GIDEON FAGAN (1904-1980)
Gideon Fagan was ’n Suid-Afrikaanse komponis en dirigent.
Hy is op 3 November 1904 in Somerset-Wes gebore en sy musiekopvoeding het onder toesig van sy broer Johannes plaasgevind, wat vir hom privaat lesse in klavier, musiekteorie en harmonieë gereël het. Hy het die Suid-Afrikaanse Musiekkollege in Rosebank, wat vandag deel van die Universiteit van Kaapstad is, van 1916 tot 1920 bygewoon Hy het nie ’n graadkursus gevolg nie; hy het eerder gespesialiseer in kontrapunt, harmonie, komposisie, bladlees en orkestrasie, alles onder leiding van prof. WH Bell. Hierna het Fagan nog vier jaar lank aan die Royal College of Music in Londen gestudeer. Met dirigeerkunde as sy hoofvak het hy die hoogste graad (sewe ster) behaal. Hy was destyds die jongste student wat in die Parry-operateater gedirigeer het en ook die eerste wat beroepskonserte by die Trinity College of Music se Weldoenersfondskonserte gedirigeer het – die Koninklike Filharmoniese Orkes, die Albert Hall, die Queen’s Hall en die Londense Simfonieorkes.
In 1926 het hy na Suid-Afrika teruggekeer maar omdat daar beperkte geleenthede in sy gekose beroepsrigting in Suid-Afrika was, keer hy ’n jaar later terug in Londen. Hy het tot in 1949 in Londen gewoon, waar hy gedirigeer het, musiekverwerkings en orkestrasie behartig het en musiek vir rolprente en teateropvoerings gekomponeer het. Musiekuitgewers het graag van Fagan se werk gebruik gemaak. Onder die skuilnaam Albert Diggenhof het hy verwerkings van Afrikaanse volksliedjies vir die platemaatskappy His Master’s Voice, asook vir die BBC, gemaak. Na 1936 het hy goeie aansien geniet as gasdirigent, as komponis van populêre en geleentheidsmusiek en as musikale direkteur tydens opnames, onder meer van sy eie musiek. Van die werke wat onder sy spelleiding uitgevoer is, was “The Glass Slipper” deur H en E Farjoen en die suksesvolle “Song of Norway”. Hierna is hy aangestel as die dirigent van die BBC se Noordelike Orkes in Manchester maar hy het na drie jaar uit dié pos bedank.
In 1949 het hy ’n kontrak met die Johannesburgse Stadsraad onderteken om die Stadsorkes drie jaar lank te dirigeer as tweede dirigent van Frits Schuurman. Hierdie kontrak is eindelik tot drie jaar en ses maande verleng. In hierdie tyd het hy konserte, operas, skoolkonserte en toere na afgeleë gebiede gedirigeer. Met die amptelike inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949 het hy die gekombineerde SAUK- en Stadsorkes gedirigeer, asook die massakore wat in die monument se amfiteater opgetree het. In 1954 het die SAUK hom as bestuurder van sy musiekafdeling in Johannesburg aangestel; hy was agtereenvolgens bestuurder, musiekraadgewer, bestuurder van musiekbeplanning en waarnemende hoof van musiek, totdat hy in 1964 hoof van musiek geword het. Tydens sy dienstydperk van dertien jaar by die SAUK het hy deurgaans daarna gestreef om Suid-Afrikaanse musiek te bevorder. Hy het opdrag gegee vir Suid-Afrika se eerste radio-opera, The coming of the butterflies, deur Stephen O’Reilly, met die libretto deur Cecil Jubber. Hy het die SAUK Junior-orkes gestig en by geleentheid het hy die Nasionale Simfonieorkes en al die ander Suid-Afrikaanse orkeste gedirigeer.
In 1967 het hy senior dosent aan die SA Musiekkollege geword, hoofsaaklik in orkestrasie en komposisie en tot aan die einde van 1972 in hierdie pos aangebly. Daarna het hy op Bettysbaai gaan aftree en sy tyd aan skeppende werk gewy. In 1973 en 1976 het die nasionale onderwysdepartement sy driejaarlikse prys vir die beste konsertwerk gekomponeer in Suid-Afrika aan Fagan toegeken. Sy prestasie en diens aan musiek is in 1963 erken toe die Switserse Internasionale Instituut vir Kuns en Lettere ’n lewensgenootskap aan hom toegeken het.
Hy is op 20 Maart 1980 in die ouderdom van 75 jaar in Kaapstad oorlede.
Daantjie Badenhorst