GEORGE BALLOT (1946-2023)

Die bekende Afrikaanse akteur George Ballot is op Saterdag 30 September 2023 in die ouderdom van 77 jaar oorlede.

Ballot is op 3 September 1946 gebore en het drama onder prof. Anna Neethling-Pohl aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Hy het hom in 1968 by die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) aangesluit. Onder die verhoogproduksies waaraan hy deelgeneem het, was Siener in die suburbs, Die seemeeu, Die rebellie van Lafras Verwey, ’n Seder val in Waterkloof en Matewis en Meraai.

In 1973 het hy sy rolprentdebuut gemaak in Die sersant en die Tiger Moth, wat ook Tobie Cronjé se eerste rolprent was. Een van die bekendste rolprente waarin hy te sien was, was Tant Ralie se losieshuis, waarin hy saam met Wena Naudé, Siegfried Mynhardt, Sann de Lange en Riana Pienaar gespeel het. Daarna het ander rolprente soos Met liefde van Adele, Vergeet my nie, Grensbasis 13 en Blink Stefaans gevolg.

Sy eerste televisiereeks was TJ 7, wat in 1978 vrygestel is en die laaste reeks was waarin Wena Naudé gespeel het voordat sy oorlede is. Daar is egter een rol wat hom volksbesit gemaak het, naamlik Skollie in die reeks Vyfster, waarin hy die rol van die gevangene Skollie vertolk het. Twee rolprente gebaseer op die televisiereeks, naamlik Skollie, en Vyfster: die slot, is na aanleiding van die sukses van hierdie reeks vrygestel. Later was hy in reeks soos Koöperasiestories, Skoppensboer, Arsenaal, Meeulanders en Die Manakwalanners te sien.

Hy het in die 1990’s as akteur uitgetree om ’n kunsgalery te bedryf. Die legendariese regisseur Koos Roets het hom in 2014 gevra om ’n rol in die rolprent Faan se trein te vertolk, maar hy het dit van die hand gewys.

Hy is dood in sy huis aangetref nadat sy buurvrou onraad vermoed het. Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie, maar hy het blykbaar geruime tyd met sy bloedsomloop gesukkel.

deur Daantjie Badenhorst