyde musiek besiel. In Oxford was hy ’n aktiewe lid van die Oxford Bach Choir en ’n orrelstudent van Allchin aan die Royal College of Music in Londen. In Harvard was hy aktief betrokke by G Wallace Woodworth se mannekoor, die Harvard Glee Club. Die opleiding onder prof. Jannasch asook die ervaring van universitêre koorsang was beslissend vir sy loopbaan as musikus.

Van sy aanstelling by die Universiteit van Stellenbosch totdat hy die tuig as kerkmusikus in 1964 neergelê het, was hy prominent in kerkmusiek-kringe. As orrelis van die NG-moedergemeente op Stellenbosch het hy die tradisie van gereelde koorsang tydens eredienste, soggens in die moederkerk en saans in die studentekerk laat herleef. Laasgenoemde deel het weggeval toe die NG-gemeente Stellenbosch-Sentraal in 1959 afgestig het.

Die Kaapse Sinode het dit in 1945 aan sy Kommissie vir Kerkmusiek en Sang opgedra om die Nuwe Halleluja-sangbundel van 1931 deeglik te ondersoek en te keur. Op die eerste vergadering van die breë kommissie is ’n musiek-subkommissie aangestel om die musiek van die Nuwe Halleluja te toets en te sorg dat die liedere wat “nie aan die vereistes van ’n ware kerklied voldoen het nie”, weggelaat sou word uit die bundel wat die een van 1931 sou vervang. Aanvanklik is tweehonderd melodieë vir weglating benoem en later, nadat hulle een vir een aan die kommissie voorgespeel is, is sowat ’n honderd van daardie liedere verwerp. Die woorde van die verwerpte liedere het behoue gebly maar prof. PK de Villiers, AC van Velden en ds. WEH Söhnge is aangestel om nuwe melodieë vir hierdie liedere te komponeer. Baie van hierdie nuwe melodieë het egter nie by lidmate byval gevind nie en in 1959 het ’n derde uitgawe, wat uitgebrei is met die toevoeging van die ou gewilde melodieë as alternatiewe vir die nuwes, verskyn. Daarby is enkele harmonisasies wat volgens musiekkenners onspeelbaar was, deur “beproefde en vereenvoudigde” harmonisasies vervang.

Een van die hoogtepunte van sy tyd as orrelis op Stellenbosch was die ingebruikneming van die gemeente se nuwe orrel op Saterdag 31 Oktober 1953. Die gemeente het al sedert 1948 aandag hieraan gegee maar daar was verskeie struikelblokke wat oorwin moes word, onder meer die verswakking van die destydse pond wat ’n orrel onbekostigbaar gemaak het en die mislukte poging om ’n orrel uit Brittanje te bestel. Die meeste pype en ander onderdele is by die Duitse firma Aug. Laukhoff bestel en die orrelbouers Cooper, Gill & Tomkins het die orrel in die kerk gebou. Tydens die inwyding van die orrel, die eerste nuwe een in 95 jaar, was daar ’n kort diens gevolg deur orrelspel deur verskeie genooide orreliste. Op Sondagaand 1 November 1953 na die aanddiens was daar ’n uitvoering deur die Stellenboschse kerkkoor wat werk van al die bekende Suid-Afrikaanse komponiste se werk uitgevoer het. Vir die eerste keer is daar op Stellenbosch ’n orrel met drie speeltafels gehoor.

Hy het die uiters skrale Afrikaanse kerkkoorrepertorium uitgebrei met vertalings, verwerkings van liturgiese liedere en oorspronklike komposisies. Hy het sy werk uitgebrei met geskrifte, medewerking aan die hersiening van die Nuwe Halleluja-sangbundel van 1951, die samestelling van die Afrikaanse Koraalboek van 1956, die hersiening van Afrikaanse Psalmwysies en die voorgestelde hersiening en uitbreiding van die Afrikaanse Gesangeboek. Hy het hom ook beywer vir die versameling van liederewysies, waarvan sommige weer in omgang gebring is.

Dit was onmoontlik om sy loopbaan as akademikus met dié van kerkorrelis te kombineer en in 1951 en 1955 het hy besluit om sy leierskap van Stellenbosch se Kweekskoolkoor en die Universiteitskoor van Stellenbosch aan iemand anders te oorhandig. In 1977 is hy aangestel as dosent in kerkmusiek aan die Universiteit van die Vrystaat. Een van sy opdragte was ’n publikasie wat die agtergrond van die Gesange wat in die hersiene Psalm-en-Gesangeboek van 1978 sou verskyn, sou bespreek. Hy moes eers aandag gee aan die samestelling van die Koraalboek, die weergawe vir begeleiers van hierdie publikasie, wat hy met die hulp van kollegas elders in die land kon doen. Toe hierdie werk in Oktober 1978 afgehandel is, het hy baie van sy tyd aan die navorsing van die herkoms van Afrikaanse Gesange gewy. Die vrug van sy arbeid het in 1982 by NG Kerk-uitgewers verskyn onder die titel Waar kom Afrikaanse gesange vandaan? Nie net het hy die geskiedenis van Afrikaanse Gesange behandel nie, hy het ook besonderhede van elk van die 353 Gesange gegee.

As koorleier, maar ook verwerker van Afrikaanse volksliedere was Cillié jare lank die spil waarom Afrikaanse koorsang gedraai het. Hy was van 1946 af lid van die FAK se musiekkommissie en het skeppend meegewerk aan die hersiening van die 1961-uitgawe van die FAK-Sangbundel. In 1964 het hy in sy pa se plek as lid van die FAK se hoofbestuur geword. In Julie 1972 het die FAK hom as ondervoorsitter aangewys en in 1979 het hy die voorsitter geword. Hy het tot 1984 in hierdie amp gedien en hom aan kulturele samewerking tussen Afrikaners gewy. Op 28 April 1965 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n erepenning aan hom toegeken vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. Op 19 Augustus 1994 is sy publikasie Afrikaanse liederewysies: ’n verdwynende kultuurskat, tydens die 21ste jaarkongres van die Musikologiese Vereniging van Suider-Afrika bekendgestel.

Nadat hy in 1998 ’n ernstige motorongeluk oorleef het, het hy die laaste twee jaar van sy lewe in die Odeon Towers-versorgingseenheid in die Strand gewoon. Hy is op 15 Junie 2000 oorlede, ’n maand voordat hy negentig jaar oud sou word. Sy vrou is reeds in 1990 oorlede, en hy is oorleef deur sy twee seuns en vyf kleinseuns.

Daantjie Badenhorst